Ses dae oor die Drakensberg se rug
Deur Esma le Roux
Die Drakensberg is een van die prima stapbestemmings in Suider-Afrika. Jy móét eenvoudig een keer in jou lewe bo-op daai platorand staan. Esma le Roux en Dawie Verwey het met ’n (dééglik) gepakte rugsak ’n goeie 3 000 m geklim en ses dae lank die Draak in al sy glorie beleef.
“Lang dag?” vra die oom wat pas by die portaal van die Cathedral Peak-hotel uitgestap het. Ek sit buite onder ’n afdak en staar die donkerte in.
Dis negeuur die aand. Reën stuif op die plaveisel voor my neer. Al twee my nat broekspype is op die kniekoppe geskeur. Druppels loop teen my reënbaadjie se mou af, en ek is só moeg ek het nog nie eens my koplig afgehaal nie...
Vyf dae gelede het nege van ons by die Sentinelpiek in die Vrystaat begin klim tot op die Drakensbergse platorand. Toe het ons vier dae lank bo-op gestap tot by die uMlambonja-pas, 66 km verder, waarlangs ons vanoggend afgekom het.
Ons het om agtuur vanoggend begin stap en nóú eers by die hotel aangekom... 12 uur later, druipnat, koud en honger.
“Hoekom?” vra ek myself af terwyl ek ’n klossie klitsgras uit my nat sokkie trek.
Kyk, daar is ’n paar dinge wat mens in jou lewe móét doen – roei op die Oranjerivier, Tafelberg uitklim, deur die Visrivier-canyon stap... party kos ’n bietjie meer bloedsweet as ander, maar die beloning is groot. En die Drakensberg is elke tree werd.
Bron: Barrier of Spears: Drama of the Drakensberg deur R.O. Pearse
6,5 km Dag 1 Swaardra tot bo
Uit die taxi se venster loop die Drakensbergse platorand soos die Groot Muur van Lesotho al langs die R74 tussen die dorpies Bergville en Phuthaditjaba. Van hier af lyk die platorand amper reguit, asof dit met ’n liniaal getrek is.
Reeds voor die Groot Trek in 1837 is daar verwysings na “Drakenberg” of “Draaksberg” op kaarte. Maar niemand is seker waar die bergreeks se naam vandaan kom nie, skryf James Byrom in die boek Barrier of Spears: Drama of the Drakensberg.
Die oorspronklike inwoners van die Drakensberg was groepies Boesmans wat in die valleie en klowe gebly het. Ná die Zoeloe-oorloë in die vroeë negentiende eeu is die gebied egter ontvolk. In daardie dae was die Drakensberg ’n gevaarlike, onbekende plek. “Daar is eenhorings, het die mense geglo,” skryf R.O. Pearse in dieselfde boek.
Ons is laat. Arme Dian Wessels, ’n grafiese ontwerper van Stellenbosch, staan al twee uur en wag by die Sentinelpark se parkeerterrein. Ons spring uit die taxi, laai ons sakke op ons rug en maak vir oulaas bottels vol met kraanwater.
Die Sentinelpiek troon breëbors bo ons uit. ’n Dun voetpaadjie kronkel teen die steilte uit. Daar is ’n paar roetes tot bo-op die platorand, maar die roete op met die kettinglere tot by die Amfiteater is een van die maklikstes. Dis ’n gewilde dagstap, selfs vir gesinne.
Ons val in die pad. Die paadjie is plek-plek gesement. ’n Bejaarde tannie kom van voor af afgestap, dan twee jong seuns. As hulle hier kon op, kan ons ook, sê ek myself – maar hulle dra nie die gewig van ’n laerskoolvoorryman op hulle rug nie.
Die Koninklike Natalse nasionale park en die uKhahlamba-Drakensbergpark, waarin ons stap, is ’n wildernisgebied, wat beteken hier is geen geriewe bo-op die plato nie en alles wat jy nodig het, moet jy saamdra – in ons geval vyf dae se kos en klere, ’n slaapsak, matrassie en tent.
Die berge is ook bekend vir uiterste weeromstandighede en jy moet voorbereid wees: ’n warm baadjie, reënbaadjie, poncho, mus, serp, handskoene en oupafrokkie is ’n moet, én ’n warmwatersak as daar plek is. Selfs buite seisoen kan reën en hael val en donderweer klap. Buiten ’n paar grotte is daar nie juis skuilplek bo nie. Stappers word gereeld met helikopters gered.
Ons kruie voort al om die Sentinel tot by ’n kloof agter die piek.
Voor ons hang die sware kettinglere teen die rotsmuur. Die een is 20 m lank en die ander een 13 m. Driekie en Pieter Jacobs, ’n dokter en bemarker van Port Elizabeth, klim eerste. Hulle stewelsole verdwyn bo ons kop tot jy net bruin rots en blou lug sien. Ná ’n rukkie hoor ons: “Volgende!”
My beurt. Ek gryp die koue ystersporte vas, haal diep asem en klim. Ek is nuuskierig oor die uitsig, maar van banggeit fokus ek eerder net op my vingers wat styf om die staal klem.
Handjie vir handjie klim ek boontoe...
Bo-op die krans sit ons soos geitjies en bak in die laatmiddagsonnetjie totdat almal bo is. “Ek’s nou nie eens skaam om dit te sê nie, maar ek was nou skytbang,” hyg die laaste ou.
Ons moet opskud. “Teen vieruur se kant moet ons ophou stap om nog in daglig tent op te slaan en kos te maak,” sê Jan Spies, ’n dosent van Pretoria en die leier van ons groep. Dis al halfvier en ons het skaars 4 km van die volle 12 km gestap.
Om ons vou die uitgestrekte grasvlaktes van die plato oop. ’n Entjie verder lê Mont-aux-Sources (3 283 m), een van die hoogste pieke in Suid-Afrika, wat nie juis baie indrukwekkend lyk nie, omdat ons reeds sowat 3 000 m bo seespieël is. Die eerste mense wat dit tot hier bo gehaal het, was twee avontuurlustige Franse sendelinge, Thomas Arbousset en François Daumas, van die Moriah-sendingstasie in Lesotho, in 1837.
Hulle het gedink vier riviere ontspring hier bo, vandaar die naam wat “berg van bronne” beteken. Maar dis in der waarheid net drie: die Elandrivier, wat uiteindelik die Vaal word; die Oranjerivier; en die uThukelarivier.
’n Eensame hut staan in die oopte. Dit is in 1930 vir die Natalse bergklub gebou deur Otto Zunckel en sy seun, ??naam?. Al die boumateriaal, behalwe die klip, moes teen 21 km se bergpaadjies opgekarwei word. Ongelukkig het die hut een te veel keer deurgeloop onder plundelaars en is dit deesdae ’n leë dop, maar hier’s darem ’n longdrop.
Ek volg die paadjie na die uThukelarivier wat sowat 500 m verder in vyf aparte watervalle by die kranswand afstort. Dis die naashoogste waterval ter wêreld, maar vandag waai die wind die dun sliert water in ’n fyn sproeireën van die krans af weg. ’n Paar van ons sit op die randjie en laat ons voete teen die kranswand af bengel.
Langs ons, tussen die westelike en oostelike wand, kring die bekende Amfiteater uit soos ’n yslike hoefyster van soliede rots. In dié teater, wat 4 km wyd is, kyk jy na een van die mees dramatiese natuurverskynsels in Suid-Afrika. Jy het waarskynlik al baie poskaarte gesien met die amfiteater wat uittroon bo ’n pragtige landelike toneel.
Om te dink ons sit nou heel bo!
Loodregte rotswande sak uit in ’n reeks groen pieke wat geleidelik tot op die gesigseinder platter en platter word.
’n Paar liggies flonker onder in die vallei. Ek kyk op. Hier voel jy nader aan die sterre as aan die aarde.
12,6 km Dag 2 Een voet in Lesotho
Biep-biep. Biep-biep. Jy’s half verlig as jou selfoonwekkertjie afgaan, want op die sementvloer sal selfs ’n ysbeer sukkel om sy lê te kry.
Binne-in die hut is dit nog donker. Iemand maak die deur oop en ’n reghoekie, ingekleur met die mooiste blou, wit en geel lae, verskyn in die donkerte.
Buite gooi die son ’n liggeel glans oor die grasvlaktes. Ons staan op. In die verte onder in die vallei lê die sleepmis tussen die blou berge. Die volmaan hang soos ’n enkele pêrel in die lug.
“Bring jou paspoort saam,” het Pieter gewaarsku, want ons stap vandag heen en weer oor die “grens” tussen Suid-Afrika en Lesotho. Nie dat enige staatsamptenare hier in die koue stempels gaan kom uitdeel nie. Die oornaghut was die laaste stukkie beskawing; van nou af is ons soos skilpaaie met ons huis op ons rug. Behalwe ’n stapgroep van die Universiteit van Stellenbosch sou ons vir die volgende paar dae nie ’n enkele siel raakloop nie.
Ons begin ’n koppie uitklim – een van honderde, sou dit later blyk. Vandag lê daar 15 km voor, plus die 6 km wat ons nie gister klaargemaak het nie. Rondom jou spoel die grasvelde in golwe oor die platorand. Jy stap en stap oor Psalm 47 se berge en dale.
Hier is niks bordjies of ikone wat aandui waar jy is nie. Jy’s ook nooit presies seker watter piek jy sien nie. Is dit berg Oompie of die Ifidiwand? Daarom moet jy voor die tyd jou huiswerk doen en behoort minstens een lid in die groep die roete te ken – ’n goeie kaart is ’n moet en ’n GPS baie nuttig.
Teen die soveelste heuwel op begin tel jy die treë tot bo, net om op iets anders as die moegheid en swaar rugsak te konsentreer. Vier keer op pad na die kruin gaan staan ons om ons asem terug te kry.
Doef-doef, doef-doef, klop my hart teen my rugsak se strop. Die dun lug help nie. Ons rus bo-op ’n koppie. Voor ons lyk dit soos agter ons. Onder in die vallei blink ’n riviertjie soos ’n stukkie lint in die son. Volgens ons beplanning moet ons óór die bult voor ons, maar dis reeds vieruur. Ons stap dwars-dwars teen die skuinste af en besluit om langs die rivier te kamp – net 5 km agter skedule.
Daar’s nog sowat ’n uur en ’n half se sonskyn oor. Ons trippel af rivier toe en spoel gou ons kieliebakke af, min wetend dis ons laaste bad.
Dan skuif die wolke voor die flou sonnetjie in, en eensklaps is dit ysig koud. Sokkies, musse en serpe word uit rugsakke gedolwe, en die stofies word wyer oopgedraai om die pasta gouer gaar te kry, want voor dit donker is, wil jy styf in jou slaapsak gewikkel wees met net jou neus wat uitsteek.
Buite daal die nag neer op ons tentjies.
19,3 km Dag 3 Lepellê
“Ek het nie eens op Kili so koud gekry nie,” kom dit vroegoggend uit een van die tente.
Een vir een word die tente oopgerits. Ek steek my neus by die tentflap uit. ’n Yslagie lê soos glasuursel op ons tente en die grasvlaktes. ’n Hemp wat buite bo op ’n tent gelê het, is kliphard gevries.
“Dit kan vanaand sneeu,” sê Pieter, wat twee jaar op die dorpie Qwa-Qwa gebly het, terwyl hy die wolke bekyk. Ons begin weer stap, op en op en op tot bo-op ’n koppie en weer af en af en af. Dan oor ’n vallei tot by die voet van ’n volgende koppie.
Jy hou nie meer tred van hoeveel berge en valleie jy deurkruis nie.
Ons sien vir die eerste keer ’n paadjie. Daar is wel paadjies op die kaart gemerk, maar jy kan nie daarop staatmaak nie. Hulle verskyn uit die niet en loop sommer weer dood iewers tussen twee graspolle. Daar’s altyd die knaende vraag in jou agterkop: Sê maar ons loop in die verkeerde rigting?
Ons stap oor sagte vleigrond, oor graspolle en klippe, heeltyd omring deur die heuwels aan die een kant en ’n afgrond aan die ander. Op en op en oor en af en af. Moeg. Aanhou. Uithou.
Hoe dieper jy die wye landskap betree, hoe kleiner raak die kwellinge van jou gewone lewe. Hier bo, op die ooptes naby aan die hemel, kry jy vryheid en eenvoud wat die koue en swaardra werd is.
Mettertyd word die gehyg tog ritmies. Jou hart klop vinnig, maar gelykmatig. Jou liggaam voel sterker en die rugsak is nie meer so swaar nie, selfs bult-op.
Bo-op die heuwel val ek neer op ’n klip. Ons het altesame reeds 42 km gestap. Dis die hele Otterpad, en vir ons is dit eers dag 3. Rondom ons is dit tjoepstil. Dis moeilik om te glo daar’s nog so ’n oop stuk wilde aarde.
Maak toe
9,8 km Dag 4 Stilte ná die storm
“Mense gaan óf in die reën stap óf in die reën tent opslaan,” waarsku Pieter teen teetyd. “Ons beter begin stap.”
Ons voel die eerste druppels. Reën. Dit verander jou stapervaring ingrypend. Inderhaas trek jy ’n swartsak of spatseiltjie oor jou rugsak. En hoekom het jy nie maar vooraf alles in plastieksakke gepak nie?
Rondom ons roggel die berge soos ’n draak met maagpyn. Gepantser in seil en plastiek beur ons voort teen die wind. Bo-op ’n kruin sjor die reën behoorlik op ons neer. Haelkorrels plof stukkend op my baadjiemou. Ek en Dawie stap nou alleen. Ons kyk om, maar sien nie een van die ander oor die rantjie aankom nie. Dawie stap terug oor ’n nekkie terwyl ek verbouereerd staan en wag.
Dan kom die res soos herfsblare afgedwarrel teen die heuwel tot in ’n laagtetjie. Helder weerligstrale flits tussen die donker wolke. Ons strompel ook ondertoe met ons rug teen die wind sodat die hael nie op ons gesig neerklits nie.
“Ons... nie in die weer... stap... nie... soek... skuiling,” hoor ons Jan in die wind roep.
Onder slaan ons inderhaas tent op. Almal trek al hulle droë klere aan. My tande klap onophoudelik. Ons kan nie eens warmsjokolade maak nie, want ’n weerligstraal mik dalk vir jou stofie.
“Ek sit in my pluisstofbaadjie en onderklere, dis al wat droog is.”
“Ek het net ’n swartsak aan.”
“My tent is nou heeltemal nat nadat ek met nat klere ingeduik het.”
Só hou die gesprekke aan tussen die tentseile en gerammel.
Tien minute later trek die wolke weer effens oop. Party waag dit buite om stofies op te steek. “Hier’s darem ys vir die bier,” spot iemand. Rondom ons lê ysstukke so groot soos CD’s.
“Ek weet nie wat ons môre gaan doen as die weer so sleg bly nie. Die uMlombonja-pas waar ons moet af, lê nog anderkant die heuwel,” sê Jan en wys noord. “Miskien kan ons in die Twins-grot oornag as dit moet.” Ondanks die gure weer is ons net 3 km agter. En môre stap ons huis toe.
“Hier’s ten minste nie muskiete nie,” sê iemand.
17,85 km Dag 5 Weer onder op die aarde
08:00. Vanoggend wys die son vir ’n paar minute gesig, asof hy wil jammer sê vir gister se teistering. Ons sit effe oorbluf en kyk. Dís hoe lanklaas ons enige hitte gevoel het.
Ons staan bo by die begin van die uMlambonja-pas. “Pas” is misleidend. Jy dink aan ’n netjiese pad waarop ’n motor ry. Maar van hier waar ons nou staan, is dit net so steil ondertoe soos die meeste van die ander klowe waar ons verby is die afgelope vier dae.
Selfs Jan lyk ietwat onseker. Hy loop versigtig teen die skuinste af terwyl ons half optimisties kyk of ons nie tog ’n paadjie gewaar nie.
“Binne 3 km daal jy sowat 1 800 m,” het Jan gister verduidelik. Die paadjie – wat ons steeds nie kan sien nie – sluit dan aan by een van die gewone Cathedralpiek-voetpaadjies. “Die laaste 8 km behoort dus maklik te wees.”
Ons trap voetjie vir voetjie teen die skuinste af en daal dieper in die smal kloof af. Die gras lê soos ’n groen skootkombersie op die grys rotsformasies wat rondom jou uittroon. Plek-plek is daar tog ’n paadjie wat heen en weer oor die uMlambonja-stroom kronkel tussendeur nat takke en oor groot gladde klippe. Dit reën saggies.
12:00. Die pas kry nie einde nie! Vier stappers kom van onder af. “Word die paadjie duideliker boontoe,” sêvra een. “Ons het al ’n paar keer verdwaal.”
Teen middagete kry ons nog ’n groep. “Ons stap al vyf uur van onder af.” Výf uur!? Ons reken dit sal ons darem nie so lank neem as ons eers op die kontoerpad kom nie. Rondom ons is die berge nou groener, ronder en sagter. Die kontoerpad is uiteindelik links van ons bo teen die hang sigbaar. Ons boender deur ’n klompie nat bome, verdwaal ’n paar keer en haal ná ’n halfuur die kontoerpad. Die paadjie is netjies en die grassies enkelhoogte en gelyk.
“Home free,” dink ons.
As jy omkyk, staan jy verbyster. Dit lyk nou onmoontlik om teen die steil, smal ravyn tot bo te kom. Doer bo, waar die ander stappers nou opsukkel, woel die miswolke rondom die kliptorings.
15:00. Ons stryk voort in die reën tot by ’n effense plato. Teen dié tyd stap ons net om by die huis te kom. Al waaraan jy dink, is daai warm stort en sagte vereduvet.
“Dit het ons omtrent vyf uur geneem om tot hier te stap, middagete ingesluit,” sê die leier van ’n groep skoolkinders wat hier kamp opgeslaan het. “As julle vinnig maak, behoort julle voor donker onder te wees, maar dan is daar nog ’n klomp riete om deur te sukkel.”
Ons ploeter voort op die nat paadjie. Drie van ons is uiteindelik onder by die rivier. “Waar’s die ander?” wonder iemand hardop.
“Hei,” hoor ons vir Jan bo van die kruin agter ons af roep. “Wag vir ons.”
Dis ysig koud. Sopnat sit ons op ’n klip en wag. Dis skemer, maar binne 10 minute is dit donker in die kloof. Ons haal ons kopliggies uit. Iets blink tussen die bosse. Twee kopliggies kom teen die heuwel af aangedobber.
19:00. Almal is nou weer bymekaar. Ons stap teen stadigste een se spoed. “ ’n Mot het pas by my mond ingevlieg,” grinnik een. Ek stel my koplamp op die rooi-modus, want insekte hou nie van rooi lig nie.
20:00. Die paadjie lyk nou soos ’n behoorlike voetpaadjie, iets wat jy in Kirstenbosch sou kry. Links, regs, links, regs peul ons uiteindelik uit op ’n sokkerveld. Die gras is kort en netjies.
Ons stap verby ’n bordjie wat die paadjie waar ons nou vandaan kom, heel onskuldig aandui as “walks”. ’n Groot tuinskaakbord verskyn voor ons. ’n Paar treë verder lei ’n netjies geplaveide paadjie met liggies aan weerskante na die Cathedral Peak-hotel se stoep. Agter die vensters sit mense in truie en jeans by kerslig en aandete eet terwyl ’n onbekende sanger ’n heel gangbare weergawe van John Paul Young se Love Is In the Air sing. Hulle kyk belangstellend na ons.
Ek sak neer op die bankie buite, gans te vuil vir die hotel. Hoekom stap?
Dis eintlik eenvoudig. Jy móét een keer in jou lewe op daai Draak se rug staan en oor sy rugwerwels stap. Géén oordrewe stories, koffietafelboeke of foto’s kan jou voorberei op die grootsheid van die plek nie.
Dis wyd. Dis stil. En net jou voete kan jou soontoe neem.
Gepubliseer op 12 Maart 2009





















Kommentaar