Van die Sunset-uitkykpunt af op Berg Mulanje lê die dorpie Chitakali en laslappies groen teeplantasies doer onder jou.
Kommentaar
Verdwyn in die mis van Mulanje
Deur Wynand Coetzer Gepubliseer op 12 Julie 2012
Die meeste mense mik reguit na die meer as hulle Malawi toe gaan. Maar as jy lus is vir iets meer avontuurliks, oorweeg ’n bekostigbare voetslaanavontuur op Berg Mulanje in die suidooste van die land.
Die kroon van Malawi
Mulanje is nie deel van ’n bergreeks nie, maar is ’n losstaande bergmassief wat gevorm is toe magma 130 miljoen jaar gelede in ’n kraak in die aardkors geloop en gestol het.
Mettertyd het die grond rondom dié stuk rots verweer en het net die berg agtergebly.
Waar is dit? 65 km suidoos van Blantyre, op die grens tussen Malawi en Mosambiek. Hoe groot is dit? Die berg beslaan 650 km² en staan gemiddeld 2 000 m bo seespieël. Sapitwapiek is die hoogste punt in Malawi (3 002 m bo seespieël). Watter diere en voëls kry ’n mens daar? In die grasvelde kan jy klipspringers, dassies en rooiklipkonyne sien; in die bos wag daar dalk blou-apies, rooiduikers, bosbokke, bosvarke en krimpvarke. Daar kom ook luiperds voor, maar hulle is sku.
In die oop grasveld kan jy op die uitkyk wees vir verskeie swael-, arend- en valkspesies, en in die bos kan jy dalk tiptolle, janfrederikke, laksmanne en grasvoëls teëkom.
Nog iets? As jy daar wil gaan stap, soek die Guide to the Mulanje Massif deur Frank Eastwood. Dis tweedehands op www.amazon.com en in boekwinkels in Blantyre beskikbaar. * Bron: Bradt se Malawi-gidsboek deur Philip Briggs en Mary-Anne Bartlett.
Lees die volledige storie in die Augustus 2010-uitgawe van Weg (#70).
Kommentaar