Besoekers stroom na Augrabies
Die Augrabies- nasionale park het die afgelope naweek reuse-aftrek gekry toe besoekers behoorlik na die park gestroom het om die wêreldberoemde Noord-Kaapse waterval in rekordvloed te aanskou.
Die Gariep was teen Maandagoggend besig om meer as 2800 kubieke meter water per sekonde by die granietravyn af te stoot. Die vorige "groot jaar" was 2006. Toe was die lesing egter 1 000 kubieke meter water per sekonde minder as vandeesweek.
Dit beteken die Augrabies - wat genoem is na die Khoi woord vir "plek van
groot geraas" - is nou die hoogste sedert hy in 1988 was.
Daardie jaar bly egter loshande die grootste jaar in terme van die volume
water wat by die 56m-hoë hoofval aftuimel.
Die park is Sondag tot sy maksimum met besoekers gevul, het die parkbsetuurder, Steven Smith, gesê. "En ons het nog ekstra shuttles gereël," het Smith opgewonde vertel oor die sowat 2 500
besoekers. Die watermassa word verwag om teen Woensdag te begin afplat.
Klik hier vir ’n videogreep wat verlede Woensdag gemaak is toe die Gariep sterk aan’t optel was.
Gelewer op 10 Februarie 2010 | 14:49:23
Donderdagaand na werk was dit die lang pad, baie koffie maak op 'n gasstofie langs die hoofweg en toe die son opkom was ek daar! Het gekampeer en vir 2 dae verwonderd van uitkykpunt tot uitkykpunt geloop (later gestrompel, moeg verby maar betowerd). Die paadjie Arrow punt toe was deels onder water met talle klein stroompies wat oor die rotsplate stroom. Die uitsig vanaf Arrow punt was die hitte werd. Ek was in 2006 ook daar, sommer 2 keer. Die eerste keer was ek 'n week te vroeg en kom toe 'n week later terug. Augrabies het onder my vel ingekruip, ek het sedertdien ook die Klipspringer 3-dag roete gestap.
Gelewer op 9 Februarie 2010 | 20:14:45
Oooo! Ek verlang sommer huistoe! Ek is gebore enkele kms vanaf die "groot geraas." Deesdae woon ek teen die Weskus maar gaan drink nog elke winter 'n slukkie "Grootrivierwater." Abe Bam
Gelewer op 9 Februarie 2010 | 08:28:08
Ai tog, hoe mooi is dit nie. Ons was Desember 2009 vir die derde keer by Augrabies en toe was daar meer water as enige van die vorige 2 kere. Sal wat wou gee om weer te gaan kyk met al die water. Net jammer dit is so 920km van die huis af!!













Kommentaar