Wildtuinstories - Deel 5


Skrywer: Piet du Plessis

HOOFSTUK 5
MENSE

Mens gaan wildtuin toe vir diere, maar die mense wat jy daar mee te doene kry, kan net so interessant wees. Hier is ‘n paar ervarings met mense wat my steeds bybly.

Mevrou Siebl
Ek dink dit was hier in 1980 of ’81 toe ons eenkeer ‘n nota by die kantoor in Skukuza sien. Dit was by die ingang opgeplak.

PERSONEELLID
SOEK SAAMRY-GELEENTHEID
NA JOHANNESBURG
OF
PRETORIA
Doen navraag by ontvangs

Ek het na Johan toe gestap wat nog in die kar gesit het en hom van die kennisgewing vertel. “Kom ons vat die jong man saam,” het ek voorgestel. Ons moet eers Johannesburg toe gegaan het. Ek het sommer aanvaar dat dit ‘n jong man was wat pas begin werk het en nog nie ‘n kar besit nie.
Johan was nie baie entoesiasties nie. “Agge nee. As mens iemand vreemd in die kar het kan jy nie praat wat jy wil nie,” het hy gekeer.
Ek het met hom verskil: “Dalk werk die ou al so ‘n rukkie hier en kan hy ons baie van die wildtuin vertel.” Dit het Johan effens van plan laat verander en hy het ingestem. Enige ekstra inligting oor die wildtuin was altyd vir hom welkom. Hy het kleintyd al vir almal wat hy ken gevra om te raai hoeveel tande ‘n krokodil het.
Ons is saam terug na ontvangs toe waar ek aangebied het om die personeellid ‘n geleentheid te gee.
“Kom ek gaan stel jou gou aan haar voor,” het die man agter die toonbank gesê, terwyl hy ‘n boek in die laai steek. Ek het gesluk.
Haar?
Dis die laaste ding wat ek verwag het. Al weier my vrou om saam wildtuin toe te kom, is sy nogal jaloers en sou nie daarvan hou as ek ander vrouens rondry nie.
“Sy bly net hier voor,” het die man gesê en koers gekies. Haar rondawel het by die ander rondawels gestaan, baie naby aan ontvangs. Daardie jare was ontvangs nog min of meer waar die winkel vandag is en daar was rondawels naby ontvangs.
Hy het aangeklop en ons is binne genooi. Daar in die rondawel sit toe ‘n ou dame … met ‘n kat.
Ek het vriendelik probeer glimlag terwyl ons aan mekaar voorgetel word: “Dit is tannie Ursula Siebl,” het die man gesê. Die ou dame het vriendelik gegroet in Afrikaans, maar met ‘n swaar Duitse aksent.
Dit was te laat om kop uit te trek, maar ek sou beslis nie die aanbod gemaak het as ek enigsins ‘n vae idee gehad het dat dit ‘n ouerige vrou was wat wou saamry nie. Dis nie dat ek nie van ouer mense gehou het nie. Ek was net bang die ou tante is dalk sieklik, of klaerig.
Ons het afgespreek om mekaar oor ‘n dag of wat te kry wanneer ons gaan ry.
Dieselfde dag nog het ek gevind dat ek skielik gewild is by die wildtuin se personeel. “O, is jy die man wat tannie Ursula gaan Pretoria toe vat? Baie dankie daarvoor.” Sy het in die kombuis van die kafeteria gewerk en ek het gou agtergekom dat sy baie geliefd was deur almal wat daar werk Elkeen het ‘n paar goeie woorde oor haar te sê gehad. Miskien is dit omdat sy self so vriendelik was. Ek kan nie onthou dat ek haar ooit gesien het sonder ‘n glimlag op haar gesig nie.
Ons was nog nie uit die wildtuin uit nie, toe beide ek en Johan besef het dat die besluit om haar saam te neem ‘n baie goeie idee was. Sy het gesels, aanmekaar gesels. Dit het my gewoonlik geïrriteer as iemand so baie praat, maar sy het so onderhoudend gepraat dat ons elke woord geniet het.
Net voordat ons die wildtuin verlaat het, het sy my die storie vertel van die jong hiënatjies wat daar hulle moses teëgekom het. Vandag nog glimlag ek as ek aan die storie dink. Ek vertel die hele storie op ‘n ander plek in die boek.
Terwyl ons die pad aanpak, ontplooi mev. Sielbl se lewe:
Sy kom van Oostenryk af en was haar lewe lank ‘n kinderoppasser. Sy het die kinders van Oostenrykse ambassadeurs opgepas. Dit het meegebring dat sy die wêreld vol gereis het saam met die ambassadeurs.
Haar seun het in Suidwes kom werk en een vakansie het sy vir hom kom kuier. Afrika het haar so bekoor dat haar seun haar gehelp het om werk in die wildtuin te kry.
Sy het ons uitgenooi om ‘n koppie koffie te geniet op Waterval-Onder, by ‘n restourantjie wat ‘so oulik’ was vir haar. “As dit julle nie gaan verongerief nie.”
Daarna het ons tot in Pretoria gery. Sy was op pad hospitaal toe vir haar gereelde ondersoek het sy gesê. Ek wou nie nuuskierig klink nie en het nie oor haar gesondheidstoestand uitgevra nie.
Dit was die kortste wat die pad nog vir my gevoel het. Toe ons groet het dit vir my gevoel asof ons mekaar al jare ken.
Daarna het haar en haar kat ek gereeld gaan groet wanneer ons wildtuin toe gegaan het. Sy was die enigste persoon wat toegelaat was om ‘n huiskat aan te hou in die kamp, maar moes hom altyd binne die rondawel hou. Ook maar goed so, het sy geskerts, want ‘n luiperd los nie ‘n kat uit nie.
Dit was een Julie vakansie dat die groot lus vir die wildtuin my weer beetgepak het. Ek het besprekings gebel, maar daar was natuurlik nie plek vir ‘n muis in die wildtuin nie. Toe maak ek plan en bel mev. Siebl. “Bel my môre terug,” het sy gesê en toe ek dit doen, het sy gesê dat ons maar kan kom. Sy het plek gereël.
Daar aangekom, het hulle ons ons plek vir die volgende week gaan wys. Dit was nie in die kamp nie, maar in die personeeldorp. As mev. Siebl se gaste is ons soos konings behandel. Hulle het ons nie eers ‘n sent vir die blyplek laat betaal nie.
In die aande het ek mev. Siebl gaan haal en dan het ons saam ‘n vleisie gebraai. Een aand het ek haar van my begeerte vertel om alleen in die wildtuin in die nag te kan ry. Sy het haar kop geknik en gesê dat ons vir haar vriende op Tshokwane kan gaan kuier een aand, en dan in die donker terugkom. Maar dan moet dit in die somermaande wees. Sy voel nie baie lekker in die laatste tyd nie.
Ek het gehoor sy hoes kort-kort en het aanvaar dat dit verkoue of griep was.
Op ‘n volgende besoek het ek dadelik agtergekom dat daar iets fout was. Voor haar rondawel het twee vreemde seuntjies gespeel. Ek het ontvangs toe gestap om te hoor of sy nou iewers anders bly.
Die dame by ontvangs het my lank aangekyk voordat sy my vertel het: mev. Siebl ly al baie lank aan longkanker en het onlangs die stryd gewonne gegee.
Ek het die knop in my keel weggesluk en uitgestap sonder om ‘n woord te sê. Ons het seker nie meer as sowat twintig ure in mekaar se geselskap deurgebring nie, maar sy het so ‘n geweldige impak op my lewe gemaak. Sy moes die hele tyd geweet het dat haar einde naby is, maar nooit het sy gekla nie.
Daardie aand toe ek by my vuurtjie gesit het, het ek lank aan haar gedink. Ek gaan nie hartseer wees nie, het ek gedink, want hier het sy haar laaste jare meer geniet as meeste ander mense. Van Oostenryk af het sy gekom en hier het sy Afrika leer liefkry, Hier wou sy wou leef en hier het sy gesterf.
Sy sou dit nie anders wou gehad het nie.

Die Wynboer
Toe ons die oggend in Skukuza aankom het, het die karavaan langs ons al daar gestaan, maar die mense was nie daar nie.
Ek was nog nooit ‘n wynkenner nie en sal seker nooit een word nie. Ek het nog altyd in my mou gelag as die kenners praat van: “‘n titseltjie mango.” Of “dit het ‘n pikante appelkoosgeur met ‘n ligte framboos-nasmaak.” Vir my het wyn maar soos wyn gesmaak, nie eers soos druiwe nie en ek het dit gereeld vir mense gesê. Maar een ou vir wie ek dit liewer nie moes sê nie, was Johan Rossouw van Malmesbury.
Dit het net donker begin word toe ek ‘n wyntjie ingeskink (‘n droë witte wat soos droë witwyn gesmaak het en geen
avokadopeer- of kiwivrugsmaak in gehad het nie.) Ek het agteroor gaan sit om na die vuurtjie te kyk en die rustigheid te ervaar, toe iemand van die kombuis se kant af naderkom. Hy kon om ons kampplek geloop het, maar het doelbewus na ons toe aangestap gekom. “Naand, buurman,” het hy gesê en sy hand uitgehou.”
Ek het my voorgestel en ons het dadelik begin gesels. Ek het ‘n glasie wyn aangebied, wat hy aanvaar het. “Wat doen jy vir ‘n lewe?” vra hy.
“Ek’s maar ‘n onderwyser,” het ek geantwoord, “en jy?”
Hy het oor die bome uitgestaar en liggies aan sy wyn geproe. “Ek’s maar ‘n boer,” het hy gesê. “Net buite Malmesbury.”
“Koring?”, het ek gevra. Almal boer mos met koring in Malmesbury.
“Nee, wyn.” Hy het weer ‘n slukkie gevat.
Ek het ook gesluk, maar nie wyn nie. Toe loer ek skuldig na die bottel droë wit op die tafeltjie. “Jammer vir die goedkoop wyn. Maar ek is nie juis ‘n wynkenner nie.” En toe die gewraakte woorde: “Ek lag altyd in my mou … “
Hy het geglimlag. “Kan ek jou verkeerd bewys?” het hy gevra en opgestaan. ‘n Rukkie later is hy terug met ‘n bottel Swartlandse wit Hanepoot. “Proe,” sê hy en skink. “En sê nou weer vir my dit proe nie soos druiwe nie.”
Ek moes verskoning vra na die eerste sluk. Toe begin ons wyn praat. Die man kén sy wyn. En elke keer as hy oor ‘n soort wyn praat, spring hy op na sy karavaan toe en gaan haal ‘n bottel daarvan sodat ek kon proe. Sy neef wat saam met hom daar was, het na ‘n rukkie by ons aangesluit en lustig aan die wyngesprek deelgeneem … en geproe.
Ek onthou dat ek op ‘n stadium agt bottels wyn op die tafel getel het, maar dit was lank voordat ons gaan slaap het. So af en toe het ek daaraan gedink dat die kinders verwag ons moet sesuur ry, as die hekke oopmaak.
Hoe laat ons gaan slaap het, weet ek nie; hoe ek in die bed gekom het ook nie. Die hele wêreld het om my gedraai toe ek gaan lê. My wekker was vir vyfuur gestel en ek het vinnig aan die slaap geraak. Maar ek het seker net ‘n minuut of wat geslaap toe daar ‘n klop aan die karavaan deur hier by my oor is. “Ja,” het ek moeg en deurmekaar geroep.
Die deur het oopgegaan. Dit was Johan. “Slaap jy al?” het hy gevra.
“Nee”, het ek geantwoord en ek het ook nie - nie vandat hy my wakker gemaak het nie.
“Ek het net ‘n glasie Port vir jou gebring,” hy het ‘n glasie met die donkerrooi vloeistof na my uitgehou. “ Mens kan nooit gaan slaap voordat jy ‘n glasie Port gedrink het nie,”het hy gesê.

Henry se Valstande
Henry en Maggie was ‘n baie goeie vriende van ons. Henry was ‘n myner. Hulle was stil mense wat nie baie vriende gehad het nie, buiten ek en Meisie. Hulle kinders was al uit die huis uit en hulle was ooglopend nog steeds verlief op mekaar.
Die enigste keer dat hulle probleme met mekaar gehad het, was wanneer Henry ‘n slag besluit om weer ‘n paar doppe vat. Hy het selde gedrink, maar as hy op ‘n partytjie of so iets kom kon hy maar eenmaal nie sy maat ken nie. Maggie het drank gehaat en kon dit nie verdra as Henry te veel drink nie.
Hulle was nog nooit in die Wildtuin nie en een langnaweek nooi ek hulle uit. Hulle was opgewonde, maar Maggie wou om die dood nie gaan as Meisie nie saam kom nie. En Meisie was niks lief vir die Wildtuin nie. Sy het haar gewoonlik dood verveel.
Maar op Maggie se aandrang het sy tog besluit om die keer saam te kom.
Ons het ‘n rondawel in Shingwedzi gehuur vir drie nagte. Albei Henry en Maggie het onmiddellik verlief geraak op die Wildtuin. Ek het gehoop haar entoesiasme sou Meisie aansteek, maar Meisie het heeltyd die verveelde uitdrukking op haar gesig gehad. Dit het vir my gelyk asof sy nie van die Wildtuin wóú hou nie.
Ons het ‘n redelik suksesvolle dag gehad en die aand het ons vleis gebraai. Ek het ‘n bottel droë rooiwyn oopgemaak en Henry ‘n hele paar bottels bier.
Ons het gehoop ons sal leeus of jakkalse hoor, maar daar was net insektegeluide en nou en dan die geroep van ‘n naguiltjie.
Na Henry se derde of vierde bier het hy begin glo hy kan dieregeluide perfek namaak. Die hiëna se ‘hoep-hoep’ het nogal naby geklink, maar jy jakkalstjank was pateties.
Maggie het nie baie van sy manewales gehou nie. “Henry gedra jouself,” het sy kort-kort gesê. Dan het hy haar aangekyk of hy nie mooi verstaan wat sy bedoel nie en net aangegaan met sy manewales.
“Jy kan nie ‘n jakkals namaak nie, Henry,” het sy kwaai gesê.
Dit het Henry eers hardekwas gemaak. “Wag, ek net my tande uithaal,” het hy gesê, “dan sal julle hoor.” Hy het sy valstande gevat en bo-op die half oopgemaakte pak bier op die tafeltjie langs die braaivleisvuur gesit. Toe gooi hy sy kop agteroor en kry dit nogal amper reg.
“Henry, kry end!” het Maggie weer geraas. Die keer het Henry op sy kampstoel gaan sit en ‘n paar slukke van sy bier gevat.
Toe die blikkie bier klaar was, het hy sonder om te kyk, na nog ‘n blikkie uitgereik. Ongelukkig het hy vergeet dat sy tande nog bo op die pak bier lê. Hy het eers daarvan onthou toe die tande ‘n sisgeluid op die kole maak.
Hy het daarna gegryp, maar vlamme het dit vinnig met ‘n verdere sisgeluid verteer.
Henry het nie ‘n woord gesê nie.
“Sien jy nou,” is al wat Maggie gesê het.
Vroeg die volgende dag het ons weer padgevat. Henry het nie veel gesê nie, maar ek was seker hy het erge hoofpyn. Ek het ook geweet dat hy vir die res van die naweek nie weer sy mond aan drank sou sit nie.
Toe ons later die oggend by Babalala stilhou het die vrouens ‘n draai gaan loop. “Ek kan Maggie nie verstaan nie. Gewoonlik is sy dae lank dikbek as ek gedrink het, maar sy het nie ‘n woord oor gisteraand gesê nie. Nie eers oor die tande nie,” het hy met sy tandlose mond gesê.
Die middag het Maggie ‘n baie lekker ligte maaltyd gemaak. Dit was nou een ding van Maggie, sy kón kosmaak. Henry het soos ‘n koning geleef.
Die aand het sy heerlike slaaie gemaak terwyl ek en Henry weer vleis gebraai het. Arme Henry kon net ‘n stukkie wors en slaai eet – hy het mos nie meer tande gehad om te kou nie.
Die volgende dag wou ons Pafuri toe gaan. Dit is ver, meer as 200 kilometer soontoe en terug. Meisie het nie kans gesien nie en Maggie het besluit om saam met haar in die kamp te bly die dag.
Maggie het vir ons ‘n piekniekmandjie gepak om by Pafuri-piekniekplek te gaan eet.
Henry was nie homself nie. Hy het hom bly bekommer oor Maggie se houding. “Iets gaan gebeur,” het hy ‘n hele paar keer gesê. “Ek ken vir Maggie. Sy gaan nie nou die aand se gedop en die valstande vergeet nie. Ek gaan nog boet. Plaas dat sy maar baklei het en klaargekry het.”
Ons het nie baie wild gesien die oggend. Ek dink Henry het te veel aan Maggie se wraak gedink en het nie baie mooi vir diere gesoek nie.
Ons het met die teerpad tot naby die Pafuri-grenspos gery en vandaar af met die grondpad tot by Pafuri-piekniekplek.
Teen die tyd het ons baie warm gekry en het besluit om tot etenstyd daar onder die koeltebome langs die rivier te sit en die natuur te geniet.
Henry het die koelsak nadergetrek. Daar was ‘n koue bier vir my en koeldrank vir Henry. Hy het nooit so gou weer gedrink nadat hy ‘uitgehaak’ het nie. Daar was ‘n yslike kosblik ook in die koelsak. Ons het dit nie oopgemaak nie, want dit was nog nie tyd vir middagete nie.
“Dêmmit ek word nou honger,” het Henry later gesê. Ek het ook al honger begin voel, maar ons het besluit om maar tot eenuur te wag, dan te eet en stadig terug te ry Shingwedzi toe. Ons sou dan net betyds wees om ‘n rukkie te gaan rus en dan ‘n entjie te gaan ry voordat die hekke toemaak.
As daar enigsins ‘n kafeenaby was, sou ons seker maar iets lig gekoop het om aan te kou.
Net voor eenuur het Henry die kosblik uitgehaal. My mond het begin water. Maggie kon lekker kosmaak. Vol afwagting het Henry die kosblik oopgemaak. Toe ruk hy sy kop op en kyk woordloos, en tandeloos, na my. In die blik was sy gunsteling kos, en myne: net ‘n stuk klipharde biltong vir elkeen van ons.

Kobus
Dit was die eerste dag nadat ons in die nuwe huis ingetrek het. Ek het Quintin na skool gaan haal. Net duskant ons huis het ‘n seun op ‘n fiets voor ons gery. Wat gebeur het, weet ek nie, maar toe ek weer sien toe lê hy op die teerpad met die fiets bo-op hom. Ek het stilgehou en uit die kar uitgeklim.
Ek sal daardie gesig nooit vergeet nie. Hy het na my gekyk met ‘n mengsel van skok en verleentheid, maar was my laat skrik het, was dat sy gesig amper heeltemal pikswart was. Ek kon nie dink wat dit veroorsaak het nie, maar het geweet dit moet baie ernstig wees. Mens se gesig word nie sommer van niks so pikswart na ‘n ongeluk nie. Eers later sou ek uitvind dat hulle ‘n opvoering by die skool gehad het en dat sy gesig swart gesmeer moes word vir sy rol.
Hoe dit ookal sy, Kobus was bietjie velaf en het ‘n kwaai hoofpyn gehad. Ek het aangebied om hom huis toe te vat na sy ma toe. Hy het nie geantwoord nie. Sy sussie het net daarna aangeloop gekom. Haar ma werk, het sy gesê, daar is niemand by die huis nie.
Toe vat ek hulle altwee saam na ons huis toe waar my vrou eers ‘n bietjie salf aan sy wonde gesmeer het en hom ‘n hoofpynpil ingegee het.
Hulle het nie ver van ons af gebly nie en ek het aangebied dat hulle maar soggens en smiddae saam met ons kan ry as ek Quintin skool toe vat en gaan haal. Veral omdat die fietsie waarmee Kobus gery het, hopeloos te klein vir hom was.
Quintin het gou maats geraak met die twee kinders en kort daarna was hulle na skool meer dikwels by ons huis as by hulle eie huis.
Ek het hulle ma later ontmoet. Sy was ‘n geskeide vrou wat haar kinders self moes grootmaak. Dit het nie sleg met hulle gegaan nie, maar daar was beslis nie geld vir ekstras nie. Die kinders was byvoorbeeld nog nooit meer as 100 kilometer van hulle huis af nie.
Toe ek en Quintin weer op pad na die Krugerwildtuin toe was, het ons hulle saam genooi. Die ma het my by die tyd goed genoeg geken om te weet dat haar kinders veilig by my sou wees.
Ons het die Vrydag direk na skool gery. Vandag nog bly daardie dag helder voor my geestesoog. Die twee kinders was so opgewonde om iewers heen te gaan. En die geluk was met ons, net nadat ons vanaf Punda Maria in die Pafuri/Shingwedzi pad ingedraai het op pad Shingwedzi toe, het ons op ‘n hele trop leeus afgekom. Hulle het rustig met die pad aangestap al saam met ons bussie. Daar was leeus voor ons, leus langs ons en leeus agter ons vir drie kilometers ver.
Ek glo nie Kobus was eers bewus daarvan dat daar ander mense in die voertuig was nie. Sy mond het oopgehang soos hy na hulle gestaar het. Kort-kort het hy aan sy sussie gestamp. “Jissie, ou sussie, kyk daar,” het hy oor en oor gesê.
Vir my as ‘n gesoute wildtuinbesoeker was dit ‘n onvergeetlike oomblik en ek kan my dit goed indink hoe wonderlik dit vir die twee kinders moes wees wat in hulle hele lewens nog nooit ‘n lewendige leeu gesien het nie.
Vandag nog is dit vir my so wonderlik dat dit so ‘n suksesvolle naweek was. Ons het op twee geleenthede jagluiperds gesien en nog ‘n slag leeus en baie ander diere.
Kort na die wildtuinbesoek moes ek Kaap toe en Kobus is saam met ons soontoe ook. Vir die eerste maal het hy die ook see gesien.
Dit was nie lank na ons terugkeer van die Kaap af nie, toe Quintin my een middag na werk by die hek inwag. Ek kon sommer dadelik sien daar is iets verkeerd. Hy het die kar se deur vir my oopgemaak. “Pa,” het hy gesê. “Kobus is in die hospitaal. Hy is geskiet.”
In die huis het hy verder vertel. Kobus het die middag by ‘n maat gaan speel en hulle het die maat se ma se pistool in die hande gekry. Soos was sovele kere met kinders gebeur, het hulle met die pistool gespeel en die maat het gedink dat daar nie ‘n koeël in was nie. Toe mik hy Na Kobus en trek die skoot af.
Ek het die hospitaal in de buurdorp gebel. Hy is in die intensiewe-sorgeenheid en sy toestand is ernstig. Sy ma het my later gebel en vroeg die volgende oggend weer. Kobus is vyfuur die oggend dood. Hulle het sy organe vir Ander kinder’s geskenk.
Ek het nie veel vir Kobus in sy kort lewetjie gedoen nie, maar ek voel tevrede dat ek hom darem een keer kon vat na ‘n plek op die aarde waar daar ware rustigheid is. En soms as ek in die wildtuin is, veral op die pad daar duskant Babalala, dan wonder ek of hy ook daar is.
Elke keer daarna wanneer ek daardie stukkie pad na Shingwedzi toe ry, hoor ek weer sy stem daar waar ons na die leeus gekyk het: “Jissie, ou sussie, kyk daar” en ek sien weer in my geestesoog die seuntjie met die groot ore en ewige glimlag op die gesig - en dan weet ek, hy ìs daar, want waar kan ‘n beter hemel wees as daardie strokie aarde al langs ons land se oostelike grens?

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 22 Oktober 2011 | 18:44:41

Thanks for sharnig. What a pleasure to read!

Gelewer op 8 September 2011 | 13:13:15

Die Wildtuin van vandag is nie meer die Wildtuin wat ek as kind onthou nie...die reuk van hardekool wat brand by Afsaal - gereed vir 'n kole ontbyt. Vandag is dit 'n vinnige ontbyt op 'n skottelskaar met gas. Motors wat teen 70km. per uur by jou verbyjaag wanneer jy teen 30km. per uur probeer diere soek - en NIKS kry nie, omdat hulle voor die gevaartes wegvlug. Vragmotors, taxis en onbedagsame toeriste...wat soek julle in die Wildtuin as julle nie na die diere wil kyk nie? Die Wildtuin is 'n RUSPLEK, nie 'n malhuis nie! Oom Piet...JY skryf nog van die Wildtuin wat ek onthou en so baie, baie mis!

Gelewer op 6 September 2011 | 06:49:21

Elke oggend voor werk dan lees ek eers my stukkie vir die oggend, dit is nou Oom Piet se wildtuin stories. Alhoewel ek 14000km van my geboorteland af is laat die stories my voel of ek op daai oomblik in die wildtuin is. Ek stem met die ander kommentaar...jy mag maar skryf Oom Piet, inteendeel ek wil se..jy moet..dit is voorwaar n gawe wat die liewe Heer aan jou gegee het. Johan

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek