Uys en Anneke se Botswana verrassing


zoommore

zoommore

Skrywer: Uys de Vos

Vir baie jare al sien ek en Anneke uit daarna om eendag op ‘n reëndag ware Afrika met uitgestrekte vlaktes vol spesies sover soos die oog kon sien......jy weet mos....soos die Serengeti. Nou ja.......mens kan maar net droom.....

Min het ons geweet wat hier reg op ons drumpel aan die gang is. Ons was al voorheen in Botswana.....’n dag of wat in die Chobe....’n vinnige draai in die Muremi....niks indrukwekkend nie. Patrick Hill, die eienaar van Pride of Africa Safaris is ‘n ou maat van my. Hulle is gebaseer in Maun en ‘n paar maande gelede nooi hy my toe mos op sy 9dae Okavango delta toer. So gesê so gedaan en die 2e September trek ons uit Maun uit weg. Ons begin die oggend met ‘n vlug oor die “swamps”..... was dit nie ‘n gesig nie! Met die goeie reens in Angola is daar toe plekke wat jare laas water gehad het.....en die water staan so ver soos wat die oog kan sien!

Die toer is in ‘n Cruiser met klomp sitplekke agterop.....lekker ripstop dak.....yskas met ‘n koel dingetjie om die stoffies uit die keel uit te was....’n “inverter” na 220volt om die kameras te laai.....absoluut ‘n heerlike aangeleentheid! Ons gids genaamd Oats (soos die brekfis pap) was glo vroeër ‘n “spoorsnyer”....’n klein detailtjie wat ek later sou agterkom my eintlik met my dinges in die botter laat val het. Ons was skaars in Muremi toe Oats die eerste vars leeuspore sien. Hulle het vroeër die oggend daar in die pad afgestap en ons het op die spore langs gery. Later kom ons by die afdraai wat ons moet neem maar Oats dring aan dat ons eers die spoor moet volg....”I’m sure we will be lucky....” En so was dit ook. ‘n Paar honderd meter verder lê 3 mannetjies saam met ‘n wyfie wat op hitte is. Hulle het letterlik reg langs die kar gelê. Die een mannetjie het haar fyn dopgehou.....om voor die hand liggende redes natuurlik. Die hele geflirtery het hier reg voor ons afgespeel. Vir die res natuurlik is dit soos hulle sê....”what happens on safari, stays on safari....”

Die hele roete het ongelooflike foto geleenthede vir voël liefhebbers. Jy ry letterlik tot langs ‘n batteleur en neem soveel foto’s soos jou hart begeer sonder dat hy opvlieg. By geleentheid het ons op ‘n klomp ooievaars se broeiplek afgekom. Ek dink nie ek sal ooit weer ‘n “yellow bill, maribu & open bill” in een foto kry nie......ongelooflik! Steeds in die Muremi.....ons stop om na ‘n Tawny arend te kyk wat langs die pad in die boom sit. Die volgende oomblik duik hy af grond toe en skarrel in die gras ongeveer 15m van die kar af. Oomblikke later vlieg hy op met ‘n “Botswana gras-slang” in sy kloue en kom sit weer langs ons in die boom....ons kon ons oë nie glo nie.

Die volgende oggend by ‘n groot oop stuk water is dit net allerhande spesies bokke....so ver soos die oog kon sien. Dit het werklik gelyk of hulle vir ons paradeer vir foto’s .....veral die sebras en die foto’s van die verskeie patrone strepe wat saamvloei was ‘n fotograaf se droom. Die letswes het voor ons kom staan. Een het dwars gestaan en 2 het vir ons gekyk. Vir breukdeel van ‘n sekonde was hul horings in perfekte harmonie....en my vinger was op die sneller om dit te skiet.....die foto vertel die hele storie. Met die vorige seisoen se groot reëns in Angola, het die water uiteindelik in Botswana gearriveer. In die Shivute marsch het daar vir die eerste keer in 30 jaar water gestaan. Olifante, buffels, seekoeie, impalas, volstruise sover soos wat die oog kan sien. Die water spat blink in die oggendson voor die blouwildebeeste se pote. Ons eie Serengeti op ons voorstoep!

Die lug was rondom skemer bietjie dynserig wat natuurlik elke aand die mooiste sonsondergang tonele gebied het......altyd natuurlik met water of ‘n boom in die voorgrond. Die beste sonsondergang was in die Chobé.....skemer aand op pad kamp toe kry ons ‘n jong leeu mannetjie reg langs die pad by Serondela. Dit was presies toe die son net agter hom begin sak. Ons het tot reg langs hom gery dat hy teen die skemerlig gesilhoeëtteer is.....’n onvergeetlike gesig.....Afrika op sy beste!! ‘n Halfuur later by ons kamp, word ons begroet deur ‘n trop olifante wat reg langs ons tent verbystap op pad terug van die water af. Mama was natuurlik nie in haar skik met ons heininglose situasie nie maar hulle het rustig wei-wei verbygestap sonder om eers in ons rigting te kyk. Die volgende oggend het ons nog ‘n baie unieke gesig gesien.....die pelikane is glo aan die migreer en ons het hulle op heterdaad betrap waar hulle in ‘n vlak poel op die rand van die Chobé rivier met die plaaslike spesies kompeteer vir ‘n vol maag om bietjie krag te kry vir die reis wat nog voorlê. In die voorgrond was ‘n groot bobbejaan mannetjie wat toesig gehou het oor die “uitlanders”. Oral om ons was daar soveel verskillende spesies. Sommer saam-saam in dieselfde foto’s. Onderdeur die olifant se slurp staan die seekoei en die waterbok bymekaar. Bietjie verder staan en drink die vlakvark houtgerus water saam met die kameelperd. Voorheen het ek nog net bastergemsbokke in volle vaart in die verte gesien. Die laaste dag het hulle behoorlik langs die pad geparadeer om op te maak vir al die foto’s wat ons gemis het. Nog nooit voorheen het ek ‘n kameelperd sien lê nie.....ook nie ‘n olifant nie.

Ek het al oral oor olifante gesien.....Kruger Wildtuin, Etosha, Damaraland, Kaokoland, noem maar op.... Nog altyd staan dit soos ‘n klip bo water: As daar kleintjies is...bly maar weg. Hulle is iesegrimmig en keer altyd die kleintjies weg dat die grotes tussen jou en veral die heel kleinstes is. Nie in die Chobé nie. Reg langs die pad staan ‘n ma en haar baba. Ons stop toe op al ons “olifantkenners” se aandrang ‘n entjie weg. Intussen het ‘n ander voertuig vol toeriste aan die anderkant van die olifante gaan stop. Weldra het die 2 al nader aan die kar gewei. Later het die kleintjie tot teen die voertuig gestap en met sy slurpie aan die wiel gevroetel. Die ma het rustig voortgevreet en nie enige notisie van ons geneem nie. Selfs Oats het erken dat hy in al sy jare nog nooit so iets beleef het nie. Die namiddag-bootrit van Kasane af was ook ‘n hoogtepunt met pragtige seekoeifoto’s.

Ons het geen wildehonde gesien en een keer het ‘n hiëna in volle vaart by ons verbygestorm. Ons het 3 luiperds gesien en het gedink ons gaan stop by 9 leeu “sightings”. Om alles op ‘n hoogtepunt af te sluit kry ons toe die 10e groep leeus op die pad terug van Kasane na Maun....4 groot wyfies wat reg langs die pad stap.

Hierdie toer staan kop en skouers bo enige voriges!!

Vriendelike Botswana groete uit Swakopmund. Uys de Vos

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek