Tweede Asem


zoommore

Skrywer: Kallie van der Merwe

Dis Maandagoggend. Ek sit net seker so veertig minute uit Pretoria se begin-van-die week gewoel en werskaf. In ‘n koel, bewolkte, purper pers Cullinan. Maar dit voel vir my kompleet soos Pelgrimsrus, doer in die berge. Die Alfa het mooi geloop. Om die waarheid te sê, so luier-luier. As mens tot rus wil kom, help dit seker nie jy jaag jou gô uit en wil dan eers by jou bestemming skielik briek en bedaar nie. Die laaste stukkie, die mooiste deel, is kronkelpad. Oppas maar net vir gate hier-en-daar.

Die wit sinkhuisie hier oorkant die sypaadjiekafee se dakplate is rooi. Die stoepdakkie ook. Sy pilaartjies is vierkantig. Van hout, nie sulke dik, ronde pilare soos ons huis destyds in Capital Park nie. Met ‘n houtreling en stuthoute in ‘n wye kruis en Y-vormige versterking bo-aan die pilare waar die dakbalk op hulle rus. Alles mooi wit geverf. Die skuiframe is nog toe – miskien is die mense uit. Die tuintjie agter die draadheining met sy pypraam hekkie is oortrek van die staanrose en magrietjies.

Dan knor ‘n gastevoertuig met ‘n klomp toeriste straataf. Na die diamantmyn. So ‘n hoë platform een met baie sitplekke en ‘n seilkappie vir koelte. Miskien ‘n ou Bedford, wat uit die bosoorlog kom?

Mens sou vergewe kon word as jy dink hy het afgetree. Hy hardloop immers duidelik nie meer kruis en dwars oor die land nie, slaan nie as’t ware meer heeldag vure dood nie.

Maar, met hom gaan dit goed. Die enjin en onderstel beleef duidelik ‘n tweede asem. Jong, avontuurlustige rofies jaag nie meer al die rook uit hom uit sodat sy arme ringe daarvan so sag soos bloudraad word nie. Niemand smyt meer heeldag sy arme agterklap oop dat dit soos ‘n geweerskoot klap nie. Hy hoef nie meer met ‘n swaar waterkar of nog swaarder kanonwa deur die ruwe veld te beur nie.

Hy kon dit doen ja, en hy het. Die bloedige Angola-son en bevrore Vrystaatse nagte ken hy. Hy onthou hoe destyds, lank voor dit alles nog, die Sabres op maneuvers oor hom geswiep het, laer as die heuweltoppe. Hoe die troepe geskrik het, want, het hulle opgewonde vertel, eers is jy salig onbewus van alles. Dan, verbeel jy jou, of ruik jy so vaagweg iewers jetfuel? En skrik jy behoorlik jou blaker af eers nadat aluminium gevaarte beswaarlik ‘n paar voet bo jou kop verbygeblits het en die oop-gasarm flippen gedonder jou tref. En hy die verskiet in verdwyn terwyl hy so lui-lui op sy rug draai. In die bos, het jy gehoor, is die vliegreëls maar yl…

Naderhand was sy verf seker vaal, sy regtermodderskerm van al die vibrasie gekraak. Met 'n lelike skrapnel moot deur die linkerdeur. Maar dis ‘n ander storie. Toe het nuwe turbo-diesel trokke begin aankom en hulle het hom al hoe minder begin gebruik. En op 'n dag, toe verkoop hulle hom. Sommer netso…

Sy nuwe eienaars het gehou van die gesonde dreuning van sy sessilinder, sy robuuste onderstel, die groot wiele. Maar die ou kajuit en bak gooi hulle sommer sonder seremonie af, skraap sy onderstel skoon, spuit dit mooi nuut en bout vir hom ‘n nuwe pypraam op. Die een ry op die ander nuwe sitbanke skroef hulle vas en span vir hom ‘n groen seiltent - van voor tot agter. Sy nuwe bestuurder sit sommer so oop en bloot daar voor. En hier agter beklouter hom die kleurvolste mense wat hierdie ou Bedford nog ooit gesien het! Hulle is opgewonde. So lei hy af uit hulle gelag en geskerts, want van die tale maak hy maar weinig uit. Soms iewers iets wat half na Engels klink, met ‘n skewemond rol van die tong, en Hollands, Duits, Japanees. En hulle neem hom af! Tydig en ontydig. Hy is seker foto’s van hom pryk noual die wêreld vol. Wel, miskien nou nie altyd heel op die voorgrond nie, maar tog!

Sy nuwe eienaar met sy langerige hare gaan baie getrou sy water en olie na en laat sy enjin mooi opwarm, voor hy hom in die oggend uit sy slaapplek onder die afdak uitry. Hy ruil sy ratte ordentlik, al moet hy double clutch. Hulle krap nooit meer nie, en die troepies het gedink sy ratkas is oor die muur! Wys jou net.

Interessant genoeg, hy het ontdek dat hy ligter op sy voete is as ooit tevore. Hy kan vinniger wegkom, en met minder brandstof. Wie het nou pantserstaal nodig as jy eers eenmaal besef dat jy net deur respek en liefde omring word? Dat die uiterlike nie alles is nie en hoe jou ‘skeppingsdoel’ in die lewe sommer in ‘n wonderlike veelvoud van skeppingsdoeleindes ontvou? En jy ontdek hoe jou lewe met wysheid van Bo van heerlikheid tot heerlikheid kan ontwikkel? En hoeveel vreugde jy aan sovele kan verskaf en hul herinneringe kan help inkleur. Sommer net hier op Cullinan.

Die ou Bedford hoop net van harte dat dit ‘n bietjie gouer tot sy passasiers sal deurdring dat daar ‘n plek van rus is. Selfs midde-in hierdie Babilon-gedrewe wêreld: wie soek sal vind…

Maar wag, hier kom die daai uitbundige toeriste alweer! Hoop om julle ook gou op die pragtige Cullinan te sien. Probeer om dit te maak terwyl die Jakarandas uit hul nate bars!

Felix Filius

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek