Treine en konvooie
Skrywer: Basie Smalberger
DIE KONVOOI
Treine en militêre konvooie is baie dieselfde: Albei bestaan uit ‘n lang ry geordende goeters wat die leier slaafs volg, alles beweeg as ‘n eenheid en dit het voorafbepaalde roetes en stilhouplekke. Een gemene deler staan egter soos ‘n paal bo water; as hulle eers aan die loop is, is beide baie moeilik om te stop, glo my vry.
My Oom *Abrie het altyd sy stories begin met: ‘Lank voor die runderpes . . .’ Myne begin darem nie so lank terug nie. In die laat vyftigs van die vorige eeu, ek was ‘n kannetjie van omtrent sewe of agt, was ek, Pappa, Mamma en my kleinboetie, *Kosie op pad van Dealesville in ons 1939 blou Plymouth na Ouma-hulle in Senekal vir ons jaarlikse kuiertjie. Die Plymouth was eintlik nie meer heeltemal blou nie, die rooi onderlaag het al plek-plek deurgeslaan, veral op die dak, modderskerms en kopligte.
Tussen Brandfort en Winburg stop Pappa skielik.
Ongeveer twee honderd treë van die pad af, staan daar ‘n kanon tusssen ‘n klomp koeie wat rustig rondom wei! Dit was een van daardie ou twee-wiel 25 ponders wat hulle altyd agter die Bedfords gesleep het.
‘Nou hoe de dinges het die ding daar gekom?’ – Pappa het nooit gevloek nie en ‘dinges’ was een van sy ergstes.
Ek en Pappa het uitgeklim en hy het sy ou ‘Keyser Hygienic’ pyp met die Ronson parafien aansteker brandgemaak. (Hy was nie toegelaat om in die kar te rook nie.) ‘Nou wat de ongeluk maak ons nou?” (‘Ongeluk’ was ook een van daai woorde).
Die drade langs die pad was gebreek en die twee spore het eers reguit deur die lowergroen gras geloop en toe met ‘n swierige draai tussen die koeie tot stiltand gekom.
Ons wou naderstap om ondersoek in te stel, maar Mamma het kriewelrig begin raak want dit was warm en die ou Plymouth het nie eens ‘n waaier gehad nie. ‘Kom nou *Koos, jy kan dit mos op Winburg by die Polisie gaan aanmeld!’
Ons klim toe maar in en ry verder.
So twee of drie myl verder het ons ‘n konvooi weermag voertuie van agter af ingery. (Pappa kon nogal die ou Plymouth laat lóóp as dit nodig was!). Maklik, of so dink ons, nou moet ons net een van hulle voorkeer, dan is alles reg. Maar daar kom karre van voor af en na ‘n ruk kry ons eers ‘n kans en steek die agterste Beford verby.
Pa wys met die hand ‘stop’ (daardie tyd het ons nog handseine gebruik) maar al wat stop is die Bedford. Hy blaas eerder op sy toeter. Dan maar die volgende een; weer wag vir ‘n kans om verby te steek, weer dieselfde ongewenste gevolg. Kom ons probeer maar die volgende een.
Naderhand hang ek al halflyf by die venster uit en waai verwoed vir die bestuurders agter ons. Kosie sit in die agtervenster, kaal bolyf in sy Glodina doek met sy bruin rubber fopspeen in die mond en waai net so erg. Mamma beduie ook dat dit klap met die sy-sakdoekie by die venster uit, maar al wat stop is die trokke!
As jy nie reg kom met die onderdane nie, dan moet jy maar requit na die hoogste gesag! So gemaak, sukkel ons verby (wat vir my gevoel het soos honderde) van die goed; Bedfords (omtrent almal sleep óf ‘n kanon óf is vol troepe), Jeeps, panserkarre, troepedraers en alles wat jy aan kan dink.
Uiteindelik, met Winburg amper in sig, ry ons by die voorste Jeep verby.
Nou was Pappa vasberade om die spul tot stiltand te bring. Hy het al hoe stadiger in die middel van die pad voor die Jeep gery en met sy beste handtekens beduie dat hy nou eintlik ernstig is.
In daardie jare was die ANC nog ‘n onbenullige faktor, die rooi gevaar, die swart gevaar, die geel gevaar, terroriste, kommuniste, SWAPO, RENAMO, FRELIMO, Umkhonto, almal was nog net konsepte wat in ambisieuse politici se koppe gebroei het, iets om later uit te pluk as die tyd reg is om die ‘Volk’ mee bang te maak. Dit het beslis in ons guns getel, want die hele konvooi het uiteindelik van die pad af getrek en stilgehou.
‘n Kort, regop bliksoldaat mannetjie met ‘n snor soos ‘n jaartbesem en baie blink goeters op sy pet en skouers het uiters vererg met bak arms, opgeswelde nekare en rooi gesig op Pappa afgestorm en op aandag voor hom tot stiltand gekom. Aan sy sy was ‘n enorme swaard. Dit het my laat wonder; as hulle kanonne en ander goeters gehad het, watter windmeule wou hy met sy swaard aanval? Moet sê, ek het skielik aan Don Quixote en Sancho Panza gedink.
‘Generaal Majoor *Du Preez!’ blaf hy terwyl hy opkyk na Pappa. ‘Wie gee u die reg om ‘n konvooi van die Suid-Afrikaanse Leër tot stiltand te dwing?! Dit is ‘n oortreding van seksie 27 (3) subseksie 12 van die Verdedigingswet van 1934 om enigsins met ‘n weermagoperasie in te meng!’ (ek was nog nooit goed met syfers nie, kon enige ander nommers ook gewees het.) ‘Dit is strafbaar met twee jaar tronkstraf of twee honderd Pond boete of beide!’ U beter ‘n baie goeie rede hê hoekom u ons gestop het!’
Ek dink hy het altyd al sy sinne met ‘n uitroepteken afgesluit! (Oeps, daar doen ek dit ook nou.)
Intussen het al die troepe uit- of afgeklim en vorm nou ‘n skare toesighouers agter Bliksoldaatjie.
Pappa, op sy rustige manier, steek hand uit: ‘*Koos Poggenpoel, bly te kenne.’
Bliksoldaatjie weier om blad te skud: ‘Ek wag, Meneer Poggenpoel . . . !’
‘Majoor du Preez, hoeveel kanonne het julle vandag hier?’
‘GENERAAL Majoor!’ blaf hy weer. ‘U het geen reg om vertroulike militêre inligting te bekom nie, dit het absoluut niks met u te doen nie! Ek vra weer; hoekom het jy ‘n Suid-Afrikaanse Leër konvooi tot stilstand gedwing?!’
‘GENERAAL Majoor du Preez, is u seker julle het nog al julle kanonne waarmee julle vanoggend weggetrek het? Ek dink daar is een van hulle weg.’
‘Meneer Poggenpoel, jy moet my nie vir die gek hou nie, ek het nie tyd vir grappies nie! Ek gaan nou die militêre polisie opdrag gee om u te arresteer!’
Pa is nie gewoond daaraan dat iemand op hom skree nie, en ek sien hy hou hom in: ‘GENERAAL Majoor du Preez, ek is nie iemand vir grappies nie en ek besef die erns van die situasie. Ek sê weer: een van julle kanonnne is weg. Dit staan twintig myl terug in die veld tussen ‘n klomp koeie. Tel jou kanonnne en jy sal sien daar kort een.’
Ek sien Bliksoldaatjie begin twyfel; ‘Is u seker, Meneer Poggenpoel?!’
Pappa kyk hom ernstig aan: ‘Doodseker, GENERAAL Majoor du Preez.’
Bliksoldaatjie maak ‘n flink omkeer en blaf: ‘Van der Merwe! Tel die kanonnne!’
‘n Massiewe groot soldaat met ‘n uniform waarvan die broekspype en baadjie moue hopeloos te kort is, kom op aandag voor Bliksoldaatjie, salueer en kyk af na hom: ‘Ekskuus Generaal??’
Bliksoldaatjie se nekare swel op en hy word nog rooier, hy probeer nie eers salueer nie: ‘ VAN! DER! MERWE! EK! SĚ! TEL! DIE! KANONNE!’ Gelukkig was ‘Van’ so lank, anders het hy onder ‘n sproeireën vanuit die jaartbesem deurgeloop.
‘Van’ salueer flink en draai om. Nou word die duidelike boodskap van Bliksoldaatjie nog duideliker aan die ander troepe aangegee en almal skarrel teen die konvooi af.
Na 'n paar minute marsjeer ‘n verkreukelde korporaaltjie skoorvoetend nader. ‘G.g.g.eneraal, m.m.my k.k.k.anon is w.w. (diep asemhaling) w.w.weg!’ Arme man het ‘n skobbering gekry wat my, Pappa en Mamma se ore laat tuit het. Gelukkig kon Kosie nie die hoge woorde verstaan nie, maar hy het tot almal se onsteltenis (en my plesier) later van hierdie gekruide woorde op die mees ongeleë tye herhaal. Ongelukkig kan dit nie in ‘n gesinstydskrif herhaal word nie.
Dit blyk toe dat die arme korporaal die heel agterste Bedford bestuur het en dat die sleephaak om een of ander rede morsaf gebreek het.
Ons het nie gebly om te sien hoe hulle die spul weer mobiel gekry het nie. Ek glo ook nie die korporaaltjie het ‘n luisterryke weermag loopbaan verder gehad nie.
DIE TREIN
Laat ons nou so ‘n bietjie ‘fast forward’: In die vroëe sewentigs was ek ‘n tegnikus op Springfontein in die ou Departement van Pos- en Telegraafwese. Daar is ‘n treinspoor tussen Springfontein en Koffiefontein en in daardie jare het die trein in die oggend Koffiefontein toe en in die middag weer terug Springfontein toe geloop. Vandag is die infrastruktuur in onbruik verval, nog een van die hartseer stories van ons platteland op die afdraende.
Al langs die treinspoor was daar ‘n paar telefoon hooflyne wat die Springfontein, Philippolis en Koffiefontein handsentrales verbind het. Deesdae sien ‘n mens hierdie lyne maar min, die meeste is net ‘n paar eensame pale met al die drade af gesteel. Alles is met optiese vesel kabels of mikrogolf stelsels vervang.
Een oggend is die hooflyn tussen Springfontein en Philippolis buite werking. Dit het die vorige nag gerëen en die betrokke lyn is dikwels deur die weerlig afgeslaan. Aangesien die fout nader aan Philippolis was, laat weet *Charles, die tegnikus daar, dat hy dit sal gaan regmaak. Na ‘n paar uur laat weet hy dat hy vasgeval het in die modder en dat hy nie kan uitkom nie. (In daardie jare was selfone nog nie eers in wetenskapfiksie boeke nie, en het ons ‘n toetstoestel aan die drade gehaak om te toets en om te bel.)
Ek vra toe vir *Piet, my kollega, om te gaan help. Hy en *Philemon in sy bruin poskantoor uniform en opslaan brëerand hoed, in daardie jare ‘n ‘line boy’ genoem, is toe in die Toyota Stout daar weg. Ook nie lank daarna nie, bel hy ook en sê dat hy ook by Charles vassit.
Ek en *Simphiwe, my ‘line boy’ is toe daar vort in die Chev El Torro. Daar aangekom, draai ek die El Torro om en haak die Stout met ‘n stuk telfoonpaal ankerdraad en probeer hom uitsleep. Daar was nie baie modder nie, maar die boonste paar sentimeter was seepgladde turfgrond en ek het ook dadelik vasgeval. Daar staan ons toe – drie voertuie agtermekaar, neuse in die rigting van Springfontein en ons kan nie ‘n duim beweeg nie.
Ons was so ‘n paar honderd meter van Philippolisweg stasie af en die trein van Koffiefontein af het sopas daar gestop. Ek maak toe ‘n plan: Ek en die drywer, *Kobus, was goeie vriende en ek gaan hom vra om ons uit te sleep. Ek hardloop toe in die rigting van die stasie terwyl die trein stadig in beweging kom en ek waai verwoed. Tot my verbasing kom die groot stoomlokomotief tot stilstand en Kobus klim af.
Na heelwat oorreding, stem hy in. Hy is voor skedule en het dus tyd om ons te help.
Hy ry toe verby die ry gestrande voertuie en stop ‘n ent voor ons. Ons haak toe Charles se Toyota Stallion aan Piet se Stout en die Stout aan my El Torro. Ons gebruik ‘n hele rol ankerdraad en haak toe die El Torro agter aan die kondukteurswa.
Ons spreek toe af dat Kobus ons sou uitsleep en sodra ons uit die modder is, sal ek toeter blaas en hy sal dan stop. So gesê, so gemaak. Die stoom blaas, die lokomotief begin stadig loop, en met ‘n ruk span die ankerdraad styf. Binne ‘n oogwink is ons uit die modder en ek blaas die toeter. Ongelukkig maak die spoor ‘n draai en die die lokomotief is nou om die draai en buite sig en natuurlik ook buite Kobus se hoorafstand. Die geraas van die lokomotief en ook die wind wat van voor af waai, maak dat hy ons glad nie hoor nie! (Dit was later sy verskoning, kon dalk ook moedswillig gewees het, hy het so ‘n venynige streek gehad.)
Nou raak dit ‘n kakofonie van toeters wat blaas, maar al wat stop is die trein.
Ek sien al voor my geestesoog hoe ons flenters gesleep in Springfontein gaan aankom! Dis ‘n serwituut pad en gladnie in ‘n goeie toestand nie.
Gelukkig was die telefoonlyn aan die anderkant van die treinspoor, anders het ons nog ‘n klomp pale ook omgery.
Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het kom ons uiteindelik tot stiltand. Charles kom met piering groot oë aangehardloop en soos wat hy aankom, kry ek hierdie wonderbaarlike seëninge wat ook nie in ‘n ordentlike tydskrif hoort nie. ‘&$&@ my (#^$@ hart het &$@*% amper gaan *&$@% staan!
Piet lyk of hy enige oomblik gaan omkap, hy bewe soos ‘n riet en sy woordkeuse is ook onpubliseerbaar.
Philemon, Simphiwe en *Mapula, Charles se ‘line boy’ het sommer besluit dis tjaailatyd en het in hulle bruin uniforms en opslaan hoede die hasepad gekies, seker na die naaste sjebeen toe.
Kobus het hom slap gelag en te kenne gegee dat dit heeltemal teen die wet is om ‘n trein onnodig tot stilstand te bring. (gelukkig het hy nie ook die vers en kapitel van die wet gekwoteer nie.)
Nou, ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n konvooi of ‘n trein wel tot stilstand gebring kan word, maar dat dit deksels moeilik is. As jy dit wil probeer, moet jy ‘n dekselse goeie rede hê, anders kan jy diep in die sop beland.
*Skuilname is gebruik om die skuldiges en onskuldiges te beskerm.
Terug na Lesers vertel | Terug na bo
Gelewer op 14 April 2011 | 12:14:01
Kan al hierdie vertellings nie in boekformaat beskikbaar gestel word nie, dink net ure en ure se gelag en 'n baie gesonder (moontlik) mensdom. Het dit gate uit geniet! Dankie
Gelewer op 23 Maart 2011 | 09:50:04
Dankie dit was wonderlik om terug te dink aan daardie dae. Tubby Myburg
Gelewer op 3 Maart 2011 | 11:16:27
Basie - ek is so bly jy het dit ingestuur - dis te goed om verlore te gaan! Arthur
Nog resultate: Bladsy | 1 | 2


















Kommentaar