Sonskyn, sand en snorkel


Skrywer: Jaco Louw

Dit is 'n beautiful dag op Mosselbaai. Klein golfies "Sjoooeep" op die stil strand. Die helder water is ligblou waar die sand deurskyn en donker waar die rotse sigbaar is. "Bleddie Bloefenteiner" sê oud-Kovsie Frikkie, wat by ons kuier, tussen die Dominee van Pretoria en die Pastoor van Kimberley. Almal volbloed binnelanders. Afrikaners. Soos baie van die ander inwoners van Hartenbos en Mosselbaai, hierdie tyd van die jaar. Trans-Oranje. Waar die grootste gevaar in swemwater die enkele Barber moet wees.

Voor ons kampplek, op die wal by Santos, is 'n pragtige rif wat see-in loop. Dis hier waar groot branders soms snags slapeloos raas, maar nie vandag nie. Dis waar 'n wye verskeidenheid snorkellywe al dobberende die somerhitte ontvlug. Sonder duikpak in die lekker water, wat my goed pas. Jip, laat ons maar eerlik wees, Neoprene krimp met tyd, dis nog net die booties van my 5-jaar oue duikpak wat nog lekker sit. En die bril en snorkel. Vreemd!

Ek neem my vrou vir die avontuurlikheid. Sy is nie juis die beste duiker nie, ek snork waarskynlik met meer oorgawe as wat sy snorkel. Maar om my ter wille te wees willig sy in, ons laaste probeer in Mauritius nie 'n goeie voorspooksel nie. Toe het die Namakwalander amper versuip met die vreemde voetgoed, die bril, die snorkel en nog 'n bietjie engtevrees ook. En ek kon nie VERSTAAN dat iemand nie met paddavoete skuim kan skop nie.

Ek help met die duikbril, spoeg en vee en spoel, en sit die snorkel mooi op die regte plek. "Dis koud" se sy oor die soel water. "Val net op jou maag, jy sal dryf" sê ek. Uiteindelik gesig in die water, sien ek vroulief se voete trap sulke refleks skoppies. Net soos die Jack Russel as jy hom uit die swembad red en sy toonnaels raak nog die water. Skop-skop. Dis nie vir haar lekker nie, en na 2 kolsterte en 'n rooiaas is sy klaar gekyk. Ek help haar terug land toe en draai dan om my eie verkenningstog voort te sit.

Vroutjie vertel later dat sy, so met haar uitstap terug handdoek toe, gehoor het hoe blaas die fluitjies. Al die swemmers storm uit die water by die swemstrand. Maar die duikers, ore in die water, hoor nie die feestelikheid nie en swem voort. 'n Lewensredder op 'n kanoe kom druk die naastes uit na die klippe, maar my duidelike Blou paddavoete is nog lustig aan die plas, ver in die oop water op 'n diep rif. Ek het 'n gehoor op die wal, die trappe staan vol mense wat bietjie hoogte soek. Om beter te kan sien, sien?

Ek hoor iemand roep, en weer. Die lastigheid laat my opkyk. "Haai!" se die vriendelike man op die polisieboot. "Haai!" sê ek nadat ek my snorkel uitgespoeg het, en wuif gesellig terug...

Ek swem terug land toe, bo die water, klaar met duik. Ek voel al die tande hap-hap aan my tone. Is vlinderslag vinniger as vryslag? Uit die hoek van my oog sien ek in die fênsie kantvensters van my High Tech duikbril allerhande skaduwees in die skielik troebel water. Ek klim uit op 'n klip waar ek nog nooit vantevore mense sien staan het nie, die Naaste en Eerste stukkie droë grond.

Frikkie lag: "Hulle moes sekerlik dink dis net 'n bleddie Bloefenteiner wat groet as hy moet swem!"

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 19 Januarie 2012 | 09:39:33

Kosbare herinneringe!! Ons het by familie gaan koffie en swem op die einste mooie strand. Ek het tot oop oê geswem om die visibilty te geniet! Dit was die 30ste Des? Dierbare kampeerders by Santos!! Ons het gehoor vd haai waarskuwings vroeer die dag! Wens daar was plek op motorfies vir snorkel gear!

Gelewer op 18 Januarie 2012 | 18:41:57

Sjoe, ek is impressed. Yolandi

Gelewer op 17 Januarie 2012 | 13:42:43

Ek het die storie baie geniet.My dag is gemaak.Dankie

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek