Ryloop in Suid-Afrika
Skrywer: Ronnie Langley
Die dae van troepies oplaai - en trots voel oor jou bydrae - is al amper twee dekades verby.
Vandag is ryloop `n gevaarlike sport ...vir die ryloper en die barmhartige samaritaan.
Om ryloop veiliger te maak, is dit belangrik om die mense waarmee jy saamry voor die tyd beter te leer ken en ook hul voertuig deeglik te ondersoek vir padwaardigheid. Dan is daar die kwessie van waar mens gaan sit in die kar. Is daar regtig plek vir jou tussen al die bagasie?
Ons het hierdie lesse weer geleer tydens ons Desembervakansie op pad vanaf Stormsriviermond na Kaappunt.
Laatmiddag op ons laaste dag by Stormsrivier, sien ons `n `tiener’ dassie rondhardloop tussen die bossies en my Freelander. Hy klouter selfs binne die wiel en loer deur die gaatjies vir ons. Dan spring hy weer af en huppel terug bossies toe – te cute vir woorde.
Min het ons geweet, dat wat ons sien, deel van die voertuig-inspeksie en die evaluering van sy saamrygeleentheid was!
Die volgende oggend word daar vinnig gepak, want die pad is lank na Kaappunt en ons moet die sleutel van die Olifantsbos huisie kry by Buffelsfontein-inligtingsentrum voordat hulle toemaak. Voorraad moet ook nog iewers langs die pad aangevul word.
Die N2 is pragtig en in `n goeie toestand en die verkeer lig. Ideale toestande vir agteroorsit, spoedbeheer aanskakel en ons land se natuurskoon geniet, totdat die spoedbeheer ewe skielik afskakel. My spanningsvlak styg bietjie, maar dis darem nie `n noodsaaklike funksie in die kar nie en behoort nie ons vakansie te bedreig nie.
`n Paar kilometer verder sien ek egter skielik `n pluk aan die toereteller en die koppelaar gly! My spanningsvlak styg sommer `n hele paar punte. Die koppelaar is wel `n noodsaaklike funksie vir die res van ons vakansie (en die sowat 2500km wat nog voorlê om terug te kom in Gauteng). Ek hou asem in tot by Riversdale, trek dan af en maak die enjinkap versigtig oop ...reg om begroet te word met die aaklige brandgeur van `n koppelaar wat gly, maar kry `n groter skok vanuit die koppelaarskakel: die vriendelike glimlag van ons ryloper!
Wat nou gedoen? Los ek ons `tiener’ dassie in die enjin kan hy maklik `n grusame dood in die waaier of die vele ander bewegende dele sterf. Hy kan ook groot skade berokken as hy nie mooi kyk waar hy trap of knaag nie. Ons ryloper neem egter die besluit namens ons. Hy weier om uit te klim en verdwyn dieper binne die enjin in tot waar ek hom glad nie meer kan sien nie ...nie eers met `n flits nie.
Ek leen die motorhawe se tuinslang en spuit orals onder die enjinkap, maar geen dassie spring uit nie. Ons ry na die Toyota handelaar wat inwillig om die kar op te lig en die enjinskermplaat te verwyder. Weereens is daar geen dassie sigbaar nie, selfs nie met die handelaar se skerp ligte nie. Het ons ryloper besluit om skelmpies 'n ander geleentheid te soek?
Ons tyd loop uit, bietjie meer as `n uur het verlore gegaan en die pad is nog lank. Ons ry sonder voorval tot by Riviersonderend en stop vir `n melkskommel. Terwyl ons wag vir ons bestelling, lig ek maar weer die enjinkap om seker te maak daar is geen ernstige skade in die vorm van knaagmerke aan van die pypwerk nie.
Miskien het ek dit so half verwag en is die skok hierdie keer nie so groot nie. Ek word weer begroet met `n vriendelike glimlag, so mooi soos my vrou vir my gegee het voor ons troue!
Daar is geen salf meer aan te smeer nie en ons moet maar Kaappunt toe met ons ryloper. Dis in elk geval nie goeie etiket om `n ryloper sommer uit die kar te gooi nie.
Ons haal Kaappunt, kry die sleutel en parkeer voor 'ons' Olifantsbos huisie op die groen grassies. Wat `n voorreg om in soveel weelde langs die onherbergsame strand te kan uitspan. Hierdie huisie-alleen is voorwaar `n plek waar mens kan asemhaal en heel word ...en ons ryloper dink ook so! Binne `n paar minute na stilhou is hy uit die kar en hardloop oral rond ...totdat dit donker word.
Sal hy sowaar aan die deur klop om in te kom? Kort-kort loer hy deur die venstertjies in die deur en later spring hy op die vensterbank en loer vir ons. Ek sukkel om die kinders te oortuig dat ons nie moet inmeng nie en mnr. slaap buite ...of dalk weer onder die enjinkap.
Twee dae later op ons eerste sonnige oggend hoor ons die roepgeluide van dassies op die heuwel agter die huis. Kort daarna antwoord ons ongenooide gas, al klaar halfpad daarheen op pad. Ons het dus alle reëls oortree deur `n `troeteldier’ in die park in te neem, maar asb SANPARKE, dit was nie ons besluit nie!
Terug na Lesers vertel | Terug na bo
Gelewer op 16 Maart 2012 | 04:33:02
Hallo julleEk mis sommer vir julle. Wil net viinng hallo sea. Hoe gaan dit in Jhb? Ons was mos laasweek daar by ma hulle vir so 3 dae. dit was definitief te kort. Karla is seker al groot. Ek wag vir nuwe fotos hoor! Julle moet lekker bly en laat dit goed gaan.Ek kry vir pappa so jammer. Hy het darem `n maraton operasie gehad. Eks bly dis nou verby en dat hy nou net kan beter word.Dis erg wat met Donavan hulle gebeur het.Wel soet wees en ek mis julle baie.Liefde Soekie
Gelewer op 24 Februarie 2012 | 07:36:51
Hahaha, die arme dassie. Maar dis eintlk interesant want nou weet ons hoe diere se kolonies vars genetika inkry
Gelewer op 24 Februarie 2012 | 07:17:53
Praat van waagmoed en horisonne verbreed. Die dassie is ook nog kieskeurig en kies sy voertuie versigtig. Ek is seker hy het net vir die vakansie vir sy familie in Kaappunt gaan kuier en is alweer terug by Stormsrivier.
Nog resultate: Bladsy | 1 | 2



















Kommentaar