Lesotho ervaring


zoommore

zoommore

Skrywer: Rina Bruwer

Ons was met ons jaarlikse vakansie en het by Golden Gate begin. Alhoewel dit laat Oktober was, was dit koud en het dit die hele naweek daar gereën.

Omdat ons so naby aan Lesotho was het ons besluit om eendag daarheen te ry en te sien hoe dit daar lyk. Dit was egter nie deel van ons vakansie nie. Ons sou so al langs die wildekus af ry tot in Kaapstad.

Ons het die aand van 25 Oktober 2010 in Ladybrand geslaap. Die volgende dag was dit Elisma se vierde verjaarsdag en toe besluit ons om haar Lesotho toe te neem vir die dag. En dit toe net waar al die moeilikheid begin het.

Dinsdag 26 Oktober 2010
Ons maak Elisma redelik vroeg wakker en wens haar geluk met haar verjaarsdag. Sy is nie baie beïndruk met die vroeg opstaan nie. Later blaas sy haar kersies dood en maak haar geskenke oop.

Pieter is haastig om deur die grenspos te kom. Binne ‘n ommesientjie is ons by die grenspos en gaan deur sonder te veel moeilikheid. Pieter en die een vrou stry oor ‘n bietjie vodka wat sy in die boswa sien. Gelukkig sien sy nie die res van Pieter se voorraad agter in die boswa nie.

Maseru is vir my ‘n groot verassing. Dit is ‘n pragtige moderne en netjiese stad en as jy nie van beter weet nie sal jy dink jy is terug in Suid Afrika.

Almal is vriendelik en ons kom per geluk by die toerisme kantoor uit. Die hoof van toerisme kom verwelkom ons persoonlik en kyk dat ons parkering kry. Toe sy hoor dat dit Elisma se verjaarsdag is, sing almal eers en maak ‘n groot ophef van haar.

Binne in die gebou is daar ‘n curio-winkel en ons koop vir ons pragtige aandenkinge.
Ek en Carlene sien pragtige muurborde by ‘n smous langs die pad. Ons smeek Pieter om te stop sodat ons van dit kan koop. Hy ry verby en verseker ons dat ons nog honderde sulke stalletjies gaan sien. Ons kan by een van hulle in die binneland koop. Min het ons geweet dit was die laaste stalletjie, en dat daar glad nie sulke dinge in die binneland bestaan nie. Wat nog te sê enige dorpe.

Ek voel dat ek nou genoeg van Lesotho gesien het en probeer Pieter en Carlene ompraat dat ons weer moet terug gaan na Ladybrand.
Carlene het egter nou Lesotho koors en sy praat Pieter om om verder te gaan. Om alles te kroon loop Pieter hom in ‘n dokter vas wat in Lesotho bly. Hy sê vir Pieter dat ons in een dag deur Lesotho kan ry en dan met die Sanipas uit kan gaan. Hy sê ook dat ons by Thaba Tseka kan brandstof kry.

Ons ry op ‘n lieflike teerpad uit Maseru en ek voel ‘n bietjie beter. Ons kan selfs nog na RSG luister op die radio. Lesotho bestaan net uit berge en die pad kronkel teen die een berg na die ander uit. Die afgronde is egter ‘n demper vir my op die mooi dag.

Ons besluit om af te draai na die Mohaledam en eers ‘n laat ontbyt te maak. Ons parkeer langs die pad en kry die gasstoof van die boswa aan die gang. Gou het ons vir ons ‘n heerlike ete gemaak. Later sien ons dat die veewagters ons met oop monde sit en dop hou. Ek dink hulle kon nie glo wat hulle sien nie. Ons vat eers vir elkeen van die wagters van die kos wat ons eet. Hulle bedank ons met wit tande en lê smaaklik weg aan die kos. Elisma speel met die klippe langs die pad. Terwyl haar ma haar afneem besluit sy om ‘n klip na haar te gooi. Carlene kon net betyds haar kamera weg ruk, die klip het amper haar lens getref. Waar ons staan kan ons af kyk op die dam wat tussen die berge deur kronkel. Die dam is nie vreeslik vol nie maar is tog nog ‘n mooi gesig om te sien. Ons besluit om na die wal te gaan kyk. Die man by die hek is egter met ete en weier om vir ons oop te maak. Ons moet maar weer omdraai wat ons het nie baie tyd om te mors as ons nog voor 18h00 by Sanipas wil wees nie.

Ons ry verder soos die dokter ons beduie het en skielik stop die teerpad en so ook die radio se ontvangs. Ons is nou op ‘n grondpad wat op en af teen die berge kronkel met geweldige afgronde aan die een kant. Daar is darem nog so af en toe ‘n voertuig van voor af. Dit voel of die pad net nooit gaan stop nie. Die tyd kruip ook ongemerk aan. Ons stop nou kort kort by van die mense langs die pad. Hulle kan jou nie werklik verstaan maar elkeen wat jy vra sê Sanipas is nog twee ure se ry van daar af.

Dan is Thaba Tseka skielik voor ons. Dit is ‘n klein gehuggie en ons probeer vasstel waar die motorhawe is sodat ons kan diesel ingooi. Die naald het intussen onrusbarend ver gesak. Dan sien ons ‘n pomp wat in die middel van nêrens staan. Pieter trek dadelik agter die bakkie in wat besig is om brandstof in te neem.

Toe dit ons beurt is se die vrou dat haar diesel klaar is. Sy kan ook nie vir ons sê wanneer daar weer by hulle brandstof afgelewer word nie. Dalk volgende week sê sy. Dit voel of my hart wil gaan staan en ek kan nie die trane keer wat oor my wange loop nie. Ek weet toe sommer dat ek nie verniet so onrustig was nie. Ook Carlene se opgewonde gebabbel het stil geraak. Elisma kan seker aanvoel iets is nie reg nie want sy sit stroopsoet op die vloer van die Land Rover en inkleur. Sy wil nie op die sitplek sit nie want sy word bang as sy die afgronde sien.

Pieter praat mooi en die vrou begin pomp in ‘n kan in. Sy slaag daarin om nog 20 liter uit te pomp. Toe is die diesel heeltemal klaar.
Met swaar harte ry ons verder. Later stop ons en ek maak vinnig vir Elisma iets om te eet. Ons ander het egter almal ons eetlus verloor. Die son is besig om vinnig te sak en daar is nog geen teken van Sanipas nie. Daar is ook geen verkeer meer op die pad nie. Ons ry egter net voor donker by ‘n bakkie verby wat staan en kook. Hy kon nie die pas uitkom nie.

Met die son reg van voor in ons oë kruip ons by die een pas na die ander op met die skrikwekkende afgronde aan die kante. Later kan jy amper nie meer sien waarheen die pad draai nie. Die son verblind ons heeltemal.

Die werklikheid dring nou tot ons deur. Ons gaan Sanipas nie betyds haal nie. Die grenspos sluit 18h00 en open eers weer 06h00 die volgende oggend.

Niemand praat meer nie en ek dink dieselfde gedagte draai in elkeen se kop, “waar gaan ons slaap vannaand?” Dit is ook bitter koud buite. Ons kan nie eens oorweeg om die boswa iewers staan te maak nie. Dit voel ook heeltemal onveilig. Oral kom jy mense langs die pad teë.

Ons is ook nie meer seker of ons nog op die regte pad is nie want daar is geen padaanwysings nie. Ons stop weer by ‘n man langs die pad en hy bied aan om saam te ry en vir ons die pad te beduie. Na ‘n uur vra hy ons om te stop. Hy is nou waar hy wil wees. Hy beduie weereens in ‘n rigting en verseker ons Sanipas is nog 2 ure se ry.

Dit is ook nou bitter gevaarlik om so in die nag op die paaie met die afgronde te ry.
Dit is al 20h00 uur en nog steeds is daar geen teken van Sanipas nie. Dan sien Pieter in die ligte van die Land Rover ‘n sinkplaat teen die pad. Op die plaat is daar en blou verf geverf “B & B”.

Op die ingewing van die oomblik draai hy af. “n Entjie vorentoe sien ons ‘n huis. Ek kan ook water hoop kabbel. Daar loop ‘n rivier langs die huis verby.
‘n Swart man kom ons tegemoet. Hy verseker ons dat hy vir ons slaapplek het. Die tarief is R80.00 ‘n persoon. Hy verduidelik dat die toeriste wat kom perd ry in die berge altyd daar oornag. Ek is egter vreeslik ontsteld. Dit is slegs ‘n kamer in sy huis wat hy afstaan. Daar kom ‘n vrou wat te veel gedrink het verby en dit voel of my hart wil gaan staan. Ons moet ook maar versigtig buite loop, die honde wil ons byt.

Daar brand net ‘n olielamp in die kamer. Daar is ‘n klomp stapelbeddens in die kamer en die beddegoed lyk darem skoon. Dit lyk darem nie of iemand anders voor ons in die beddens geslaap het nie. Daar lê egter oral klere en skoene van die huismense rond.

Toe ek vra waar die badkamer is kyk een van die vrouens my dom aan. Dan beduie sy na die long drop langs die huis. Die man moes seker gesien het dat ek bitter bang is, want hy bring vir ons ’n sleutel sodat ons die deur kan sluit.

Ek het vinnig die boswa se gasstoof aan die gang gekry en sy ligte aangesit sodat ek kan sien wat ek doen. Weereens het die mense hulle verkyk aan hierdie wa wat ligte het en sommer ‘n stoof ook, om nie eens te praat van die yskas nie.

Ek het vir Elisma sommer ‘n koppie “cup of snack” gemaak. Nie een van ons ander het kans gesien vir eet nie. Elisma het haar egter gate uit geniet. Sy het my skootrekenaar gehad en die hele aand rekenaar speletjies gespeel. Min gepla oor die omstandighede. Ek het gesweer dat ek nie in die bed sal slaap nie. Later het die moegheid en koue my daar ingedwing.

Woensdag – 27 Oktober 2010
04h00 die oggend maak Pieter ons wakker. Sonder teëstribbeling is ons almal in die Land Rover in. Nie een van ons het kans gesien om te wag vir die ontbyt nie.

Toe dit lig word besef ons dat daar nie meer so baie afgronde is nie. Ons ry nou bo op die kruin van die Drakenberge. Om 06h00 bereik ons Sanipas grenspos.

Dit is presies 2 873meter bo seespiëel en ysig koud. So ‘n entjie verder is daar oorblyfsels van ‘n ou gebou wat met klippe gebou was. Ek en Carlene wil gaan foto’s neem maar moet vinnig padgee toe die honde wat daar rondloop ons wil byt.

Ons moet Elisma in ‘n kombers toedraai so koud is dit, voor ons haar by die grenspos inneem. Die beamptes is gelukkig vriendelik en ons is vinnig deur.

Nou lê die berugte Sanipas voor. En niemand het oordryf nie. Dit is geweldig styl daar af en boonop is dit nog ‘n grond pad wat so teen die Drakansberge af kronkel. Dit is die een haarnaald draai op die ander.

Ons kruip behoorlik daar af. Die Land Rover het nog die boswa agter hom wat van agteraf stoot. Ons sien die wrakke van ‘n paar voertuie wat daar af getuimel het. Ek glo nie dit is moontlik om ‘n voertuig wat daar af gerol het weer uit te haal nie. My gemoed is egter nou baie ligter. Ons is op pad terug na Suid Afrika en die pas is amper iets van die verlede. Skielik kry ons weer diere en voëls langs die pad. Dan lê die Suid Afrikaanse grenspos voor ons en ek gee ‘n sug van verligting. Ook daar is ons vinnig deur en is ons weer op vaste aarde.

Op Himeville aan wat net 8 km van Underberg af is, het ons brandstof ingeneem voor ons verder kon vertrek.
Op daardie stadium was Lesotho een van my ergste nagmerries. Nou egter oorweeg ek dit om weer daarheen te gaan. Maar hierdie keer sal ek sorg dat ek deeglik voorberei is.

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 4 Januarie 2012 | 10:13:32

Ons was ook gedurende Oktober in Lesotho. Ons het van Zastron na Katze dam gegaan waar ons oorgeslaap het en van daar by Sanni Tops en die volgende dag af na Himeville. Lesotho is voorwaar 'n goeie ondervinding. Vinnig kan daar beslis nie gery word in al die passe nie. Dit is jammer julle het 'n groot deel in die donker gedoen, dit is nogal 'n asemrowende gedeelte. Ons het ons ook misgis met die dat ons gedink het Sani Tops is aan die SuidAfrikaanse kant en ons jaag vir die grenspos, gaan daardeur net om uit te vind dat dit nog in Lesotho is. Gelukkig was die grenspos personeel, seker agv ondervinding, baie vriendelik en ons kon oorbly en net die volgende oggend as die pos oopmaak verder ry. Ons oorweeg weer 'n toer in die rigting maar wil nou die ander roetes gaan sien en ervaar.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek