Lesotho deur die oog van 'n vrou
Skrywer: Elsona Viljoen
Ek het gewonder wat is dit omtrent Lesotho wat ons mense fassineer? Is dit die Sanipas of die Katsedam? Of om saam met die mummie gedraaide Basoeto’s die koue hoogtes te trotseer? Wat maak hierdie 30 355vk km so besonders?
Einde April 2009 het ons besluit om te gaan kyk. Ons was vyf voertuie wat in patrollie die Sanipas toegemoet gery het. Aan die begin van die pas was hulle besig met die eerste fase van die teerpad. Ons is egter gou deur die Suid-Afrikaanse Grenspos en kon toe in verwondering na die asemrowende hoogtes van die Drakensberg kruie. Stadig, zig-zag het ons die hoogste kruin bereik. Net soos al ons voorgangers moes ons ook ‘n drankie by die hoogste kroeg in Afrika, 2 874m bo seespieël, geniet. En die oomblik toe ons op die landsbekoring cheers, was die koue vergete!
En daar sien ek hulle. Bewegende Basoeto mummies.
Skaars 3km na die hoogste kroeg. Nie in wit gekokon nie, maar in sombergrys komberse. Met sombergrys balaklawas. En spierwit waterstewels. Soos ons mense in melkerye dra. Die natuur het ’n metamorfose ondergaan. Van die lowergroen aan die oostekant van Sanipas, na ’n harde vaalgroen aan die westekant. Ons ry toe al met die Black Mountain Pass wat saam met die kontoere loop. Skerp steiltes op, dan weer dramaties vinnig af na die vallei op pad na Mokhotlong, 52km van Sani Top.
Die angorabokke het geblink in die namiddagson. Elke klompie kilometers was produktiewe sink skeerkrale. Soos ons deur die statjies en afgeleë dele ry, was ek verwonderd om televisieskottels by Basoetohutte te sien. Tussen Mokhotlong, wat beteken ‘the place of the baldheaded ibis’, en Ha Thuube ervaar ons toe ietsie Kaaps. Klipgooi! Ons hou toe stil en rapporteer die insident. Maar nouja. Die aand was dit reeds sterk skemer toe ons die Katsedam bereik. Met die damwal se ry brandende liggies en die maan wat in sy vol grootte bo hom waghou, het ons ons slaapsakke tot oor ons ore getrek en die dag gegroet. Môre is nog ‘n dag.
Die volgende oggend is ons vir ’n toer in en op die Katsedamwal in die Malibamat’so Rivier.
Hierdie indrukwekkende dam is in 1996 voltooi. Met sy hoogte van 1993m bo seevlak verdien hy die titel van die hoogste dam in Afrika. Ons ry toe al in die klowe en langs die damwater noordwaarts. Plek-plek is daar loopbrûe oor die rivier. Teen die hange miniatuur miedens soos grafsteentjies gepak. Hier en daar vrouens wat koring wan soos ons voorvaders. En so in die ry wonder ek hoekom Sol Kersner nog nie ietsie gedoen het nie. Die water is daar. Die natuurskoon is daar. Die hande-arbeid is daar. Maar ek is bly hy het nie, want sou Lesotho nog dieselfde bekoring gehad het?
Noord van Lejone op ’n hoogte van 3 727m draai ons reg oos en ry in die rigting van Mothae. In 4 X 4 trek ry ons verby myn-bedrywighede. Dan al kronkelend, skeef-skeef teen die hange uit. Die lug is hier so skoon dat dit jou longe brand en dis toe net daar dat ons besluit om kamp op te slaan.
Die volgende oggend reis ons verder in die rigting van Butha Buthe.
’n Grondpad met stukkies teer! Ons gaan oor die Tlaeeng Pas wat spog met sy hoogte van 3 255m. En vir die eerste keer weet ek wat beteken die ‘Dak van Afrika’. Ons gaan kyk na die sneeulose Afri Ski Oord en ry verder noord. Selfs die riviere loop teen meters bo seevlak. Soos die Malibamatso Rivier wat 2 525m bo seevlak vloei. Ons rollercoaster deur die land. Op en af. ’n Land met ver horisonne. ’n Land met geskiedenis-dieptes. Op pad na Khukhune, oor Moteng, ry ons die mooiste pas ooit. Selfs die Leba Pas in Angola sal sukkel om die pas te ewenaar. ’n Goeie moderne teerpad. Dan tref ’n nuwe landskap ons. Sandsteenrotse. ’n Lushof vir die oog.
Maseru, vroeër jare ’n polisiekamp wat in 1896 gestig is, is vandag ’n ontwikkelde stad wat vernoem is na die rooi sandsteen heuwels in sy sentrale deel.
Op die deurry-roete pronk moderne geboue, maar die sypaadjies kreun van die sinkhokke en skape. En ek sing in my hart saam met Anton Goosen: “Maar wat ken ek anders . . .” Ons draai af na Thaba Bosiu. Volgens oorleweringe word die legende vertel dat Thaba Bosiu bedags ’n heuwel is, maar snags in ’n berg verander. Die plek het ook kultuur historiese waarde, want dis hier waar die Basoeto-nasie van uitsterwing gered is. ’n Ware toersimeparadys! Daarna vat ons die pad na Roma, Lesotho se universiteit-stad. Die aand kamp ons by die Trading Post Guesthouse met sy witgeverfde bedsteile in die blom-akkers.
Vroeg die volgende oggend vertrek ons op die Maloti Roete na Semonkong.
Teetyd was ons by die Maletsunyane Valle, wat sy naam van die Franse Katolieke Sendelinge gekry het. Ook bekend as een van die hoogste watervalle in Afrika, met ’n val van 192m. Ons gaan kyk ook waar die Guiness World Record vir die hoogste georganiseerde abseiling met ’n hoogte van 204m, gehou is. Ná Moriija, die oudste sendingstasie in Lesotho, ry ons suid in die rigting van Mohaleshoek. Baie hutte langs die pad spog met sonpanele. Toe tref die klippe ons weer. Ons ry egter voort tot by Malealea waar ons die voorval rapporteer en die aand oornag.
Met ons laaste dag in Lesotho dink jy daar kan nie nog mooi dele wees om te sien nie. Suid, op pad na Tele Gate, het die landsbekoring egter nie opgehou nie.
Dit was asof die natuur met ’n verfkwas bygekom is. ’n Palet van kleur. Ook op my hart het Picasso ’n spatseltjie verf gelos. En ek wonder nie meer wat Lesotho anders maak nie. Ek weet!
Terug na Lesers vertel | Terug na bo

















Kommentaar