Knysna, Katimo en Klusener
Skrywer: Hannie Pistorius
Calie, ek en ons vriende, Naas en Gloria Rabie en Hugo en Ernie de Villiers was almal afgetrede oud-Pretorianers wat destyds in Knysna gewoon het. Ons het meesal ‘n luilekker lewe gevoer, maar het kort-kort die pad gevat om ver plekke te gaan verken.
Op die 2de Junie 1999 stem ons almal eers in die Algemene Verkiesing en vertrek toe op 'n safari deur Kgalagadi Nasionale Park en Namibië - Calie en ek in ons viertrek Isuzu 280KB met daktentjie, Hugo en Ernie in hulle Toyota dubbelkajuitbakkie met daktentjie en Naas en Gloria Rabie in hul seun Dawid se ingerigte VW Kombi. Ons is loslopers met baie tyd, en daarom het ons slegs vae buitelyne vir ons reis getrek. Ons draai uiteindelik eers by Katimo Mulilo om waar Naas gelukkig genoeg was om die skaars Livingstonloerie te sien. Ons toer dus van loerie tot loerie, van Knysna tot by Katimo – en terug. Met Klusener tussenin.
Calie het sy volledige amateurradio-toerusting aan boord en ons het ook burgerbandradio-verbinding tussen die drie voertuie sodat ons nie nodig het om binne sig van mekaar te bly nie. Dis veral nuttig as die Rabies, wat fanatieke voëlkykers is, langer wil stilhou by nog ‘n LBJ. Ek weer is ‘n sportentoesias en volg graag tennis, krieket, rugby, seilsport, ruitersport en atletiek op TV of radio. Ons reis dus met RSG aan om te hoor wat by die krieket-wêreldbekertoernooi in Engeland gebeur. Dusver het dit redelik goed gegaan met die Proteas, maar in ‘n mens se agterkop bly die spook van ‘chokers’ wat ons manne agtervolg.
Ons vorder die eerste dag oormoedig tot by Prieska waar ons gevolglik na donker moes kamp opslaan - nie ‘n baie wyse begin vir ‘n lang safari nie. Die volgende dag ry ons tot op Upington, waar ons soos gewoonlik by O’Hagan’s op die walle van die Oranje calamari geniet voordat ons kamp opslaan by die Eiland. Vandaar vertrek ons die volgende dag na Twee Rivieren in die Kgalagadi Nasionale Park. Ons hoor van die Parkpersoneel dat Suid-Afrika Pakistan met vyf paaltjies geklop het en dat Lance Klusener weer man van die wedstryd was. Almal is opgewonde maar noem tog die vrees vir ‘choke’.
Ons word op ‘n baie insiggewende nagrit geneem deur ‘n paar jong veldwagters van wie ons heelwat leer van bome, plante, diere en hulle gewoontes en veral van die sterre, wat hier natuurlik pragtig helder is. Van hier ry ons kuier-kuier na Mata Mata. Ons sien groot troppe gemsbokke en springbokke, meesal in die interessante droë Aoubrivierloop met groot bome nader aan Mata Mata. Ons verloor radiokontak op die kommersiële radio, maar vang op die amateurradio die Duitse stasie in Namibië op en hoor so vir die eerste keer dat die Namibiërs ook gaande is oor ‘ons’ Proteas wat so goed vaar. Hulle is ook bekommerd oor ‘choke’.
Die aand van 6 Junie vier ons Calie se verjaarsdag, kompleet met sjampanje en nagereg. Die res van die geselskap raak ook nou begeesterd oor die krieket en ons drink sommer op ons Proteas ook ‘n heildronk uit ons boskristalglase. Kyk, daardie nag kry ons KOUD! Yskristalle vorm aan die dak van die tentjie en drup op ons as dit begin smelt. Selfs die bakkie se windskerm ontwikkel ‘n yslaag aan die binnekant.
Van Mata Mata reis ons na Nossob, waar ons twee nagte deurbring, sodat ons ook na Union’s End kon ry vanwaar Calie radiokontak maak met ‘n amateur in Kanada en ook met ons vriend Ken in Pretoria. Ken vertel ons die jongste krieketnuus.
Ons laaste nag in die Park is weereens by Twee Rivieren vanwaar ons die volgende oggend baie vroeg vertrek om, op aanbeveling van Mnr Engelbrecht die Parkhoof, met ‘n minder bekende pad al langs die Park deur die Miergebied na die Rietfontein-grenspos met Namibië te ry. Calie skakel die GPS aan, maak kontak met amateurs ingeval ons sou verdwaal of probleme optel. Natuurlik was daar geen probleme nie en die pad baie goed. Ons is die enigste mense op hierdie pad en waar ons veewagters raakloop vra ons oor die pad. Hulle praat ‘n pragtige Afrikaans en ons gesels lekker.
Loubos (Leeubos op party kaarte) is ‘n groterige nedersetting met ‘n HOP-ontwikkelingsprojek, Kleinmier bietjie minder so en Rietfontein is heeltemal ‘n groot dorp met ‘n skool, koshuis, gemeenskapsentrum en dies meer. Net buite die dorp is die grenspos, waar almal weereens Afrikaans praat. Hulle is ver genoeg van Gauteng om te glo GP op die nommerplaat staan vir ‘God’s People’! Hierdie mense gesels ook krieket en is duidelik baie goed ingelig, maar vrees ook die ‘choke’-spook. Ons hoor by hulle dat Suid-Afrika Nieu-Seeland geklop het met 74 lopies. Ons is vinnig deur aan albei kante en toe op die goeie Namibiese grondpad na Keetmanshoop.
Daar aangekom ontdek ons dat die hele ‘goeie grondpad’ in dik lae agter in ons bakkie lê, tenspyte van Calie se pogings om die kappie stofdig te maak. Ons moes maar uitpak en afstof en Naas voorsien die kappie in ‘n japtrap van ‘n laag seëlaar wat die res van die toer die stof min of meer uithou.
Hiervandaan is ons na Brukkaros waar ons tot by die krater klim, en daarna na die Hardap-dam waar ons in tierende wind die aand ‘n heerlike ete maak met my koolkop en Ernie se blink idee. Ons stop die koolkop met gebraaide spek en uie, vul appels met rosyne, kaneelsuiker en OBS, vou die kool, appels en aartappels in foelie toe en maak alles op die vuur gaar saam met lekker varktjops. Die nag waai die wind ons amper uit die tentjies uit. Ons rit die volgende oggend deur die natuurreservaatjie lewer eintlik niks op nie, die diere is seker ook deur die wind verwaai.
Calie kan die ongelooflikste stories opdis, en volgens hom is ons toe op pad na die ‘Groot Stad’ Mariental. Ons vermaak mekaar via die radio met stories oor die groot parade wat hulle ter ere van ons sou aanlê, kompleet met mej. Mariental in haar ‘Brukkaros’ wydsbeen oor ‘n biervat op ‘n koets. Daar was natuurlik geen teken van ‘n feesviering nie, maar in Mariental koop ons heerlike pasteitjies, en by die bakkery hoor ons dat daar wel ‘n paar weke later ‘n groot fees sou wees, ons was net te vroeg daarvoor! Hulle vertel ook met lang gesigte dat ‘ons’ Proteas teen Australië verloor het in die ‘Super Ses’-wedstryd. Die ergste van alles is dat Herschelle Gibbs ‘n vangskoot van Steve Waugh se kolfwerk af verbrou het en Waugh nie net alleen 120 nie uit nie aangeteken het, maar ook man van die wedstryd was. Die aprokiewe storie dat Waugh vir hom gesê het ‘You just dropped the world cup, mate’ was toe ook reeds op die lug.
Ons stories oor die burgerbandradio kon ons in ‘n groot verleentheid laat beland het, want terwyl ons brandstof inneem, voer Calie ‘n hele gesprek op die burgerbandradio met Hennie en Hettie Scholtz, wat ons spottery kon gehoor het. Hulle is betrokke by ‘n volstruisboerdery net buite die dorp en bly in kontak met hulle werkers via die radio. Toe ons die dorp uitry staan hulle op die stoep en waai. Ons is so skaam oor ons ongevoelige spottery dat ons hulle uitnodiging om te kom kuier van die hand wys en belowe dat ons die volgende keer sou kom kuier.
Vandaar ry ons na Malthahöhe - snaakse dorpie met hoë draadheinings om alle geboue. Ons drink tee by Mannetjie en Hendriette Esterhuysen se Pappot. Hulle doen glo heelwat toeristebesigheid. Dis ‘n goeie voorbeeld van ‘n besigheid wat ontwikkel om die mark te pas, want hulle bak brood en pasteitjies, verskaf noodvoorrade, bedien etes, het ‘n paar kampeerplekke en voorsiening vir mense wat karavane of luukse motors wil berg terwyl hulle met 4x4's die stofpaaie aanpak (Nota: ‘n jaar later het ons ‘n pragtige nuwe Porsche daar gevind wat deur ‘n dame uit Gauteng daar geberg is terwyl sy met ‘n toergroep verder is).
Hiervandaan durf ons die grondpad aan na die Naukluftpark, waar ons die nag sou deurbring. Die natuurskoon is pragtig en die kampplek en sy omgewing herinner nogal baie aan Baviaanskloof. Daar is heelwat mense in die kamp, veral buitelandse toeriste, sommige met kinders. Naas sê as dit van hom afgehang het, sou hy langer daar aangebly het, maar ons het ongelukkig besprekings by Sesriem daardie aand, die enigste plek op ons toer waarvoor mens lank voor die tyd moes bespreek.
Op die slegte pad na Sesriem kry ons ‘n papband en moet ons alles uitpak om by die domkrag onder die sitplek uit te kom. Toe moet ons klippe soek om agter die wiele te sit, en soos gewoonlik as mens iets soek, is daar toe nie juis groot genoeg klippe beskikbaar nie. Vir die wis en die onwis sit ek die domkrag net daar op ‘n baie toeganklike plek, met die woorde dat mens dit dan waarskynlik nie weer sou nodig kry nie - ha-ha! Om onsself te vermaak neem ons toe maar foto’s van die Katriviertrek langs die pad!
Die landskap word al mooier en mooier (die pad gelukkig ook) en teen 12-uur is ons by Sesriem. Die kampplekke is elk onder ‘n reuse koelteboom met ‘n klipmuurtjie rondom en ‘n eie kraan, baie oulik. Calie en Naas gaan die papband by die Garage ingee, Gloria was dadelik wasgoed soos gewoonlik, terwyl ek en Hugo en Ernie langbeen sit en oor ons stoute studentedae gesels. Na middagete stap ons gou ‘n draai deur die Sesriem-Canyon. Dit is natuurlik nie die Visrivier- of die Grand Canyon nie, maar nogtans baie interessant. As ‘n mens ‘n entjie weg is vermoed jy nie eens aan die plantegroei of rotsformasies dat daar enigiets anders as ononderbroke kaal veld is nie. Ons reël by die hotel dat ons later daar ‘n drankie sal drink, ‘n paar oproepe maak en moontlik aandete eet. My geheime agenda is eintlik om uit te vind of ons ‘n geleentheid kon kry om deur hulle teleskoop na die sterre te kyk. Calie tel die herstelde band op voor ons tog na Sossusvlei die volgende dag.
Ons eet toe die aand by die hotel, maar kry ongelukkig nie ‘n tafel buite onder die sterre soos ons gehoop het nie. Ernie vergeet haar sakkie by haar stoel en toe hulle terugstap daarvoor, ontdek sy dat die teleskoop vir die hotelgaste uitgerol is op die stoep, waar hulle ‘n lesing kry en die geleentheid om sterre te kyk. As ons wou kyk sou ons seker moes wag tot laaste en die bed het geroep, want ons wou die son sien opkom oor Sossusvlei. Ons hoop maar die sterre is nog daar as ons weer daar kom.
Ons stel ons wekkers vir 05:30, stap tussen die gemsbokspore deur na die badkamer toe, maak gou-gou klaar, vou die tente op en om 06:30 toe die hekke oopmaak vertrek ons na Sossusvlei. Ons ry natuurlik in ‘n lang konvooi, want baie besoekers kom van omliggende gasteplase om die son te sien opkom oor Sossusvlei. Vanweë die baie voertuie en die stof vorder ons veel stadiger as wat ons gehoop het.
Dit begin lig raak toe ons nog ver van Sossusvlei af is. So mettertyd kon ons die sagte dagbreekkleure onderskei en voordat ons by die vlei aankom, was die son op. Dit is egter nog ‘n aangrypende gesig met die westekant van die duine in skadu gehul en donker, terwyl die oostekant van elke duin rooi gloei.
Hierdie keer klim ek, hoogtevrees en al, nie alleen tot bo nie, maar stap ‘n hele ent op die kruin langs en hardloop toe teen die oostekant van ‘n duin teenoor !Naravlei af - ‘n wonderlike ervaring, want met my arms wyd gesprei het dit het gevoel of ek vlieg. Onder het ek my skoene uitgetrek, want hulle was swaar van die sand. Die sand was wonderlik koel, maar verbasend grof van die kwartsdeeltjies, sodat my voete aan die einde van die dag nogal gekneus gevoel het.
Ons eet ontbyt onder ‘n lekker ou skaduboom terwyl ons na die swerms mossies en ander voëls sit en kyk en ry toe terug. Ons wou eintlik nog na Hiddenvlei (Verlorenvlei) gaan, maar ‘n mens het eintlik ‘n afsonderlike dag daarvoor nodig - volgende keer?
Terug by die parkeerterrein ontdek ons dat ons sowaar weer ‘n papband het, en erger nog, toe ons dié gaan ingee ontdek ons dat die een wat die vorige dag reggemaak is weer begin lek het. Naas sê die werkswinkel is goed toegerus, maar baie sleg onderhou en die ‘vakman’ nie opgelei nie, dus is die werk van twyfelagtige gehalte.
Dis ‘n pragtige aand om ons kampvuur en die gemsbokke, van wie ons die oggend net spore gesien het, kom hierdie keer hoorbaar kuier en beweeg tot reg teen die voertuie verby. Mens lewe hier na aan die natuur en die uitsig oor berge en duine is ongelooflik mooi!
Ons vertrek vroegoggend na Solitaire. Dis nog die Solitaire van ons vorige besoek in 1994, maar daar het darem ‘n paar verbeteringe plaasgevind - net nie in die werkswinkel wat PH Nortjé so pragtig beskryf in ‘Spook van die wielsleutel’ nie - daar lyk dit nog soos drie dae voor die skepping en die chaos groei kniehoogte! Waar die droë tenk met die pofadder in gestaan het is nou ‘n dam met water, ‘n rare gesig in die dorre wêreld! Daar is rondawels en ‘n groot eetsaal, dus kan hulle groepe toeriste hanteer.
Die posseël-grootte grasperk is nog voor die hutjie waarin die Nortjé’s en hulle graatjies tuisgegaan het. Die een brandstofpomp wat bloots onder die son gestaan het, het gegroei tot drie wat soos oral in die ‘beskawing’ onder ‘n hoë dak staan. Dit is seker heelwat koeler as die vorige een, waarvan hulle die kante moes verwyder sodat die lug kon deurvloei omdat dit te warm geword het. Oorkant die pad het Piet Lohmann nou ‘n gasteplaas. Die Namib is werklik deur die hele wêreld ontdek!
Ons geniet filterkoffie en appeltert in die koelte! En ja, hier by Solitaire gesels almal ook oor die groot wedstryd wat voorlê – die halfeindstryd tussen ‘ons’ Proteas en die Aussies. Veral na die vorige verloor teen Australië was almal lus vir wraak en doodseker dat Klusener vir ons die knoop sal kan deurhaak, aangesien hy volgens die kommentators ‘in sparkling form’ was.
Hiervandaan ry ons na die Kuiseb-canyon. Die afdraaipad is ellendig sleg. Ons stap almal ‘n ent om die canyon te verken, maar slegs Calie en Naas trotseer die hitte en stap af tot waar die twee Duitsers, Martin en Korn, gedurende die 2de Wêreldoorlog geskuil het en vir hulle klipmeubels gebou het. Terug by die voertuie tel ek stilletjies ‘n groterige klip op, omtrent soos ‘n halwe baksteen gevorm en met ‘n ronde gaatjie waarin ‘n albaster mooi sou kon pas en versteek dit agterin die Isuzu, weereens in die goeie geloof dat as ek ‘n klip het, ek nie een sou nodig kry om agter die wiel te sit nie en ons dus nie papbande sou kry nie - ons sou maar moes sien of die geloof ten opsigte van papbande en krieket beskaam!
Na die slegte afdraaipaadjie besluit ons om nie ‘n nag te probeer oorbly by Huirabib nie en ry aan. Die Namib wat tot voor die canyon nog vol rooi sandduine is, en in die omgewing van die canyon soos ‘n maanlandskap lyk met swart skurwe rotse waar daar wel diere soos gemsbokke, zebras en volstruise voorkom, het skielik verander na ‘n eindelose oop leegte waar daar nie eens klippe te sien is nie. Dis ook nie sanderig nie, net grof, met lichene wat soggends vroeg deur die mis van die kus af klam gemaak word en dan ‘n effense groen skynsel aan die omgewing gee. Skielik, in die middel van hierdie wye oopte, doem die ronde rotskoppie,Vogelfederberg, op. Ons het permitte om by al die ‘kampplekke’ in die Namib aan te gaan en hier draai ons dus af om hoog bo teen die rots te gaan koffie drink. Daar is wel ‘n twyfelagtige geriefie voor en een agter die rots en ons oorweeg ernstig om die nag daar deur te bring, want ons was goed genoeg toegerus. Maar party lede van die groep sien nie kans vir soveel spartaanse ongerief nie!
Ons ry dus deur na Walvisbaai, geniet vis en skyfies by Ouma Babs se Kombuis terwyl ons lekker gesels met die jongman, so groot soos ‘n berg, wat bedien. Hy is eintlik ‘n plaasboer van Kamanjab, maar kon nie ‘n lewe maak op die plaas nie, en hoewel hy dit nog het (daar is seker ook nie kopers nie), is daar slegs swartmense wat oppas. Hy wou natuurlik ook weet wat ons dink van ‘ons’ manne se kanse in die krieket-wêreldbeker.
Na ete vat ons die pad na Langstrand-karavaanpark, aan die kus tussen Walvisbaai en Swakopmund. Dis ‘n pragtige kamp, met drie swembaddens wat deur die gety volgemaak word, hutjies, ‘n pier waarop ‘n kroeg en restaurant is en baie goeie ablusiegeriewe, wasmasjiene en droërs.
Die volgende oggend is ek en Calie weer na Walvisbaai waar ons ontbyt eet by Ouma Babs en die laaste deel van die Comrades-marathon op TV sien terwyl die Isuzu se filters vervang word. Namibië is onafhanklik, maar is nog met baie nie-amptelike bande aan Suid-Afrika verbind, soos ons al hoe meer besef.
Ons koop kos en die res van ons geselskap sluit by ons aan vir ‘n besoek aan die soutwerke waar ons honderde pelikane en baie baie meer flaminke sien. Daarna gaan eet ons by ‘n restaurant wat weereens op ‘n pier oor die see gebou is. Die kos is goed, maar die diens power! Na ete is ons na Duin Sewe, wat aan die kant weg van die pad lyk soos ‘n oase met palmbome. Daar is piekniekplekke en selfs ‘n aanduiding dat daar gekamp kan word. Terug op Langstrand bibber ons die nag weer van die koue!
Die volgende oggend is ons na die mooie Swakopmund, wat baie kontinentaal/Duits lyk, maar sodra mens by die laaste huis verby is, is dit pure Afrika-woestyn. Ons gaan saam met Hugo en Ernie op die Welwitschia-roete buite Swakopmund. Dit is ‘n baie interessante toer. Ons ontmoet net buite die Goanikontes-oase, ‘n jong Duitse meisie, Sigrun Höhl, wat mens-alleen met ‘n 4x4 bakkie deur Botswana getoer het en Namibië by Mahangu binnegekom het. Sy is ‘n bloemiste en is veral geïnteresseerd in die Welwitschias. Sy vertel ons ook heelwat van die plante en ons vertel haar weer van die geskiedenis van Namibië. Van die hoogtepunte was die oase, waar daar ‘n lewendige boerdery is, die toerusting wat in die 1ste Wêreldoorlog agtergelaat is deur die Suid-Afrikaanse magte en nog ongeskonde daar lê - selfs kos-en paraffienblikke het nie vergaan nie - die 1500 jaar-oue Welwitschia en die mynskagte waar mense in die vyftigerjare onsuksesvol met die hand vir yster gemyn het. Na die toer is ons deur die interessante Kristal Galerie, Calie maak ‘n paar radiokontakte en daarna drink ons almal koffie by Café Anton wat beroemd is vir sy Duitse fyngebak. Lekker!
Ons vind die dag oral in Swakopmund dat mense by die besighede na die halfeindstryd tussen Suid-Afrika en Australië kyk en luister. Waar ons kom vra ons na die telling en dan sê hulle ‘ons’ het die Aussies uitgeboul vir 115 en ‘ons’ kort nou soveel lopies. Waar Calie sy safaribaadjie koop is die eienaar selfs etenstyd nie soos gewoonlik huis toe nie, want hy wou niks mis nie. Hoewel ons manne ‘n klein totaal jag, neem die spanning ondraaglik toe met elke paaltjie wat val. Almal hoop net dat Klusener vir ons die wa deur die drif sal kan trek.
Terug by Langstrand maak ons gou kamp reg en net voor sononder volg ons die laaste paar boulbeurte van die Aussies op die radio. Met die aanbreek van die laaste boulbeurt kort ons nog 9 lopies om te wen. Klusener slaan ‘n vier - ons gil en skree. Met die tweede bal slaan hy nog ‘n vier - ons raak beserk! Ons is gelykop! Met die derde bal stop Donald net betyds om nie uitgehardloop te word nie - ons harte klop in ons kele. Ons kort een lopie om te wen, hoe moeilik kan dit nou wees? Ons lig reeds ons boskristalglase op ‘n Suid-Afrikaanse oorwinning - toe hoor Donald nie dat Klusener roep nie en word uitgehardloop!!! Met twee balle oor! En die Engelse kommentator se opmerking dat dit ‘ridiculous running with two balls to go’ was, help ook nie vir ons verslaentheid nie. Ek is vir 24 uur skoon siek van teleurstelling! Ons manne ‘choke’ sowaar weer!
Dit was eers baie later, toe Klusener, wat darem as ‘Player of the Tournament’ aangewys is, en Donald in ‘n motoradvertensie sing ‘Pack up your troubles in your old kit bag’ dat ek kon lag oor die petalje. En nog later, op 12 Maart 2006 toe die Aussies op die Wanderers ‘n skynbaar onbereikbare 434/4 aangeteken het in die beslissende eendagwedstryd van die reeks teen Suid-Afrika en ons manne antwoord met ‘n skitterende 438/9 dat ek die hartseer van daardie aand op Langstrand kon besweer.
Terug na Lesers vertel | Terug na bo


















Kommentaar