Kgalagadi: Die ou moeder skenk pynlik geboorte
Skrywer: Anton Visser
Ek en my gesin was weereens baie bevoorreg om die Kgalagadi-oorgrenspark vroeg in Desember 2011 te besoek. Die oggend van die 12de het ons reeds baie vroeg vanuit Upington vertrek en teen 05h30 was ons alreeds by die ingang van die Park. ‘n Baie behulpsame parkverteenwoordiger het ons gehelp on in te boek en teen 05h45 het ons die pad na Nossob aangepak.
As gereelde besoekers aan die Park was die min diere en min roofvoëls nogal opvallend. Dit was ook duidelik dat die park nog nie ordentlike reën gehad het nie aangesien die veld maar droog en yl was in die Suide. My moed het sommer dadelik gebreek aangesien ek so uitgesien het na ‘n wonderlike wegbreek van die dag tot dag roetine en ook om ‘n paar mooi foto's te neem.
Die plan was om die eerste twee nagte op Nossob deur te bring en dan die laaste nag op Twee Rivieren se ruskamp te spandeer. Op pad na Nossob, net buite Twee Rivieren, het ons ‘n Bakoorjakkals teen die pad in die son sien lê en bak. Ons het gestop om haar vir so tydjie dop te hou toe daar twee welpies uit die gat te voorskyn kom waarna hulle in die droë gras baljaar het. Ons het toe besluit om maar verder te ry met die vooruitsig om ‘n paar mooi fotos by Nossob se watergat te kry later die middag.
Op ons pad na Nossob het ons slegs enkel lopende diere gesien. Met ons aankoms op Nossob het ons met groot opgewondenheid ingeboek, afgepak en ons gehaas na die watergat. Groot was die teleurstelling toe daar net drie enkele Blouwildebeeste kom water drink het vir die middag. Ons het toe maar besluit om ‘n vleisie te braai en reg te maak vir ‘n vroeë oggend rit die volgende oggend. Die plan was om die pad Noord te vat in die rigting van Grootkolk.
So gesê, so gedaan, maar ons het nie so vroeg weggekom soos wat ons graag wou nie, maar teen 06h45 het ons Nossob ruskamp verlaat. Op pad na die eerste watergat (Cubitje Quap) het ons groot spore in die pad opgemerk. Ons het maar stadig gery om heeltyd die spore te probeer volg. Met ons aankoms by Cubitje Quap was daar reeds heelwat voertuie. Die leeus het in die vroeë oggend ure ‘n Blouwildebees slegs enkele meters van die watergat af plat getrek en die trop was besig on aan die karkas te smul.
Onder een van die doringbome, teen die pad, het die res van die wyfies gelê wat reeds klaar gevreet het, onder ‘n ander boom het ‘n enkele wyfie gelê met haar twee welpies. Nadat die laaste twee wyfies gevreet het, het die enkel wyfie opgestaan, haar welpies geroep, en begin nader stap aan die karkas waarna hulle vir ‘n geruime tyd gelê en vreet het. Nadat hulle gevreet het, het hulle opgestaan, water gedrink en toe die koelte van ‘n ou groot Kameeldoringboom gaan soek.
Dit maak nie saak hoeveel keer ‘n mens dit al aanskou het nie, maar dit bly altyd ‘n belewenis om so na aan ‘n trop leeus te wees wat vreet. Vir die kinders is dit ‘n baie besonderse gebeurtenis, en baie beslis ‘n groot storie om by die skool te vertel in die nuwe jaar.
Die volgende twee nagte het die sentrale gedeeltes van die park lekker rëen gehad en was ons baie gelukkig om te sien hoe wonderlik die natuur funksioneer ten spyte van die moeilike omstandighede waaronder die diere van die streek moet oorleef en voortplant. Ons het ‘n rooimeerkatpaar gesien met twee klein babatjies, ‘n Gevlekte hïena-ma wat twee springbokbene in haar bek na haar den toe dra waar sy deur vier welpies ingewag word, ‘n jagluiperd ma met haar drie welpies, nog vier jagluiperdwelpies wat in die pad speel en nog ‘n bakoorjakkals paar met 2 kleintjies. Behalwe die roofdiere het ons ook springboklammers en jong gemsbokke gesien.
Ons was regtig baie bevoorreg om te sien hoe die sirkel van die lewe aangaan en hoe die “Ou vrou” geboorte skenk aan ‘n nuwe geslag wat hulle bestaan sal moet maak ten spyte van al die moeilike omstandighede wat hulle in die gesig staar. Dit was wonderlik om ook deel daarvan te kon wees.
In hierdie moeilike omstandighede maak ‘n gevlekte hïena-ma haar 4 welpies groot, ‘n jagluiperd ma haar drie welpies groot en ‘n ander jagluiperd ma haar vier welpies groot. Hier in die park is daar nie tyd om te wag vir beter omstandighede of vir ‘n meer gelee tyd nie……iets wat ons as mense dalk nog moet leer.
Dankie Kgalagadi vir die geleentheid om weereens die werklikheid in oënskou te kon neem en tot die besef te kom dat ons bitter min het om oor te kla.
Kan nie wag vir ons volgende besoek aan die park nie ...die Kgalagadi ...’n groot mens lucky packet!
Terug na Lesers vertel | Terug na bo
Gelewer op 17 Februarie 2012 | 13:20:56
Ja Anton, dis voorwaar 'n "grootmens lucky packet" Bertie Kotze, Windhoek




















Kommentaar