Impromtu berge toe
Skrywer: Lindri Stander
Die lang brêkfis run na Fouriesburg het impromptu in ‘n drie dae en twee nagte uitstappie verander, soos ons die reisreëlings laat Kersmiddag oor bakke oorskiet koekstruif getref het. Mens kan nou die overdaad suiker as verskoning vir die verandering in reëlings gebruik, maar ek wil eerder glo dit was goeie gesonde verstand wat die planne uitgedink het, dis nou behalwe vir Andre se Lemon Meringue uitstappie.
Gerda, wie eers die addisionele uitslaap bedank het, het binne tien minute anders besluit en voor Kersaand (en die koekstruif) om/klaar was, is ons impromptu berge-trip vasgemaak. Ons sou die 29ste ry en op Oujaar weer terugkeer.
En natuurlik het die weerbelieg ons weer belieg, want ons is in sprankelweer hier weg vroeg Donderdagoggend. Ek en Andre het vir Gerda gaan oppik en vir sy onbeskofte gejaag op die snelweg tot by die Total anderkant Alberton het Andre die verskoning van “laat wees” gebruik. Ons was nie laat nie en so ook nie ons reisgenote, John en Thinlizzie nie.
Die pad tot op Villiers se brêkfis het verbygeflits, die vele spoedlokvalle ten spyt. Daar het ons dankbaar gereminis oor verlede jaar se reën toe ons druipnat en effe miserabel daar opgedaag het. Vandaar tot op Frankfort was ook in ‘n oogwink verby. Die wêreld is grasgroen en pragtig. Lizzie het die beeste en mooi omgewing as verskoning gebruik vir haar gekruie en John het hom dit laat welgeval.
Ek glo dis die berge op die horison wat Andre in ‘n galante heer verander het, want hy het ons wens om op elke dorp te stop nie geïgnoreer nie. Ons het tot afgedraai om te gaan kyk hoe Reitz lyk. Lizzie se eerste aankoopsessie het daar begin en ons sou nog heelwat kere moes stop om te loer in een of ander oulike winkeltjie en spazasjôppie. En sowaar, net voor ons wou opsaal om te vertrek uit Reitz uit, loop ons vir Larry raak, vroeër van Johannesburg en spoedrolskaats en deesdae wolweredder van die Vrystaat.
Andre het sonder klaaglied by die waterwerke ingedraai, skuins voor Clarens en ek het vir die eerste keer die kanaal gesien waar die water van die Hooglandwaterskema by die berg se bek uitbars om weswaarts tot in die Vaaldam te vloei en natuurlik het die geluid van die water my eie waterwerke aan die gang gesit – ons het Clarens net betyds gehaal.
Op Clarens het Andre en John die Duitse musiek trotseer omdat veral John nie lus was om te oeee en ahhh oor al die kaggelrak*akkies in die klein winkeltjies nie. Hulle het later vermaaklik vertel dat eers Gerda dan ekke en heelwat later Thinlizzie uit die winkeltjies gedrentel het om weer in ‘n volgende een te verdwyn. Lizzie laaik sjôpping kwaai.
Die pad tussen Clarens en Fouriesburg het die manne se gemoed na die lang gewag en oempamusiek gelig. Die eerste vyf en twintig kilometer vanaf Clarens is sekerlik een van die lekkerste stuk teerpaaie om te ry in die Noordoos-Vrystaat, die omgewing is manjifiek en die draaie pikant, nie dat mens veel van die omgewing te siene kry teen “goed-ry-spoed” nie, vra maar vir Andre en dis Don Buchanan se skuld, want jarre gelede het dié mos vir Andre vertel, as mens onder 200 doen op daardie pad is daar fout met jou fiets, die pes. Nie dat Gerda omgegee het nie, sy was gatvol gesit en wou vinnig by ons lala-plek aankom. Sy reken sy het nie eens nodig gehad om vas te hou nie... Ek en Lizzie het meer besadig en ordentlik gevolg.
By Fouriesburg se Inn is ons soos ou vrinne ontvang en na ons blyplekke vir die volgende twee aande geneem. Ons kon afpak en afspoel en uitrus voor ‘n heerlike aandete. Andre het die buitelandse toeriste die doodskrik op die lyf gejaag met sy luide afblaasslag, gelukkig meer noord as sy gebruiklike suidelike knetter-sessies.
Van overdaad by die Fouriesburg Inn se kospotte moes ons die strate te voet vat die aand na ete. Later se kuier in die voorportaal van die Inn oor tee en koffie het sy eie verrassings opgelewer oor Lizzie se vertelling van haar en John se verkenning van Fouriesburg se mooi sandsteenhuise. Ek het my maag en sye seer gelag toe sy van John se straatkaskenades vertel.
Die baie onwelkome langerige dunnerige ronde bruinerige besoekerjie op die mat agter die deur van onse kamer, “the long one, creepy, buster” het vir nog lag en gril (ekke en Gerda) gesorg. Lizzie is gebel oor ek nie kans gesien het om by die deur uit te hol nie en sy vrek mos oor diere en John, Sir Reginald, Duke of Chutney (vir die wie Robin Hood al male sonder tel gekyk het) het uiteindelik, gewapen met sy kopdop, handskoene, pajamas en kaalpoot die gedierte verwyder en op die gras voor die toeriste se kamers loop loslaat.
Na ontbyt die volgende oggend het ons die manjifieke Golden Gate-reservaat pad gery en my wens om die besondere stuk aarde sonder reën se gepiets op die gesig te verken, het waar geword. My oop bek het darem geen goggas opgevang nie en die mooiheid het my sommer weer dankbaar gemaak vir onse mooie land, vir gawe vrinne en vir bikes wat al te gewillig die kilos onder mense se boude verorber, opvreet, kort maak. Nie dat mens ooit haastig deur die reservaat wil wikkel nie, dis nou behalwe as die kwik by 30°C draai.
Ons het die goorste, gaarste, blêddie naarste stuk pad gery verby die mooie Sterkfonteindam, wat ek omtrent geheel moes ignoreer, omdat mens jou oog vir geen oomblik van die gaterige pad kon wegneem nie. Behalwe vir die gate, het die eerste van die twee bosrobotte se radios nie gewerk nie en moes mens nog vir aankomende verkeer ook op die uitkyk wees en ek sweer daar is geen steek werk aan die paaie die afgelope jaar gedoen nie, want verlede jaar was die pad ook sleg, net nie so erg nie. Die doel van die tog was om Lemon Meringue by Little Switserland se Coyote Kêffie te loop eet en natuurlik is die laaste stuk verleiding lank voor ons aankoms opgevreet deur vraatsugtige toeriste. Ek moes lag kry vir die gedoente, want ek en Gerda het op pad dieselfde gedagte gehad – ons ry verniet Little Switserland toe, daar gaan nie Lemon Meringue wees nie, hehehehe.
Laat middag se kruie deur die Golden Gate-reservaat het ook ‘n sirkelroete ingesluit – mooi en lekker, net vrek warm gewees. By Clarens het ek en Gerda ook voor die aankooplus geswig, gevolglik is die drie vroue klingelend daar weg, nadat ons bietjie afgekoel het. Gerda se nek het haar laat les opsê, dus het Andre weereens sonder klaaglied die pad kort gemaak, goed gery julle weet mos.
Ons wou nog na die grenspos toe ry, maar ‘n lekker donderbui het ons by die koffiewinkel by Fouriesburg se ingang vasgekeer (JenLee’s Country Shop). Na heerlike koffie, Hertzogkoekies en jêmtertjies is ons vinnig en na die reën bedaar het, grenspos toe, maar nie voor Andre die Vespa wat daar staan roes wou koop nie. Hy het plan om ‘n Vespa op te bou. (Weet iemand nie van ‘n oue wat baie van Andre se TLC nodig het nie)
En as jy op 31 Desember 2011 jou bike se neus weswaarts rig en jou rug op die berge keer, voel jy hoe die heimwee deur jou lyf spoel, want dit gaan ‘n rukkie duur voor jy weer die dekadente plesier van die pad tussen Clarens en Fouriesburg ervaar, voor jy weer die vars berglug kan inasem, voor jy weer saam met gawe vrinne die effense langerige pad kan aandurf.
Verby Clarens het die wolke al begin dreig, maar ons is droogvoets deur ‘n besige Bethlehem. Dis eers tussen Reitz en Frankfort waar ons die reën ingehaal het, al het Andre sy bes probeer. ‘n Vriendelike boer en sy vrou het gestop om na ons welstand te verneem, terwyl ons reënklere aangetrek het en toe ons die pad vat het ek sonder huiwering die maters en Andre verby gewuif sodat ek op my eie tyd die pad kon navigeer. Ek en reën en die Honda en ‘n nat skermpie ry baie stadig, maar toe ons onder die reën uitgery het, moes ek verbete klou, want die Honda het die pad se oppervlakte geruik en toe heel sy kop verloor, aaaai te lekkerrrrr. By Villiers het ons warm gekry en danksy Gerda ‘n Kit-Kat en koffie breek geniet. Ons het nog twee keer natgereën voor ons die huis gehaal het, maar dit kan nie anders nie, Gerda het mos saam gery en askies maat vir die een, hehehehe.
Ek is baie, baie dankbaar dat ons toe wel die bikes hul sin kon gee, hulle los kon laat in die berge se rigting – hulle het verdien om bietjie die vryheid van die oop pad, die langerige pad te kon ervaar voor ons 2012 sou instorm.
Terug na Lesers vertel | Terug na bo




















Kommentaar