Gevaarlike kampeerders
Skrywer: Michelle Daniel
Om jouself 'n kampeerder te noem kan baie gevaarlik wees, dink maar aan al die Jurgens karavane wat Jeffrey's en Margate toe-parkeer tydens die seisoen-tyd. Daar is 'n groot risiko om jouself te stigmatiseer as 'n Valie/ Vrystater, wat ongewoond is aan die see, son en al die mooi lywe op die strand.
Nie dat ek die binnelanders wil kritiseer nie, inteendeel, ek sien hul punt volkome in. Een maal per jaar, met hul dertiende tjek, is hulle hoopvol vir goeie weer, skoon strande en vuurmaakhout wat lekker brand. Ek wens regtig alle binnelanders sonskyndae en waarde vir hul geld toe, op hul jaarlikse vakansie.
Maar, en ja, daar is 'n groot maar, binnelanders wat by die kus vakansie hou het sekere karaktertrekke wat mens nie sommer by mense wat in Durban of Oos-Londen bly, bespeur nie.
Die eerste is die haas waarmee hul ry, om so vinnig is moontlik by hul bestemming uit te kom. As hul by die bestemming in ge-briek het, is die meeste binnelanders nogal vol bravade by die ontvangs toonbank.
"Nommer 1B!"
Geen, "Goeie middag, ek is so-en-so" nie. Die vakansieganger en sy uitgebreide familie het 'n "booking", en wil so vinnig as moontlik die bagasie aflaai, die vrou en kinders terug-laai in die kar, en summier strand toe ry, nie loop nie, ry!
Dan, op die strand, kry die vakansieganger 'n kinderlikheid wat in totale teenstrydigheid is met sy ernstige sake-bestaan wat hy tuis voer. Hy dra, en nou veralgemeen ek weereens, meeste van die tyd 'n groot kriekethoed, of 'n kepsie agterstevoor op die kop, dik wit sonskerm, en shorts aan die wit beentjies.
Terug by die karavaan/ tent is al die geriewe wat hul by die huis het, te siene. Ek het selfs eenmaal, in 'n karavaan park suid van Durban 'n groot opblaas swembad voor 'n tent bespeur, en 'n Porche 4x4 voor 'n baie klein tent met die nuutste hammock en Webber braai in Nature's Valley se kampplek gesien.
Kampeerders, oor die algemeen, en nou veralgemeen ek regtig, kan nogal onbedagsaam optree.
Wat as 'n rustige week of twee bestempel sou word, verander baie gereeld in 'n straat partytjie.
Musiek word uit karradio's gespeel, mense kuier luid tot na twaalf in die aand, daar word gebraai, na die bottel brandewyn klaar is, elf-uur in die aand. 'n Gê-giggel en laggery met tussen-deur 'n motor se enjin wat ge"rev" word.
Ek onthou een aand in Jeffrey's baai se "kampeer terrein" (die hoërskool se rugby-veld), was ons ingeryg soos sardientjies in 'n blik - tent-karavaan-karavaan-tent. En dit gaan net te jolig, musiek links kompeteer met die volume van die musiek na regs, tot diep in die na-nag.
Die paartjie langs ons was ernstige kampeerders, van Europa, met al die khaki uitrustings, die regte kamera lense, en 'n klein Everest-tent. Hulle bure,in 'n groot weermagtent, met gazebo en lekker diep opvou stoele, was lus vir groot partytjie, en het hul musiek vanuit 'n klein Citi Golf, met groot speakers en amplifier, die heel dag, en toe ook 'n groot gedeelte van die nag gespeel.
Op 'n stadium was die karbattery pap (as gevolg van al die doef-doef musiek, wat toe nou al 'n hele paar ure die hele rugby veld vermaak). Om en by twaalf-uur, half twee, wie kan onthou, besluit die eienaar van die golfie om sy kar te rev - aanhoudend, met die uitlaatpyp van die "exhaust" direk gemik na die opening van die buitelanders se tent.
En net hier raak die Duitser, of was hy nou Sweeds, moeilik. Hy storm amper sy eie tent disnis, gryp die eienaar van die Golf by die bors and stoei die motor sleutel tot hy uiteindelik en selfvoldaan uitroep: "This is now enough. I am taking your keys, and will return them tomorrow morning!!!"
En, soos enige gewone Suid-Afrikaanse man, wat se ego in sy ry-ding le, baklei die Suid-Afrikaner, woordelings, in Afrikaanse kru-taal met die buitelander, en die verstaan natuurlik geen woord nie.
En, soos alle gewone Suid-Afrikaanse mans, het hulle 'n goeie vroutjie wat hul mans probeer kalmeer in sulke situasies.
En soos ek en my man in ons naburige tentjie lê en luister na die nag-sirkus, is die een ding wat ek later oor en oor sou vertel vir die vriende by die huis, die Suid-Afrikaner se girlfriend.
In haar poging om haar man en die kwaai buitelander te keer peertjies swaai, se sy toe: "Micheal, moenie common wees nie."
En dit, na Micheal die heel middag en 'n groot gedeelte van die aand saam met sy girlfriend, brandy en coke gedrink het, en sy top-tien dans treffers op die hardste volume oor sy motor speakers gespeel het, terwyl hy tussen-deur sy motor elke af en toe lekker hard "rev".
"Micheal, moenie common wees nie" het sy girlfriend weer so paar maal gesê, tussendeur sy kru-Afrikaanse opmerkings.
Die tweetjies het toe maar gaan slaap, die Duitser is terug na sy tent, en ek en my man kon uiteindelik rus vir ons siele kry, die een keer 'n jaar wat ons ook weggaan met vakansie, met ons dertiende tjek, ons klein tentjie, en ons hoop vir goeie weer more.
En soos ek vroeër gesê het, dit is nogal gevaarlik om jouself 'n kampeerder te noem, en soms nog gevaarliker om te gaan kampeer!
Terug na Lesers vertel | Terug na bo
Gelewer op 24 Januarie 2012 | 17:05:10
Desember 2011 vakansie op Tietiesbaai was fantasties tot 'n klomp lae klas mense teen ou jaar hul intrek 'n paar kampe van ons kamp opgeslaan het. Die drank het gevloei. Reg voor ons almal se staanplekke het 'n stofpad geloop wat stof veroorsaak as karre daar verby ry. Diè mede kampeerders het diep slote voor hul kamp gegrawe wat karre verplig om baie stadig te ry. Die slote was vrek diep. As mense daar verby ry word op hulle geskel en self met 'n stok en byl gedreig. Soos die gesegde sê, Hoe later hoe kwater. Die dronk manne het later besluit om hul groot 4x4's se kragte te toets deur hul voertuie se neuse teen mekaar te trek en dan op die manier te kyk wie se voertuig het die meeste krag. Ongelukkig het die ingaan van die nuwe jaar 'n lelike nadraai gehad. Teen die vroee oggend ure van 2012 wou my suster en haar man terug ry na Paternoster waar hul in 'n BB oornag het. Toe hul verby die klomp ry en hul Polo in die diep slote vasval, moes my swaer ongelukkig versnel om weer uit die sloot te kom. Dit het stof veroorsaak en iemand het 'n stomp na die kar gegooi. My swaer het gestop en 5 mans was so agressief teenoor hom dat hul hom wou slaan. Hy was verplig om pepperspry te gebruik en ongelukkig het 'n vrou van die spry in haar oog gekry. Hul het agter my swaer aangejaag en hul toe aangeval met 'n "wheel spanner". My swaer kon gelukkig wegjaag en het dadelik na die polisie gery. Hul kar is erg beskadig. Hierdie hele insident was so onnodig. Ek voel daar moet beter beheer toegepas by kampeerplekke. My suster is vandag onder behandeling as gevolg van hierdie mense
Gelewer op 24 Januarie 2012 | 14:48:05
As ek na di kommintaar opi blad lyster is dit dydelik dat Avrikaanssprekende mense ni meer kan spel ni. As jy moeite dun om jou meening opa webblad te lig ka jy seekerlik moote dun om reg te spel ? Of hu ?
Gelewer op 10 Januarie 2012 | 16:28:42
Ek sien daar is nog mense wat maar sukkel met die sogenaamde tradisionele karavaanpark. Ons is self ook allergies vir hierdie en verkies om weg te bly van die ouens wat op hierdie plekke uithang en die musiek so uit die karre laat blêr. Om nie te praat van die voggies wat so graag misbruik word nie. Dus soek ons maar die kampeerplekke op wat deur privaat mense besit word. Veral die op plase want daar beperkte staanplekke en hier swaai die boer die septer. Mens gee ook nie om om meer te betaal nie want dit hou al die elemente buite en jy kan waarlik rus vir jou siel kry. So ja, daar is plekke en dan is daar beslis die beter PLEKKE!


















Kommentaar