Firgrove se bloekoms


Skrywer: Christo Thomson

Lank lank gelede, moes ek as kind gereeld saam met die gesin van die suidelike voorstede Somerset-Wes toe...om vir familie te kuier...op ’n plaas.

Dit was nog die tyd toe Somerset-Wes nog ver was...’n “outing”...iets wat vooraf beplan moes word. Die Opel moes nagegaan word vir die “trip”. Daai tyd het man nie sommer geklim en gery nie. Olie, water, batterywater word nagegaan en opgetop en die bande word met die handpomp gepomp en met so ’n blink metertjie (wat soos ’n Parker pen gelyk het) getoets om seker te maak die “crossply whitewalls” se druk net reg is.

En die pad Somerset Wes toe was lank.
Donker het ons vertrek. Van Lakeside af al met die hoofweg (ons het hom destyds in Afrikaans as die “main road” geken...nie geweet wat ’n hoofweg is nie) lange Wynberg toe. Verby die Wynbergstasie onder deur die spoor op pad Lansdowneweg toe. Dan daar agter Gugulethu se gewestes langs tot daar waar die pad links gedraai het by die ou hoenderfabriek (dit het daar altyd na gebrande hoendervere gestink...selfs op Sondagoggende!). Die stuk het ons die “Kaapse vlak” genoem. Kyk, as jy eers deur die Kaapse vlak is, dan is jy al halfpad daar! Dan was dit daai lang reguit stukke op pad na die berg se kant toe...die berg waar Somerset-Wes is. Sir Lowry’s-pas-berg het ons hom genoem.

Dan loop die pad so aan die onderkant van die Woltemade skietbaan verby(ek dink Delft, of ’n gedeelte daarvan, is deesdae daar gebou) verby die plek waar daar met atoomkrag eksperimente gedoen is. Daar was altyd so ’n gewyde stilte in die Opel as ons daar verby ry. Ons as kinders het nie geweet wat atoomkrag beteken nie (en ek dink partymaal ons ouers was maar net so in die duister). Ons het net geweet dat ’n atoombom een of ander Japanese dorp van die aardbol gevee het (pa het vertel). Dus....atoom beteken gevaarlik...bly baie ver weg....!

Daar het die bloekoms al begin. Net daar bo, naby waar Eersterivier en Faure skouers skuur, het die pad regs gedraai (daar’s nou nog so ’n stukkie van hom oor) met so ’n laningtjie bloekoms aan die regterkant.
As jy daar was, dan weet jy die groot trek Somerset Wes toe is nou amper verby. Daai dowwe gevoel in jou boude van lank stilsit gaan nou nou iets van die verlede wees (en vervang word met uiterste vrees want Mosjesj, die ou blerrie hond op die plaas, wou net als in sy sig opvreet, of so het sy geblaf en gegrom altyd geklink. Antie Lisa, uitgespreek Laaisa.... O ja...en daar was daai tyd nog nie goeters soos “tannies” nie...hulle was “anties”...of “ant”...pa se susters, ant Stienie, antie Baba, antie Annie..... moes die dierasie altyd eers loop opsluit voor ons kinders uit die kar kon klim).

Ewenwel. Dan vat jy die regtuit stuk pad Firgrove toe en dan het pa by die garage (Shell solank as ek kan onthou) moes links draai oor die “level crossing” (treinspoor-oorgang). Dit was ook die nasionale pad Suidkus toe, SirLowry’s-pas toe. Dis die stuk pad wat deesdae tussen Waterstone village en die Lord Charles hotel verbyloop...net daai een.

En daar, daar by die Shell garage en die “level crossing”, daar staan ’n klomp bloekoms...nou nog staan hulle daar.
So moet ek nou een Saterdag die Beach Buggy ’n paar rand se petrol gaan ingooi. Maar met die dat hy homself deesdae amper flenters staan, en die feit dat al wat kind (my persoonlike verbruikers) is, ’n ryding het wat petrol gebruik, word sy petroltenk as “bulk storage” geag en word petrol deur my manlike verbruiker summier daaruit getap soos benodig...so asof dit ’n onuitputlike bron is....die weduwee se kruik, by wyse van spreke.

My pa, nou al bitterlik gevorderd in die jare, kuier hier by my en ek besluit om hom in te laai, petrol te gaan ingooi in Heldervue en dan sommer so met die “dragstrip” (daai amper 4 kilo lange stuk reguit pad van Firgrove af Mall se brug toe) terug Strand toe te ry, net om die 45 jarige VW enjin weer ’n bietjie litte te laat losmaak.

Eers het die Volksie maar gehoes en genies met al die staan se kwale, maar later heel lekker begin loop. Van die petrolpompe af bult af en toe in die rigting van Firgrove. Daar oor die brug (die levelcrossing word nie meer gebruik nie) En toe langs die bloekoms (hulle staan so links...daar’s nog net ‘n paartjies aan die regterkant oor) terug Mall se kant toe . En die Volksie brul en die wind waai. Vir my aanvaarbaar, maar defnitief niks spesiaals nie.

Tot ek by die huis stilhou. Toe die gedreun ophou, toe draai my pa so na my kant toe en raak stil. Toe raak dit ’n oomblik, ’n spesiale iets. Pa sê hy het daai bome nog nooit so mooi gesien nie, vertel hy. En of ek die wille ganse wat daar innie bloekoms net langes die sloot nes gemaak het...of ek hulle gesien het...en hoe hoog het die bome nie geword nie! En pa beskryf die stuk pad met sy bloekoms kleurryk, in detail.

Eers kon ek nie verstaan nie, begryp nie. Hy ry tog immers gereeld daar verby. Met sy eie kar. Maar die keer was anners. Die keer was spesiaal. Want sien, die keer was hy in ’n beach buggy, sonder ’n dak. Dit beteken jy kan kyk net waar jy wil, so rond soos wat jy wil....en so op soos wat jy wil. En dan sien jy dinge raak wat jy andersins nooit sou opgemerk het nie.

Deesdae maak ek ’n punt daarvan....of ek nou met my karre, die Jeep of die motorfiets ry....ek kyk rond.
Ek probeer die vars perspektiewe. Die dinge langs my pad gaan verby en ek is bang ek kan dalk iets miskyk! En hoeveel het ek nie in al my jare gemis nie....daai bloekoms wat maar net altyd daar was/is…

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek