Die reuk van weerlig


Skrywer: Andre Erwee

In my kinderjare het ek gereeld by ouma gaan kuier. Een Septembervakansie het sy my saamgenooi plaas toe. My oom en tante het met Merinoskape geboer. Die plaas was in die Winburg distrik geleë. Ons het per trein gereis. Ouma het ‘n kosmandjie gepak Wat in die kosmandjie was kan ek nie meer presies onthou nie, behalwe vir die varsgebakte witbrood , ‘n bottel vyekonfyt en ‘n fles met koffie. Die bak van witbrood was onwettig omdat witmeel so skaars was. Die witmeel moes met bruinmeel gemeng wees. Sekere voedsel was skaars. Selfs dinge soos binne-en buitebande was moeilik bekombaar. Dit alles as gevolg van Jan Smuts se oorlogspogings.

Die trein het Sondag aand om ses nm. op platform een vertrek. Daar was baie mense op die stasie. Die swart rook het in die stasiegebou rondgedwarrel. Die portiere het met volgelaaide waentjies trein toe gebeur.

Ons kompartement was nommer 8000. Die eerste afkondiging kom duidelik oor die luidsprekers.
“Die trein op platform 1 na Kaapstad vertrek om sesuur”.
Ek klim weer uit om na die lokomotief te gaan kyk. Die drywer en stoker sit op stoeltjies in die voetplaat-kajuit. Die binnekant van die kajuit is blink gepoets. Die ketel is vol blink instrumente. Die stoker dra ‘n blou oorpak en om sy kop is ‘n sweetband gebind. Die drywer het ‘n skoon broek en hemp aan. Die stoker vertel my die lokomotief is ‘n ‘23 klas’ en word outomaties gestook.

Die lokomotief het ‘n nommer 3269. Die nommer is in die middel van ‘n ovaal plaat. Aan die bokant staan SAR en aan die onderkant staan SAS. Oor die luidspreker kom die aankondiging dat die trein oor vyf minute gaan vertrek. Ek groet en draf terug na ons rytuig toe. Die stasiemeester blaas op sy fluitjie en waai die groen vlag. Die lokomotief fluit, die trein ruk so effens en kom tot beweging. Die lokomotief blaf groot bolle rook by sy skoorsteen uit .Tikke-tik-tikke-tik sê die ysterwiele soos hulle oor die laste in die spoorlyn gaan. Die rytuie skommel effens.

In ons kompartement maak ons gereed om te eet. Die opvoubare tafeltjie word oopgeslaan, en die kosmandjie daarop gesit. Ouma sny die brood groot snye, regte skaapwagtersnye. Smeer botter en vyekonfyt op.
“Laat ons bid” sê sy.
“Vir spys en drank aan U die dank, mog ons U nooit vergeten”.
Ons was nog besig om te eet toe die kondukteur met sy sleutel aan die deur tik en dit oopstoot.
‘Kaartjies asb.’ sê hy.
Ouma haal die kaartjies uit haar handsak en gee dit vir die kondukteur.
En dié witbrood tante?
Ouma vra: “Kan ek vir jou ‘n sny brood met vyekonfyt op gee meneer?
“Ja dankie” sê hy, en knip die kaartjies, neem die brood en loop uit. Ons eet in vrede verder.

Later die aand sit ouma by die tafeltjie en lees uit die Bybel. Sy lees met haar wysvinger woord vir woord, prewel half. Met die groen ronde Spoorweg kussing onder my kop lê ek na die landkaart van die Unie van Suid-Afrika en kyk. Die kaart is agter glas teen die houtpaneel. Die lokomotief blaf ritmies, die staalwiele sê tikke-tik-tikke-tik. Salig raak ek aan die slaap.

Gedurende die nag het dit swaar gereën en die wêreld was nat. Teen agtuur kom sê die kondukteur dat die volgende stop Winburg is. Op die stasie wag oom Stoffel ons in. Hy het ‘n breërandhoed op sy kop, dra ‘n kakiehemp en langbroek. By die een hempsak steek sy pyp se steel uit. Ons bagasie word gelaai, en ons ry plaas toe. Om die agterwiele van die ou Chev. is kettings gebind. Die kettings moet help om die kar deur die modder te kry. Een stel wiele loop net links van die linker spoor, die ander wiele loop op die middelmannetjie. Die Chev se agterkant gly heen en weer, maar ons kom veilig op die plaas aan.

Die plaashuis is wit geverf, met Hollandse gewels aan die voorkant. Links van die stoep groei ‘n bedding dahlias, regs ‘n bedding malvas. Die stoep is toegespan met gaasdraad. Die deur kraak as hy oopgemaak word. Die huis het ruim vertrekke. Die sit- eetkamer is swaar gemeubileer. ‘n Groot swarthout eettafel staan in die middel van die vertrek. Agt riempiestoele staan op hulle plekke om die tafel. Onder die koffietafel lê twee springbokvelletjies, nek skote sien ek.

Teen die een muur staan ‘n groot staanhorlosie. Aan die ander muur hang ‘n afdruk van ‘n skildery van Voortrekkers wat met ‘n ossewa oor die Drakensberge beur, met die manne hangende aan die rieme sodat die wa nie omval nie. Onder die skildery hang ‘n juk, glad geskuur en met byewas behandel. Teen die ander muur hang ‘n foto van M.T. Steyn, die laaste president van die Vrystaat. Langs hom hang ‘n foto van Jan Smuts. In die vertoonkas lê die familiebybel. In elke kamer is, behalwe vir ‘n bed, ook ‘n tafeltjie met ‘n wasskottel en ‘n waterbeker daarop. Op die bedkassie staan ‘n kers in sy blaker.

Later die middag, steek die weer op. Die donker wolke pak saam en die blitse hardloop skrikwekkend. Ons sit op die stoep en kyk na die reën. Die weerlig slaan op die klipkoppie, die blou vlammetjies spring van klip tot klip en verdwyn in die grond. Die reën waai teen die gaasdraad aan en veroorsaak ‘n fyn sproei tot op die stoep.

Toe gebeur dit. Van die skaap in die boonste kamp het uitgebreek, en kom al die skape langs die draad aangedraf huis se kant toe. Die weerlig tref die draad, en hardloop met die draad af. Die skape bondel saam in die hoek. Die weerlig tref die hoekpaal, die blou vlammetjies tref die skaap met ‘n kraakgeluid, almal morsdood! Die reuk van weerlig, kruit en dooie skape hang in die lug. Wat ‘n ramp! Die reën bedaar, in die weste verdwyn die laaste sonstrale. Ons stap die huis in. Oom Stoffel trek die deur toe. Buite is dit nag.

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 27 Januarie 2012 | 18:35:58

Was die skape gaar gewees na die weerig, wys net dat wanneer daar swaar weer is moet 'n mens eintlik al jou vee bymekaar kry en hulle goed sout speserye gooi sodat daar nie 'n brand smaak is of 'n stank in die lug!

Gelewer op 25 Januarie 2012 | 18:06:16

Ek kan identifiseer met baie van die goed in die storie. Daai skildery van die ossewa oor die Drakensberge - ek dink daardie jare was daar omtrent geeen Afrikaner huis wat nie 'n afdruk van daardie skildery gehad het nie. Ek kan dit steeds in my geestesoog sien. Puik storie met 'n traan-in-die-oog einde.

Gelewer op 25 Januarie 2012 | 12:22:55

Ek wonder Andre watter jaar die kinderjare was.Hoe klink dit so bekend soos ons ook trein gery het.Dit bring eintlik heimwee.Dis net jammer van die hartseer einde,gelukkig nie mense lewens betrokke nie so die storie het tog 'n gelukkige einde. Die nuwe geslag mis baie om nie meer trein te ry nie. Dankie vir die verhaal

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek