Die agterblad van Hiervandaan
Skrywer: Marius Spangenberg
Ek lees Desember die agterblad van Hiervandaan, Dana Snyman se nuwe boek.
“Onthou net, ek is saam met jou in die kar, ou Seun” roer my en ek pik skelm ‘n traan weg in die boekwinkel.
Pa was lief vir onbekende paaie ry en plekke sien. Ek ook. Pa en Ma het naby Odendaalsrus geboer en sedert 2001 het ek hulle maar twee keer ‘n jaar gesien, Kersfees en Paasfees. Odendaalsrus en Vredendal is so ver van mekaar verwyder as twee broers met ‘n vete…
Paasnaweek 2005 besluit ek om eerder KKNK toe te gaan. Eintlik net ‘n rede gesoek om ‘n paar ander passe en paaie te ry.
Donderdagoggend 24 Maart trek ons uit Vredendal weg. Op die N7 net anderkant Klawer swenk ons links op die grondpad, al langs die Olifantsrivier, deur Clanwilliam tot in Citrusdal.
Uit Citrusdal stoot ons op met Middelbergpas, verby Op die Berg, op met Gydopas en verby Prins Alfred Hamlet tot in Ceres.
In Ceres sit ek eers ‘n broodjie en koffie onder die hemp. Toe ry ons noordoos oor Theronsbergpas en draai regs by Hottentotskloof, oor die Vensterpas en karplaks vas in die ewige N1. Met ‘n stukkie van die “onheil” ry ons terug Kaap se kant toe en klim verlig na links af op die R318.
Dis ‘n lekker wakker grondpad. Af met Rooihoogtepas en Burgerspas. Die berge maak aaneenvoue tot onder waar ons Montagu van die kant af bekruip, neffens die Spa.
Die R62 lei na Barrydale. ‘n Stuk wortelkoek van Clarke of the Karoo kry sy lê in ‘n soetgaatjie.
Die aand slaap ons in Ladismith. Towerkop dwaal in my gedagtes. Vrydagoggend is dit koebaai Ladismith. Op pad na Calitzdorp draai ons links af deur die Seweweekspoort. By die T-aansluiting kies ons koers regs, op met die steil en klipperige Bosluiskloofpas. Dit loop dood in die Gamkapoortdam wat net noord van Die Hel lê. Ek’s bewelip. My kamera het die week vantevore gegroet. Die eerste trippie wat ek nie ‘n enkele foto neem nie. Ek neem tot foto’s as ek gou ry om te gaan brood koop.
Terug op ons spore tot weer by die R62 en Calitzdorp toe deur die mooie Huisrivierpas.
Boplaas se port moet oorstaan op Goeie Vrydag…‘n jammerte. Voor Oudtshoorn draai ons af na Hoopvol. Die pragtigste ou kerk pryk godverlate in die middel van nêrens.
Oudtshoorn lewe. Ek maak Colt, my boesemvriend, vol petrol. Hy het ook ‘n dorstigheid op hom van die hitte.
Die res van Vrydag en Saterdag KKNK ek. Mense loop bankvas vir mekaar se hakke en kyk. Soos skape op pad kraal toe, loop ons, na ‘n lang dag se vreet in die veld. Die kolle kikoejoe is fyngetrap en verstof die lug. Dit eet en sweet en drom. Is ons nog by ons sinne?
Ek is onrustig. Wat soek ek hier? Hoekom is ek nie vandag op Stillewoning nie? Een van twee geleenthede ‘n jaar om my ouers te sien, daarmee heen.
Pa is reeds sedert September 2004 baie kortasem en die borspyne vererger. Hy sê dit is ‘n mantelvliesbreuk?
Ek werk Saterdag ‘n vertoning van Andrè Swiegers deur en verkyk my aan sy nuwe, mooi jong blonde maat.
Is daar ‘n sagter op die oor grondpadliedjie as: Hoe draai die wind dan nou?
“Iewers op ‘n stofpad
het ons verdwaal
êrens by ‘n kruising
deurmekaar geraak.”
Sondagoggend gee ons pad uit Oudtshoorn. Ons het reeds ‘n 100 kilometer met die nuwe tenk petrol gedoen. Ons ry met die R382 deur Schoemanspoort verby die Kangogrotte.
Swartbergpas wil-wil ons afgooi met sy groot klippers, maar ons klou tot bo en hou iewers by ‘n plaat dennebome stil. Die uitsig is beter as die KKNK. Baie beter.
Ek stap die res van my lewe met ‘n “passion gap” binne, as ek op Prins Albert kan woon. Hoe gaan ek ‘n bestaan maak? Ten minste met ewige kuiltjies in my wange!
Die R407 lei ons terug na die N1, die gebaande weg verby Laingsburg.
Matjiesfontein word vinnig beloer.
Die R354 na Sutherland is mooi en Verlatenkloof en Rooikloof neem ons die dorp in. Ons soek na ‘n petrolpomp, maar dis Sondag en Sutherland rus.
Ek maak somme en paai vir Colt om maar suinig aan die skaars vog te teug.
‘n Entjie terug met die R354 draai ons regs op ‘n grondpad genaamd Onder Visrivier.
‘n Klein sterrewag sit noord op die kim. Dit is al laatmiddag. Ek is ingedagte toe die aarde skielik voor ons wegraak. ‘n Asemsnakoomblik! Die uitsig oor die reuse vlakte onder die Roggeveldberge is ongelooflik mooi. Ons kruie af met Oubergpas tot onder op die vloer van die Tankwa Karoo.
Bo-en Onder Wadrif skuif in die ry verby. Na wat soos ‘n ewigheid voel, want die petrolnaald hou sy lyf obelisk, kruis ons weë met die R355, Suid Afrika se koning van grondpaaie.
“Iewers op ‘n stofpad
het ons verdwaal
êrens by ‘n kruising
deurmekaar geraak.”
Moet ons links of regs? Ons kan regs en noord ry tot by Tweefontein en links op ‘n grondpad na Clanwilliam? Ons kan links en suid ry in Ceres se rigting?
‘n Duitse oom hou in ‘n stofwolk langs ons stil. Waar kom hy vandaan?
“Presies waar is ons nou op die R355? Watter kant toe is die naaste petrol?”
“Hou suid”, gee hy raad.
Ons het toe meer suid op die R355 uitgekom, as wat ek gereken het. Net bokant Gansfontein.
Die grondpad vanaf Tweefontein na Clanwilliam is toe al die tyd ‘n privaat viertrekroete, vind ek later uit. In die nag sonder petrol gaan staan, was ons voorland, het ons regs gedraai. Dankie oom.
Suid, net anderkant Rietfontein, draai ons regs op die Swartrug-, Kouebokkeveldpad, oor Katbakkiespas, verby Kagga Kamma se grotverblyf, tot weer by die R303.
Dit is al donker en ons waag dit terug na Citrusdal. Ek trap die petrol byna nie. Reën sak uit en Middelbergpas is toe gemis en glibberig. Ek bid.
“Iewers in die skemer
het ons mekaar verloor
êrens in die landskap lê daar dalk
nog ‘n spoor.”
Ons ry Citrusdal Sondagaand nader aan 9 uur binne. ‘n Petroljoggie kry byna ‘n oopmondsoen van blydskap. Ons het dit gemaak! Colt sluk ‘n 100 liter petrol, hoewel sy tenk eintlik net 95 liter neem. Hy het diep in sy reserwe gedelf.
Patrick’s is wragtag oop…Paassondagaand! Ek lê weg aan ‘n koue en ‘n meneer T-been. Was ek al ooit sò gelukkig?
Laatnag kom ons in Vredendal aan. Ons trippie is verlede tyd. My selfoon wys ‘n string boodskappe wat in Niemandsland opgehoop het. Pa het ‘n boodskap gelaat? “Hoekom kry ons jou nie in die hande nie?”
Gewoonlik bel Ma. Pa raak sommer uitgepraat na: “Hallo, hoe gaan dit?”
Maandag bel ek huistoe. Pa antwoord. Hy wil weet waar ek oral gery het. Hy laat my aanhou om sy padkaart en bril te gaan haal. Hy volg die grondpaaie en passe saam met my oor die foon. Ons praat lank, langer as ooit vantevore oor ‘n telefoon.
“n Paar dae later, Sondagoggend 3 April 2005, bel Ma: “Pappa is weg…”
Nou een dag kuier ek in Odendaalsrus by haar. Ek haal die padkaart uit opsoek na ‘n dorp se naam. Die boek val oop by Sutherland en ek sien Pa se penmerke soos hy ons ryery die dag oor die foon gevolg het.
“Onthou net, ek is saam met jou in die kar, ou Seun. Ek sit daar langs jou.”
Terug na Lesers vertel | Terug na bo
Gelewer op 6 Maart 2012 | 16:12:14
As nasionale toergids, is ons land met al sy pragtige geheimenisse my diepe passie en die rede vir my bestaan. Om hierdie stuk van u te kon lees, het my herringeringsbank se blaaie groot oop geslaan en tot die reuke van die plekke wat hier beskryf word, het in my neus opgedam. Trane het oor my wange gerol by elke teksverwysing en beskrywing...... tot aan die graf van u Pappa..... Dankie vir mense soos u en die vaardigheid van die pen deur die hande wat dit kon skryf!!!!
Gelewer op 19 Februarie 2012 | 18:04:27
Hier sit ek nou en huil dat ek amper nie op hierdie skerm kan sien nie!!! Regtig hartroerend!! Dankie dat jy dit met my deel!!!
Gelewer op 13 Februarie 2012 | 23:42:28
sjoe!!! ek sien diep in daai storie in... wanneer twee harte so na aan mekaar is is dit beter om op so manier te groet en vir ewig saam te ry in groter vrede en verstaan as om te kom om te groet en te weet om nooit weer te sien nie. - as ek my lewe heel van voor af kon kry sou ek min of meer dieselfde draaie maak sonder om te twyfel elke paadjie ry en hoop ek loop jou weer raak....




















Kommentaar