Die Citroen word gesteel
Skrywer: Andre Erwee
Pa het ʼn ou Citroen-motortjie gehad, so ʼn swart een. Sy rathefboom het so min of meer in die middel van die paneelbord gesit. Net vier ratte, drie voorentoe en een vir agteruit ry.
Elke Saterdagmôre moes die kar gewas en gepoets word. Somtyds was die bande met swart skoenpolitoer gesmeer en blink gevryf. Die rathefboom het soms ʼn probleem veroorsaak. Hy het in tweede rat vasgesteek, dan moes jy die metaal armpie onder die paneelbord effens opdruk sodat dit in derde rat kan ingaan. Pa het maar so aangesukkel en die hestelwerk uitgestel en uitgestel.
Een Saterdagmôre besluit Pa-hulle ons gaan die fliek “Gone with the wind” in Pretoria kyk. Die vertoning het om 2 nm. begin. Ons kar was so een blok van die teater af geparkeer, met die gevolg ons moes ʼn entjie stap. Omdat dit ʼn taamlike lang fliek was, het ons eers by sononder uit die teater gekom. Ons stap toe haastig terug kar toe, net om te sien die kar is nie waar ons hom geparkeer het nie, die kar was toe gone with the wind.
Na die skok het ons die diefstal by die naaste Polisie stasie gaan aanmeld. Daarna is ons per bus na die stasie toe, waar ons met die trein terug huis toe sou ry. Net voor ons op die trein klim, kom daar ʼn boodskap oor die luidspreker dat daar telefoon vir Pa is, dit was sy broer Piet. Ons karretjie is deur sy seun gekry. Die kar het so ongeveer tien meter van Piet se huis af gestaan. Ons moes toe weer die saak by die Polisie gaan aanmeld. Die kar moes toe na die naaste Polisie stasie toe gesleeptou word vir vingerafdrukke en so meer.
Broer Piet het ons toe met sy motor huis toe geneem. Pa kon toe eers die kar die Maandag weer gaan haal. In elk geval die saak het nie daar geëindig nie. Die Maandag hoor Pa toe wat gebeur het. Twee mans het nadat hulle die Citroen aan die gang gekry het, met Paul Krugerstraat in die rigting van Pretoria Noord begin ry. Hulle was haastig maar die Citroen se ratte wou nie saamspeel nie, hulle besluit toe om ʼn ander kar te steel. Toe hulle by Mader se hotel kom, sien hulle ʼn groot kar naby die ingang van die hotel staan, en besluit dis die kar wat hulle wil hê.
Ons kar word toe mooi netjies naby broer Piet se huis gelos. Met Mader se kar jaag hulle toe verder, in die rigting van Pretoria Noord. Wat die twee skelms nie geweet het nie, was dat daar ʼn ooggetuie was wat gesien het Mader se kar word deur vreemdelinge bestuur, en het Mader dadelik laat weet Mader het die Polisie laat weet en ʼn jaagtog het begin. Hulle keer toe die twee diewe net toe hulle deur die duikweg na Pretoria Noord kom vas.
Dit was toe die einde van hulle jaagtog. Later het ons verneem dat die twee al lankal deur die Polisie gesoek was en dat hulle elkeen ʼn paar jaar tronk straf gekry het.
Terug na Lesers vertel | Terug na bo
Gelewer op 18 Februarie 2012 | 06:16:27
Ik had een shchictige lerares Latijn die ook spaans gaf. Dat ging zo: Oke jongens, we gaan beginnen. Nosotro dat betekent wij'. Apprendamos dat betekent leren'. Espanol. VOLGEN JULLIE HET NOG?!


















Kommentaar