Augrabies na Riemvasmaak


zoommore

Raymond en Emily Hon
zoommore

Raymond en Emily Hon

Skrywer: Emily Hon

Ek wil julle graag vertel van ons ondervinding padlangs van die Augrabies Nasionale Park na Riemvasmaak.

My man, Raymond Hon en ek is mal oor vakansie hou. Raymond is 83 jaar oud en ek 82. Ons is al 60 jaar getroud, 23 jaar al pesioenarisse en geseënd met baie goeie gesondheid.

Ons het in 1986 ’n standaard Volkswagen Kombi 2.1 nuut gekoop en het al 351,000 km dwarsoor Suider-Afrika getoer. Vanaf 1989 gaan ons ook elke Februarie vir so ’n week na die Augrabies Nasionale Park. Die agterste bank van die kombi word platgeslaan en dit word n ¾ bed met ’n matras. Agter die voorste sitplekke pas ’n klein tafeltjie en opvou stoele net mooi in. Verder neem ons n ketel en ’n leeslig saam en wat meer wil jy hê.

Ons was gelukkig om in 1997 die Augrabies valle in vloed te sien en het altyd gehoop ons kon dit weer in ons leeftyd so sien. Die oggend van 11 Februarie 2010 vertrek ons toe vanaf ons tuisdorp Parow na Augrabies want ons het gehoor die rivier is weer in vloed. Wat ’n ondervinding om die waterval weer so te sien en die bekende dreuning te hoor.

Die oggend van die 16de Februarie besluit ons om vanaf Blouputs deur Vredevallei en daarvandaan verder na Riemvasmaak te gaan.
By die hek van die Augrabies Nasionale Park vertel ons die bewaarder van ons planne en toe sê hy vir ons die pad Vredevallei langs is geskraap. Ons glo hom toe en vertrek na Blouputs.
By Blouputs gaan ons toe oor die Oranjerivier met die nou brug en draai toe regs na Vredevallei. Die teerpad loop tot aan die einde van die klein dorpie. Daarna is daar net wielspore deur die los grond.

Die pad draai toe links ’n kloof in. Ons ry toe maar in en na ’n ent begin die pad na regs klim uit die kloof. Die paadjie is baie nou en verspoel en baie styl tot bo maar omdraaiplek is daar nêrens. Ek bid toe maar die Here lig ons wiele sodat ons bo kan kom. Ons dink toe dan is ons bo. Moenie glo nie. Toe gaan die pad weer af en so was dit al die pad. Die berge is pragtig. Die een koppie is deutrek van Rose Quartz.. Die een opdraand was baie verspoel toe sê Raymond: “Nou waar moet ek die wiele sit dat dit kan vastrap”. In die middel van die pad was klippe en sementblokke met ogies draad om dit te versterk. Hy kies toe die grond op die regte kant van die pad en ek is op die los klippe. Na die een opdraand draai die pad so effe regs en ek dink toe “O gaats, ek hoop maar daar is ’n pad aan die regterkant van die draai,” maar dankie Here was daar een. Ons weet nie hoe lank die pad was nie maar dit het soos ’n ewigheid gevoel.

Later het die pad verbeter. Ons stop toe vir tee.
Vir die eerste keer dink ons toe daaraan om ’n foto te neem. Terwyl ons tee drink kom ’n man met ’n bakkie vol hout verby gery. Ons vra hom toe hoe ver dit nog na Riemvasmaak is. Hy sê toe “So 6 kilometer” en wat van die pad?
“Nee nie so sleg nie buiten een plek maar dit is afdraend.
Ons ry toe maar verder. Na nog ’n ent se ry kom daar n donkiekar van voor met 5 donkies ingespan, drie voor en twee agterna. Ons praat met die mans op die karretjie en hulle sê hulle soek bokke. Ons kon hulle toe vertel waar ons die bokke gesien het.
Ons was baie so bly dat ons die twee voertuie op plekke gekry het waar dit oop genoeg was om verby mekaar te skuur. Nader aan Vredevallei was daar geen verbykom kans nie want die pad was te nou en verspoel.

Ons ry verder op soek na die uitdraai na die warmwaterbron naby Riemvasmaak.
Na ’n ruk sien ons die padteken en draai af. Die pad is op die stadium toe nie te sleg nie en ons ry verder. Die pad klim weer vorentoe, gaan dan deur ’n opening in ’n draadheining en klim daarna tot by n uitkykpunt vanwaar ’n mens in die vallei kan afkyk. Ons ry verder en daar stop die Kombi oor ’n holte in die pad. Raymond sê ek moet uitklim en die Kombi heen en weer stoot, wat ek toe doen. En daar gryp die agterwiele weer en ons klim uit die holte en net daar oortuig hy my dat die kombi net uit die holte kon klim omdat my gewig buite was.
Raymond neem toe nog ’n foto van die kloof.

Ek besluit toe om die pad te voet om die kop te verken wat daarna afdaal na die warmwaterbron diep onder in die kloof. Ek het net een kyk geneem toe sê ek nee dankie vir die warmwaterbron. Die pad is nou en as ek nie eers die onderent kon sien nie hoe gedaan met die opdraend met die terugry slag. Ons draai toe om en ry verder na Riemvasmaak. Die dorpie is groter as Vredevallei met meer geboue. Die pad deur die dorp was geskraap tot ’n paar kilometer uit die dorp.

Ons ry toe verder tot by Kakamas.
By die eerste T-aansluiting dog ek dit is die Namibië/Kakamas grondpad. En ek sê toe vir Raymond: “Draai regs”. Altwee paaie lyk eenders toe draai ons maar regs . Ons ry en ry en later sien ons ’n gebou aan die regterkant van die grondpad “Boere kantoor” maar ons ry voort. Nog ’n paar kilometer verder aan en daar eindig die pad in n versameling sandpaadjies. Kakamas is nêrens in sig nie. Ons draai toe maar weer om en ry weer terug tot by die “Boere kantoor”. Voor die kantoor staan twee bakkies. Ek maak die kantoor deur oop en vra vir hulle wat het van Kakamas geword want ons het dit verloor. Vertel hulle toe ook sommer van hoe ons oor Vredevallei na Riemvasmaak gery het om by hulle uit te kom. Die twee boere sê toe dat hulle nooit daardie pad sal ry nie. Die twee boere teken toe vir ons ’n kaart hoe om vandaar tot by Kakamas te kom.

Met ons terugstap na die Kombi hardloop een van die boere agter my aan en vra of ons van mango’s hou.
Ek sê toe vir hom ons eet enigiets. Hy sê toe vir ons hy gaan gou vir ons ’n paar haal. Hy ry net daar met sy bakkie uit by die hek en binne ’n kort tydjie is hy weer terug met ’n boks met 39 mango’s. Hy sê toe dit lyk dalk nie so mooi nie maar dit smaak baie lekker. Ons moet sê dit was die lekkerste mango’s wat ons nog geëet het. Ons het dit gedeel met van ons mede kampeerders by Augrabies wat naby ons gekamp het.

Die paartjie wat langs ons gekamp het was van die Vrystaat. Hulle wou ook met hulle bakkie na Riemvasmaak en die warmwaterbron gaan.
Raymond en ek vertel hulle toe van ons ondervinding en sê vir hulle om liewer Kakamas om as Vredevallei langs te ry. Hulle ry toe en vertel ons die dag daarna dat hulle toe wel Kakamas omgery het het en lekker in die warmwaterbron geswem het. Op pad terug besluit hulle om maar tog die Vredevallei pad te ry. Hulle ry toe nog so lekker toe die man vir sy vrou sê: “ Marina ek weet nie of ek mal is nie. Ek sien verder niks nie maar die hele pad agter ons is vol donkies”.
Hy gee toe half eenkant toe pad en net daar gaan ’n donkiekar met vyf donkies sy bakkie verby. Hy vertel ons toe dat hy die donkiekar nooit weer gesien het nie. Later op die pad verder sê hy weer vir Marina hy dink hy ry ’n troukar want hy sleep iets. Toe hulle stilhou is hy besig om die sement blokke en ogiesdraad saam met hom te sleep. Die blokke en ogiesdraad het in sy dryfas verstrengel geraak. Dit kos hom toe om elke stukkie draad van sy dryfas los te sny met n knyptang. Sy vrou moes die sement blokke uit die pad haal.

Die aand om die kampvuur het ons lekker gelag vir ons ondervindings maar ons was ook baie dankbaar vir die Here dat ons nie die dryfas probleme gehad het nie. In ons onkunde het die Here ons beskerm maar wat ’n ondervinding was dit nie.

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 7 Januarie 2011 | 12:38:16

So bly om te sien mense van julle ouderdom is so geesdriftig en geniet die lewe! Mooi so!

Gelewer op 1 Desember 2010 | 15:33:59

Mooi beskrywing deur twee mense wat nog jonk van gees is. As jy van Riemvasmaak met die grondpad Kakamas toe ry, ry jy by Khamkirri verby. Die ideale kampeerplek vir 'n dag of meer. Goeie geriewe en baie om te doen.

Gelewer op 20 November 2010 | 12:35:12

Ek bly op Adelaide in die Ooskaap en het die geleentheid gehad om saam met Annetjie en Stoffel Muller Riemvasmaak en die Augrabies te besoek. Wat n belewenis. Ons het ook die staproete oor die berg gedoen en afgekoel in die warmwaterbronne. Die aand kon ons die arende dophou wat nesgemaak het teen die krans. Die vleisie op die kole was tops. Dis baie rowwe terrein want ons is van Riemvasmaak na Augrabies oor Blouputs. Maar die 4x4 het hom baie goed van sy taak gekwyt.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek