Andries hardloop die voordeur oop


Skrywer: Andre Erwee

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was ons ou volkie maar goed verdeeld. Daar was die Smuts-manne wat die oorlog gesteun het, en daar was die Nasionaliste wat nie ten gunste van die stryd was nie. Dan was daar ook die Ossewa Brandwag manne. Hulle wou weer die oorlog poging saboteer deur verskillende onwettige dade te pleeg.

Toe Robey Leibrand op die toneel verskyn, het die Ossewa Brandwag ʼn militaristiese kleur gekry. Een van hulle doelwitte was om Jan Smuts om die lewe te bring. Dit is dus te verstane dat daar wrywing tussen die verskillende groepe was. Selfs lede van die selfde gesin het soms kwaai vriende gewees omdat hulle verskillende sienswyses oor die oorlog gehad het.

Andries was ʼn vrywillige soldaat en het dus die oorlogpoging ondersteun en het ook rooi skouerlissies aan sy uniform gedra. Die Ossewa Brandwag het dus geweet hy is ʼn Smuts ondersteuner en daarom was hy op die uitkyk vir Ossewa Brandwag-manne, veral snags.

Andries se broer Frans was ʼn nie ʼn Smuts-ondersteuner nie, daarom was daar soms wrywing tussen hulle. Wanneer hulle kwaad vir mekaar was, het hulle nie met mekaar gepraat nie. Die gevolg was dat as hulle nog kos of ʼn sny brood wou hê, hulle moes opstaan en hulle self help. In elk geval daar het darem nooit ʼn geveg uitgebreek nie.

Die oorlog het egter nie verhoed dat die mense soms ʼn dans of ʼn lekker opskop gehou het nie. Andries en sy suster Sannie het gedurende die oorlog by hul ouers aan huis gebly. Van die ander broers het ook gereeld kom kuier. Die ou huis het hoë mure en plankvloere gehad. Van matte op die vloere was daar geen sprake nie, met die gevolg dat wanneer iemand in die huis geloop het, was dit duidelik hoorbaar. Praat nie eers hoe dit geklink het as iemand gedraf of gehardloop het nie.

In die ou huis is ook meer as een partytjie gehou, gewoonlik op ʼn Saterdagaand wanneer pa by die werk was, en eers laat by die huis gekom het. So was daar weer een Saterdagaand ʼn partytjie beplan. Maar eers moes die naalde van die ou grammefoon ʼn bietjie geslyp word, en Sannie wou nuwe gaatjies in haar oorbelle druk. Om die naalde weer skerp te kry, is hulle in ʼn bottel gegooi en geskud. Andries was die Saterdagoggend by ʼn militêre oefening wat reeds om 04.00 die oggend begin het. Toe hy die middag by die huis kom, was hy moeg. Hy trek toe net sy stewels uit, haal sy das af en gaan lê op die rusbank in die voorhuis en raak aan die slaap.

Hy het skaars aan die slaap geraak of hy skrik wakker van ʼn harde gil: ‘Andries Sannie is flou’. Maar Andries hoor nie mooi nie, spring regop, hardloop gly-gly al met die gang af, loop die voor deur heel oop en kom op die stoep tot stilstand met die rewolwer in die hand. Wat sien hy? net mooi niks. Andries stap toe terug kombuis toe waar hy sy ma en suster hoor lag. Toe hulle hom vra waarvoor hy so geskrik het, sê hy hy het gedink dit is die Ossewa Brandwag wat die huis wou binne. Toe hoor hy eers wat gebeur het. Sannie was besig om ‘n gaatjie in ʼn oorbel te druk, en sy moes seker ʼn senuwee raak gedruk het, en van die pyn het sy effens flou geword. Vandaar die gil. Dit was ʼn lelike misverstand,maar almal kon agterna daaroor lag.

Terug na Lesers vertel | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in









Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek