’n Jakkals lag vir my
Skrywer: Johan Stals
Die jakkalse het besluit om ons wakker te hou die nag. Ek haat dit om in ’n tent te slap, maar hier sal ’n mens net nooit slaap kry as jy nie alles inkluis jouself in ene toe zipper vir die nag nie.
Etosha se silwer ruggies is gewoond aan mense en saans terwyl dit nog rooi wys in die weste draf-draf hulle deur Namutoni se kampeerplekke op soek na onbewaakte koelhouers, vuilisdromme en enigiets wat lyk of dit interesanthede bevat. Hulle is net nie meer bang vir mense nie, die een steek waaragtig sommer sy neus hier in my nek terwyl ek lê en sterre kyk. Die kamp slaap al.
Dis nie die eerste keer dat ek so ’n ontmoeting het met ’n jakkals nie. Hulle is nuuskierige diere en kom snuffel maar gereeld in kampplekke rond. Die eerste keer toe ek wakker gemaak is deur ’n jackals, was net nadat ek terug Namibië toe getrek het, weg van die ligte en studente, dae lange partytjies en stiltes wat net nooit kom nie. Ek en ’n paar vriende het met ’n visvang-ekspedisie langs die skedelkus uit gekamp, die presiese plek, ’n groot geheim.
Hulle beweeg so sag soos die nagwind, twee van hulle, vriende op jag na iets om te aas.
Ek het my koud geskrik toe ek die neus hier teen my nek voel en instinktief my arm oor my kop gegooi.
Half deur die slaap probeer ek my oë oop kry en wonder of ek dalk gedroom het. Maar toe begin die realiteit deur dring en ek dink dadelik aan strandwolwe en hiënas of Crocuta crocuta soos die geleerde mense hom noem. Die ou logge ding. Daardie paar kake sal ’n man se skedel kraak, die kragtigste kake in Afrika. Dalk was buite slaap nie so goeie idee nie. Maar toe begin ek om my rondkyk en gewaar die silver rug so tien meter weg van waar ek in my slaaprol lê. Agter hom op die kruin van die duin sien ek sy maat se silhoeëtte. Nes ’n Hollywood-fliek sit die maan agter hom. Die koue Benguela-stroom se gestoei met die warm woestyn bring sagte mis oor die Atlantiese oseaan aan en omsingel die maan met ’n blou-wit kroon…
Ons drie kyk lank so vir mekaar. Ek, te bang om hulle weg te jaag en hulle, nuuskierig oor wat ek gaan doen.
Tyd staan vir ‘n oomblik stil en ek trek my oë skrefies om ou nat neus se gesig te probeer uit maak. Die vuur waar langs ek lê, het nog net die kole van oor gebly. Maar skielik asof die natuur wil spog, blaas die nagluggie een laaste vlam uit die kole te voorskyn. Dit gooi ’n sagte oranje gloed en ek kan nat neus se oë sien blink.
Hy kyk reguit vir my en sy tong hang uit soos hy half tartend vir my kyk.
Dan asof hy iets gewaar het gaan sy mond toe, die grynslag weg. Geruisloos skiet hy om en asof hy dit so beplan het, dood my vuur se laaste vlammetjie ook. Oomblikke later sien ek die twee onder die maan bo-op die duin en dan is hulle weg.
Ek lê nog lank wakker daardie nag, half bedwelmed oor hoe die natuur jou aandag kan gryp soos geen televiesieprogram ooit sal doen nie.
Vannaand vervloek ek nat neus se neef wat my so wakker hou hier in Etosha. Ek sien ek gaan nie hier wen nie toe hy die koelkis se deksel met sy neus afstoot en in die sand laat beland. Ek staan op en in die donker slaan ek maar uiteindelik my tent op. Die seiltjie wat bo-oor span los ek egter, dalk sal ek nog die sterre deur die gaas kan sien!
Nadat ek alles weggepak het wat mootlik omgestamp, gesteel of geknibbel kan word, kruip ek in. Voor ek die tent toe zip gooi ek twee klein rotse in die rigting van die hans rampokkers. Ek hoop regtig ek tref ene maar hulle eskapades in die kampeerplek langsaan laat weet my ek het weer verloor. Die Land Cruiser stasiewa met die Explorer sleepwa en ’n CY-registrasienommer is skielik wakker toe iets omval in hulle kamp.
Uit die tent hoor ek ’n ge-‘sis’ en ‘n ge-‘sjoe’. Skielik word iets van ’n tafel afgestamp en ’n sakkie uie word so ent weg deur die stof gesleep.
Ek kry so “deja vu” toe ek die gesig in die halfdonker sien en die grynslag om die silver rug se bakkies sien dans. Met ’n gestoei kom daar ’n gedaante uit die koepel tent te voorskyn. Dis vreesaanjaend en ek sien hoe die jakkels soos voorheen sy lag sluk toe hy die reuse man in sy onderbroek sien orent kom. En dan verdwyn hy in die donker…
Ek lê terug en lag effens by myself, terwyl ek hoor hoe alles langsaan weggepak word.
Elke nou en dan hoor ek ’n gemompel en ’n kras woord of twee wat val. Dan antwoord ’n vrou elke keer uit die tent uit, ”Anton, hou jou in! Ek het jou gesê jy moes alles vroëer weggesit het.”
Nog ’n gemompel en ’n rukkie later is dit stil om ons. Ek glimlag en maak my oë toe. Net voor die Afrikanag my wegvat hoor ek ’n dowwe slag soos ’n skottel omgestamp word so paar kampeerplekke weg.
Maande later kuier ek by vriende. Vroeg Vrydag vat ek die afdraaipad Dordabis toe en daar klim ek op die grondpad na die plaas toe. Ek sit en verkyk my aan hoe groen die wêreld is. Die kontras wat die donker blou donderwolke en die groen acasias met die wit grondpad maak is eie aan sy soort, soos reën se reuk op ’n grondpad weet elke afrikaner hoe dit vir ewig in ’n mens se geheue sal bly. Op die radio speel ek een van die CD’s uit die kissie tussen die twee voorste stoele van die Land Rover. Robbie Wessels sing van oud word en van kindwees. Ek vat ’n groot sluk aan ’n glas rum en Coke wat Pieter langs my sit en drink. Ek grynslag dat my tong uit hang.
By die plaashuis pak ons af en steek ’n ‘boesman tv‘ aan met groot baster kameeldoringstompe wat ons by die hoek pos opgetel het.
Terwyl ons staan en braai vertel die oom oor al die veë wat weggeraak het deur die afgelope jaar. “Veëdiewe?” vra ek en draai die rooster om. “So bietjie…maar dis eintlik die jakkelse wat so buite beheer onder die skape vang.”
Lank na ons klaar geëet het spring ’n klomp van ons jonges op ’n bakkie. Net buite die eerste hek lê twee lammers doodgebyt. Kopskuddend word hulle agterop gegooi. Twee kamphekke later kom ons by ’n pannetjie, na die reën lê hy half vol water, die diere spore geil in die sagte modder . Die bakkie word reg getrek en al die ligte word gedoof. Skielik is dit hemels stil maar dan begin my ore gewoond raak en die nag geluide van die veld kom trek na ons toe. Paddas gesels en waterskilpaadjies blaas borrels. Dit klink of hulle nie gou genoeg hulle stories kan vertel nie nadat hulle maande in die harde klei lê en wag het dat die reën hulle weer kom los spoel. Oor nog so twee maande is die reën klaar en dan na nog ‘n paar sal die pannetjie weer droog lê. Dan skuil hulle diep in die droë modder weg. Maar vannaand praat hulle want wie weet of dit dalk ooit weer sal reën. Dis Namibië hierdie, moet niks as gegewe aanvaar nie.
Dan kom die geluide van ’n jakkels wat sy maat roep.
Maar dit kom nie uit die bosse om ons nie, dit is ’n CD wat hier binne die bakkie uit weergalm. ’n Ou truuk van die boere. Nog ’n keer dawer die gekerm die nag in. Dan antwoord ’n silwer rug terug uit die donkerte uit . Almal agterop se gewere word oorgehaal en die jaglig word gereed gehou. Dan antwoord hy weer op die elektroniese jakkals oor die luidspreker, hierdie keer heelwat nader. Die jakkalsgeluide uit die bakkie se deure roep vleiend soos die stemme van die dogters van Achelous, die Sirenes van Euripides se kranse wat die seemanne na hulle dood gelok het.
Dan antwoord ’n jakkals sommer net hier naby. Die lig flits aan en gly oor die oorkantste rand van die pan. Die ogies hop-hop en hang dan stil in die gras, dan nog ’n paar so vyf meter regs. Die skote klap op mekaar en die skilpaaie en paddas is stil. Die bakkie hoes twee keer, dan vat hy en ek gooi hom in rat. Ons kyk mekaar glimlaggend aan, daardie skote het geval! Aan die anderkant van die pan kry ons die twee lammoordenaars tussen die grasse. Die rooi velle oopgeruk deur die twee skote van die twee-sewentig.
Ek skyn die jaglig oor die twee jakkalse en in die half donker sien ek sy gesig, die tong hang uit en hy grynslag skeef vir my. Selfs in die dood koggel hy my. Wie het nou eintlik gewen?
Terug na Lesers vertel | Terug na bo

















Kommentaar