area map key

 


Wildkyk by Krokodilbrug


Krokodilbrug in die suidoostelike hoek van die Krugerwildtuin is ’n hek én ’n kamp met van die mooiste omliggende paaie. Diere en voëls is volop en die gebied is veral bekend vir die hoë getalle witrenosters, leeus, jagluiperds en wildehonde. Dié wat vroeg al uit die vere is, behoort leeus te sien op die H4-2-teerpad.

Beweeg jou muis oor die wildkykkaart.

Foto’s van plekke wat ’n besoek werd is, soos kampe, paaie en watergate, sal dan op jou skerm verskyn. As iets jou aandag trek, klik daarop vir nog inligting.

Crocodile Bridge map

 
Wat kan jy by Krokodilbrug sien?
   
 
Roofdiere
lioness

As jy roofdiere wil sien, moet jy vroeg opstaan en die H4-2 teerpad ry, en dan die  S28, S137 en S130-grondpad. Jy kan die roete kloksgewys of anti-kloksgewys ry. Leeus is lief vir die H4-2, veral vroeg soggens. Kyk ook fyn in die ruigtes langs die pad – luiperd se kind kruip daar weg. Die S28 is oop veld en een van die beste paaie in die suide van die wildtuin vir jagluiperds. Gevlekte hiënas loop by die S137-pad by Duke se watergat. Die S130 is witrenosters en olifante se weiveld, maar gevlekte hiënas kan ook hier opduik.

   
 
 
Olifante en renosters
elephant

Witrenosters is volop rondom Krokodilbrug, maar die S130 is die beste plek as jy dié menere wil teëkom. Olifante maak gereeld ’n draai by die S130, asook die H4-2 naby die Gomondwane-watergat en die S28.

   
 
 
Kameelperde en sebras
giraffe

Die oop veld om die S28-grondpad is kameelperdwêreld en sebras en blouwildebeeste wei ook graag hier. Die S25-Krokodilrivierpad kan ’n paar kameelperde oplewer, maar jy sal nie sommer ’n sebra sien nie.

   
 
 
Seekoeie
hippo

By die seekoeigat net wes van die Krokodilbrug-ruskamp langs die S27 het jy ’n goeie kans om seekoeie in die Krokodilrivier te sien baai. Dié ou grotes loop nou en dan vroegoggend oor die S25 terug watergat toe nadat hulle heelnag gewei het. Kyk ook uit vir seekoeie by die Ntandanyathi-skuiling en Gezantfomi Dam.

   
 
 
Natuurskoon
beautiful road

Die suidoostelike deel van die smal S26-Bumepad – moontlik een van die mooistes in die hele gebied – kronkel deur die geil Bumerivierplantegroei. Ry gerus ook die H5 tussen die S108 en die H4-2. Die S28 is ’n lekker oop pad terwyl die S130 plek-plek deur ruigtes loop.

   
 
 
Voëls
shrike

Die ganse Krokodilbruggebied is ’n voëlkykparadys, veral in die somer. Die natuurlike waterpanne wat ná reën langs die pad opdam, lok ’n verskeidenheid voëlspesies en is die ideale plek om foto’s te neem. Baie voëls kom kuier ook binne die kamp en roofvoëls en bromvoëls sal jy in die groot bome langs die H5 sien. Patryse en fisante wei graag in die renostermishope langs die pad. In die somer is daar ook witooievaars in die oop gebiede naby die kamp.

   
   

Onthou, geluk speel ’n rol, maar as jy die regte pad op die regte tyd ry, het jy ’n veel beter kans om nog ’n spesie op jou lysie af te merk. Gaan na ons Wenwenke-blad vir nog nuttige inligting oor wildkyk.



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

  • Jou reisstories en -wenke deel.
  • Jou foto's oplaai.
  • Met ander Weg-gers aanlyn gesels.
  • Raad vra.
  • Al jou webgunstelinge stoor.
  • Deel raak van die Weg! -toetspaneel.