
Die Krugerwildtuin is in die noordoostelike punt van Suid-Afrika in die Laeveld. Kyk na ons kaart van Suid-Afrika om jou te oriënteer.
As jy by die snelheidsgrens hou en langs die pad stilhou om te rus behoort jy ná 5-6 uur by die suidelike punt van die wildtuin te wees.
Ongeveer 2 miljoen hektaar. Dit sluit die private wildreservate in die ooste in, asook die nasionale parke in Zimbabwe en Mosambiek wat nou deel vorm van die Groter-Limpopo-oorgrenspark. Om dit in perspektief te plaas: Die Kruger is omtrent so groot soos Israel of Wallis.
Daar is nie ’n beste seisoen nie; dit hang eerder af waarvan jy hou en wat jy wil sien.
Somer (November-Februarie)
In die somer is dit bitterwarm in die wildtuin en die kwik styg bedags tot in die 40 ºC. Dit is ook die reënseisoen en dus die groenste tyd, maar dit reën nie sommer vir dae aaneen nie. Reën val gewoonlik in kort donderbuie wat baie dramaties kan wees. Baie diere het dan kleintjies en trekvoëls kom aan.
Voordele: Die plantegroei is baie groen en welig ná die reën; daar is baie jong diere en trekvoëls; dis nie te koud snags of vroegoggend nie; die riviere het gewoonlik water en dis ’n goeie tyd vir foto’s neem.
Nadele: Dis bitterwarm bedags en soms selfs snags. Daar is min wild en dis baie bedompig op reëndae; die digte plantegroei maak dit moeilik om wild te sien; malariamuskiete en ander insekte is volop.
Herfs (Maart en April)
Al verander die seisoene gewoonlik direk van somer na winter, word Maart en April as die herfs beskou. Dis ’n goeie tyd om die Krugerwildtuin te besoek: Die dagtemperatuur is matiger as in die somer; die plantegroei is nog groen ná die reën en die diere se kleintjies is nog by hulle. Trekvoëls begin die wildtuin verlaat en die plante raak dor en vaal namate die water opdroog. Daar is nog muskiete.
Winter (Mei-Augustus)
Die dagtemperatuur draai gewoonlik iewers in die 20 ºC (laag tot middel), maar snags en vroegoggend is dit bibberkoud. Wild is volop by die watergate en die plantegroei langs die pad is nie so dig soos in die somer nie (ook nie so groen nie). Daar is minder voëls, maar ook minder insekte.
Voordele: Matige dagtemperature; min reën en insekte tydens wildritte; minder digte plantegroei en meer wild by die watergate.
Nadele: Baie koud snags en vroegoggend; vaal veld; minder voëlspesies; sommige riviere en natuurlike damme en poele droog op.
Lente (September en Oktober)
Die eerste reën kan al in September val, maar kom gewoonlik eers in November of Desember. Sonder reën is die veld maar droog, maar die meeste plantspesies begin bot. Die grootste nadeel is dat veldbrande maklik uitbreek omdat droë plantmateriaal opgehoop het in die winter. As ’n veldbrand natuurlik ontstaan het en nie menselewens bedreig nie, sal die wildtuinbeamptes dit laat brand. Ná so ’n veldbrand is die omgewing swart en kaal, maar die wildtuin is groot genoeg dat jy elders op ’n wildrit kan gaan.
Die temperatuur is matig in die lente en daar is minder insekte as in die somer. Dis ’n goeie tyd vir ’n wildtuinvakansie, maar dit kan nog baie droog wees en plek-plek soos ’n woestyn lyk.
Die webwerf fokus op die 17 hoofruskampe maar daar is ook bosveldkampe, boslodges, oornagskuilings en private kampe. Besoek die SANparke-webwerf vir inligting oor verblyf.
As jy die nodige voorsorg tref, hoef jy jou nie oor malaria te bekommer nie. Neem die regte medikasie voor, tydens en ná jou besoek. Muskiete is in die reënseisoen (November-Maart) in die wildtuin, maar nie alle muskietbyte veroorsaak malaria nie. Dra saans langmouklere en gebruik insekweerder.
As jy registreer kan jy:







