Spoorsny


Terwyl diere deur die veld beweeg, los hulle allerhande leidrade. Spore, mis, skraapmerke en karkasse vertel wie wanneer waar geloop het. As jy weet waarvoor om uit te kyk kan jy meer leer oor die gebied of wat pas daar gebeur het. Hou jou oë oop vir dié leidrade.

Dieremis
elephant dung



Mis is een van die ooglopende leidrade wat diere agterlaat. Vars mis wat nog klam is en skerp ruik, is ’n goeie aanduiding dat die dier nog in die omgewing is.

Links is olifantmis.

 

Dierspore

white rhino tracks



Die sleutel tot dierspore lê in die vorm en grootte – as jy meer hieroor wil weet, skaf ’n veldgids by jou ruskampwinkel aan.

Spore is net op die grondpaaie sigbaar en die varsstes sal oor wielspore loop.

 

Skuurplekke



’n Paar dierspesies geniet ’n modderbad – nie net om af te koel nie, maar ook om van parasiete soos bosluise ontslae te raak. Veral olifante, buffels, renosters en blouwildebeeste is mal hieroor.

Ná so ’n modderbad skuur die dier die modder teen ’n rots of boomstam af. Die bosluise bly dan in die modder agter.

Kyk uit vir die skuurplekke naby riviere, damme, watergate en veral klein poele modderwater.

Blinkgevryfde skuurplekke

polished rubbing post



Soms word een skuurplek oor en oor gebruik totdat dit glad en blinkgevryf is. Diere – meestal olifante en renosters – keer dan vir generasies terug na dieselfde skuurplek, wat gewoonlik naby seisoenale modderpoele is.

Die hardekoolboom word as skuurplek ingespan omdat die hout baie dig en hard is. Dié boom staan sterk teen die aanslag van reuse-dierelywe.

Voëlneste

hamerkop nest



Oral langs die Krugerwildtuin se paaie is reuse-voëlneste in die bome. Daar is baie aktiwiteit – voëls voer hulle kuikens en hou die nes in stand. Soms neem voëls mekaar se nes oor of roofvoëls en roofdiere soos slange en akkedisse probeer ‘n kuiken of ’n eier of twee gaps.

Links is ’n reuse-hamerkopnes.

 

Skraapmerke

Scrape markings



Kyk na die spore om die skraapmerke om te bepaal watter dier hier verby geloop het.

Territoriale diere soos luiperds, leeus en renosters maak dikwels skraapmerke met hulle agterpote langs die roetes wat hulle patrolleer. Sommige spesies laat ook chemiese stowwe of reuke agter.

 

Sleepmerke

drag marks



Wanneer roofdiere hulle prooi plattrek, sleep hulle dit dikwels na ’n veiliger of koeler plek. Luiperds sleep byvoorbeeld hulle prooi – selfs volwasse rooibokke – tot 100 m en selfs verder na die naaste boom.

Die prooi los dan ’n sleepmerk op die grond wat jy kan sien waar die dier ’n grondpad oorgesteek het. As daar luiperdspore naby die sleepmerke is, is die karkas moontlik in ’n boom daar naby.

 

Groot buffelkuddes

buffalo herd



Dis maklik om in ’n groot buffelkudde se spoor te volg: Hulle los baie sigbare (en onwelriekende) leidrade. Omdat buffels die hele tyd vreet wanneer hulle trek, mis hulle oral langs die pad. 

As jy dus by ’n pad kom wat vir 10-50 m bevuil is en stink, is ’n buffelkudde waarskynlik hier verby.

 

Slangspore

snake track



Slangspore kom vroegoggend op die grondpaaie voor. Baie slangspesies is snags aktief en gee mense wat vroeg uit die vere is ’n kans om te sien waar hulle die vorige aand die pad oorgesteek het.

’n Slangspoor lyk baie soos dié van ’n fiets. Die spoor van slange wat seil, soos kobras, is S-vormig, terwyl slange soos adders reguit spore maak omdat hulle hulle spiere inspan om oor die grond te kruip.

Mishope

dung middens



Sekere dierspesies maak mishope wat oor en oor as reukstasies gebruik word, gewoonlik deur territoriale diere. Só kom hulle meer te wete oor die toestand en bewegings van ander diere.

In die suide van die wildtuin staan reuse-witrenostermishope van ongeveer 3x5 m langs die paaie. Renosters gebruik dikwels die paaie as patrollieroetes en baie mishope kan op een pad voorkom.

Grawewerk

digging



Aardvarke, ystervarke, ratels en vlakvarke is van die diere wat hulle kos uit die grond grawe. Ander spesies, soos die gevlekte hiëna, grawe weer ou aardvarkgate uit en gebruik dit dan as nes vir hulle kleintjies.

Daar is oral plekke waar diere die grond omgedolwe het op soek na kos of tydelike skuiling. Wees op die uitkyk vir spore wat sal verklap watter dier hier rondgegrawe het. ’n Gids kan die spore en grawemerke uitwys.

Bronstige olifantbulle

elephant in musth



Bronstige olifantbulle (wat reg is om te paar) is gewoonlik weens hulle hoër testosteroonvlak aggressiewer as ander olifantbulle. 

Bronstigheid word aangedui deur afskeidings van kliere teen die slape en ’n geswelde en gedeeltelik verlengde penis met ’n groen afskeiding wat skerp ruik. Dit kan dikwels op die pad gesien word en dit lyk kompleet asof iemand met ’n lekkende emmer daar verbygeloop het.  

As jy hierdie nat merke op die pad teëkom, kyk uit vir die bul in die onmiddellike omgewing en gee hom baie ruimte, al lyk hy ontspanne. Bronstige bulle het al voorheen motors wat dit te naby gewaag het, verniel en die toeriste ernstig beseer.

Onthou, alle olifante moet met respek behandel word deur groot afstande tussen hulle en jou voertuig te laat.

Olifantslurpmerke

elephant trunks



Buiten spore, mis en bronstigheid-afskeidings is slurpmerke op die gruispaaie nog ’n teken dat olifante onlangs daar verby is.

Die slurpmerke lyk soos halfgetekende prente in die sand, of asof iemand ’n groot klip aan ’n tou gesleep en heen-en-weer gepluk het.

Olifante met lang slurpe (meestal groot bulle) speel graag met die sand terwyl hulle stap. Dit kan vir kilometers aanhou. 

 

Wildspaadjies

game trails



Diere maak wildspaadjies om van een plek na ’n ander te gaan sonder om deur hoë, digte gras, struike en bome te loop. Dié paadjies is skoon, gelyk en gewoonlik sonder los klippe. Diere skop die klippe van die paadjie af of dit word deur olifante verwyder.

Hierdie paaie loop gewoonlik na water en as jy ’n watergat uit die lug bekyk, sal jy baie van dié wildspaaie uit verskillende rigtings na die water sien gaan.

Op begeleide staptogte saam met veldwagters sien ’n mens baie vars spore van verskeie diere op die wildspaaie, asook mis, reukspore en skraapmerke. 

Stropers stel ongelukkig wippe en ander toestelle op die paaie om wild vas te trek. Die wildtuin se teenstropingseenheid patrolleer die wildspaaie vir draadwippe en ander tekens van stropers.

 

Onthou, span ook jou ore en neus in as jy in die wildtuin ry – ingeval jou oë iets miskyk.

Terug na bo




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

  • Jou reisstories en -wenke deel.
  • Jou foto's oplaai.
  • Met ander Weg-gers aanlyn gesels.
  • Raad vra.
  • Al jou webgunstelinge stoor.
  • Deel raak van die Weg! -toetspaneel.