Leer meer oor die geskiedenis van die wildtuin.
.jpg)
Die grondleggers van die Krugerwildtuin se Skukuza-kamp.
Die Krugerwildtuin se geskiedenis loop ’n ver pad terug. Rotskuns getuig dat hierdie wildgebied eens die jagveld en tuiste was van ou beskawings, meestal San-jagter-versamelaars. Hulle tekeninge is al op meer as 170 plekke in die wildtuin gevind en dateer duisende jare terug. Die rotskuns beeld jagters uit, asook ’n groot verskeidenheid diere soos olifante, buffels en kameelperde.
Rondom 200 n.C. het Ystertydperk-beskawings van verder noord in Afrika na die gebied gekom, en in die dertiende eeu het mense hier begin handel dryf. Mense uit die Verre-Ooste het in Mosambiek aan wal gekom en dan binneland toe gereis om onder meer ivoor, diervelle, goud en koper te ruil. Thulamela in die noorde, naby Pafuri, is een van die argeologiese terreine wat die meeste besoek word.
![]() |
![]() |
|
|
Gaan op ’n begeleide toer na Thulamela- argeologiese terrein. |
Thulamela in die noorde, naby Pafuri, is een van die argeologiese terreine wat die meeste besoek word. |
Die eerste Westerse ontdekkingsreisiger wat die gebied in die Laeveld verken het waar die wildtuin vandag is, was glo die Nederlander Francois de Cuiper. Sy ekspedisie is egter deur plaaslike stamme verdryf. In 1838 het Louis Trichardt en Hans van Rensburg die Voortrekkers die gebied ingelei en voorposte op die been gebring.
Vroeg in die negentiende eeu het jagters wild in die Laeveld begin afmaai. Jagwetgewing wat in 1858 ingestel is, het nie ’n einde gemaak aan die slagting nie. Dinge het eers in 1898 verander toe die president van die eertydse Transvaalse Republiek, Paul Kruger, die Sabie-wildreservaat tussen die Krokodil- en die Sabierivier geproklameer het. Dít sou die gebied se uiteenlopende dierelewe beskerm en jagtogte beheer. Nog ’n reservaat, die Shingwedzi, is toe noord van die Sabie-wildreservaat gevestig.
In 1902, net ná die Anglo-boereoorlog, is James Stevenson-Hamilton as die Sabie-reservaat se eerste wildbewaarder aangestel. Sy taak was nie net om die plant- en dierelewe te beskerm nie, maar ook om alle inwoners en die plaaslike stamme te verplaas.
Die Krugerwildtuin het uit dié eertydse Sabie- en Shingwedzi-wildreservaat ontstaan en vir ’n ruk as die Transvaal-wildreservaat bekend gestaan. Stevenson-Hamilton het vir 40 jaar in die wildtuin gewerk en gehelp om die Wet op Nasionale Parke in 1926 deurgevoer te kry. ’n Jaar later het die eerste voertuie toeriste na die splinternuwe Nasionale Krugerwildtuin gebring.
Die toerismebedryf was so te sê dadelik goed op dreef en teen die middel van die twintigste eeu het die wildtuin meer as 10 000 besoekers per jaar gelok. Nog paaie is gebou, kampe is opgerig en die wildtuin is omhein.
Deesdae kom hier meer as 1 miljoen besoekers per jaar. Van die heinings tussen die wildtuin en aangrensende wildreservate is intussen verwyder, en sommige mense verwys nou na die gebied as die Groter Krugerwildtuin. In 2002 is die wildtuin by die Groter Limpopo-oorgrenspark ingelyf saam met die Gonarezhou- nasionale park in Zimbabwe en die Limpopo- nasionale park in Mosambiek.
As jy registreer kan jy:







