Begeleide staptogte


Guided Walks

Die Krugerwildtuin se ruskampe bied drie begeleide staptogte: ’n oggend-, middag- en rivierstaproete – laasgenoemde kan jy slegs van die Olifants- of Balule-ruskamp af doen. Twee gewapende gidse stap saam met jou op ’n roete deur die bos en wys interessante dinge en plekke langs die pad uit. Hulle het darem ook snoepgoed in hulle rugsakke.

Die staptoere kan vooraf of by die ruskamp bespreek word. Vir meer inligting, gaan na die Sanparke-webwerf.

Oggendstaproete

Morning Walks

Al die begeleide staptogte begin met ’n wildkykrit wat gewoonlik voor sonop uit die ruskamp vertrek. Die oggendstaptog is koeler as die middagstap en jy sien Afrika se sonsopkoms op sy allermooiste. Dis ’n heerlike ervaring om die nuwe dag te voet te begin. Die staptog duur ongeveer drie uur.

Middagstaproete

Afternoon Walks

Die middagstaptog begin ook met ’n kort wildkykrit wat eindig waar die gids die staptog wil begin. Dit kan baie warm word, veral in die somer, maar sekere tye van die jaar (Mei-September) sien ’n mens wild by die watergate en riviere. Dit duur 2-3 uur.

Rivierstaproete

River Walks

Die rivierstaptog begin slegs by die Olifants- en Balule-ruskamp en jy val middel-oggend in die pad. Jy stap saam met ’n gids al langs die Olifantsrivier en sal waarskynlik seekoeie, krokodille en ’n groot verskeidenheid voëls, soos die skaars visuil, sien. Dit duur omtrent 2 uur.

 
Wat is die beste seisoen om ’n begeleide staptoer te doen?

’n Staptoer in die winter is heel lekker, maar in die somer (November tot Februarie) kan dit te warm raak. Vlieë kan ook in sekere gebiede lastig wees. As jy in die somer gaan stap, neem genoeg water saam.

 
Wat kan ek sien?

Moenie die groot vyf verwag nie; jy wil hulle immers nie te voet raakloop nie! Die gidse dra gewere saam ingeval julle teëspoed optel met ’n gevaarlike dier. Elke gids het sy eie styl. Party is gaande oor voëls, terwyl ander plante en hulle medisinale gebruik sal uitwys.

Die begeleide staptogte fokus op kleiner dingetjies wat ’n mens nie sommer uit ’n voertuig sien nie, soos spore, mis, voëls, insekte, spinnerakke en plante. Dis ’n geleentheid om al vyf sintuie in te span: Sien voëls en diere en hoor hulle roep; ruik vars mis of plante wat ’n sterk reuk afgee; proe ’n eetbare bessie of ’n bitter blaar en vat aan boombas of ’n skilpaddop.

Elke kamp bied ’n ander stapervaring en verskillende habitatte. Berg-en-Dal is byvoorbeeld bergagtig, het wonderlike uitsigte en is die ideale plek om witrenosters se spoor te volg. Satara is weer plat en oop met ’n vlakte-uitsig. Mopani is in die digte mopanieveld en olifante loop hier.

Onthou om dié saam te vat:

  • Gemaklike stapskoene
  • Waterbottel
  • Sonskerm en hoed
  • Langbroek (die gras en ander plante kan jou krap of laat jeuk)
  • Hooikoorspille (as jy dink jy gaan dit nodig hê)
  • Verkyker en kamera


Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

  • Jou reisstories en -wenke deel.
  • Jou foto's oplaai.
  • Met ander Weg-gers aanlyn gesels.
  • Raad vra.
  • Al jou webgunstelinge stoor.
  • Deel raak van die Weg! -toetspaneel.