Snuffel hier vir al die algemene inligting oor die Krugerwildtuin wat jy sal nodig kry.
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |

Die Krugerwildtuin is teen die noordoostelike grens van Suid-Afrika geleë en strek oor twee provinsies – Limpopo en Mpumalanga. Die wildtuin beslaan 2 miljoen ha (20 000 km2) en is amper so groot soos Israel. Die hele wildtuin is egter nie oop vir die publiek nie. Baie private wildreservate met luukse lodges in die suidweste is die afgelope jare by die wildtuin ingelyf.
Padlangs

Die kortste pad van Johannesburg na die Krugerwildtuin is die N12 oos. Dit sluit aan by die N4-hoofpad wat na Nelspruit, oos van die wildtuin, gaan. Die naaste hekke aan Nelspruit is Malelane en Numbi. Om die Malelanehek te bereik hou jy reguit aan op die N4. Vir die Numbihek draai jy noord in die rigting van Witrivier en Hazyview (R538). Albei is vier en ’n half uur se ry vanaf Johannesburg.
Onthou, die Krugerwildtuin is ’n reuse-reservaat en daar is baie ingangshekke aan die suidelike en westelike grens. Koop ’n kaart en werk die beste roete na die hek van jou keuse uit.
Loer na die wildtuinkaart om jou te oriënteer en al die ingangshekke op te spoor.
Per vliegtuig
Daar is daagliks vlugte van Johannesburg (OR Tambo- internasionale lughawe) na die Kruger-Mpumalanga- internasionale lughawe (KMIL) tussen Nelspruit en Witrivier, die Hoedspruit-lughawe en die Phalaborwa-lughawe. Jy kan ook daagliks van Kaapstad en Durban na KMIL vlieg, en van Kaapstad na die Hoedspruit-lughawe.
Voertuie kan by al drie die lughawens naby die wildtuin gehuur word, asook in al die groot stede en dorpe in Suid-Afrika.
Die ruskamphekke en ingangshekke maak dieselfde tye oop en toe, behalwe van November tot Januarie, wanneer die ruskamphekke ’n uur vroeër oopmaak as die ingangshekke.
| Jan | Feb | Maart | April | May-Jul | Aug | Sept | Okt | Nov-Des | |
|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
| Openingstye van kamphekke | 04:30 | 05:30 | 05:30 | 06:00 | 06:00 | 06:00 | 06:00 | 05:30 | 04:30 |
| Openingstye van ingangshekke | 05:30 | 05:30 | 05:30 | 06:00 | 06:00 | 06:00 | 06:00 | 05:30 | 05:30 |
| Alle hekke gesluit | 18:30 | 18:30 | 18:00 | 18:00 | 17:30 | 18:00 | 18:00 | 18:00 | 18:30 |
Laatkommers word weggewys by die ingangshekke, en word beboet by die ruskamphekke. Begeleide toegang is tot 21:00 teen betaling by sekere ingangshekke beskikbaar.

Die Laeveld, waar die Krugerwildtuin geleë is, is ’n somerreënvalgebied wat bloedigwarm word – die kwik kan in die middel van die somer tot 42 ºC (108 ºFahrenheit) styg. Dit is somer van Oktober tot April en winter van Mei tot Augustus. Swaar reën is nie ongewoon in die somer nie, en die lente- en herfsweer verskil nie baie van die somer- en winterweer nie.
Die winterdae is matig en aangenaam, maar snags raak dit koud. Besoekers moet maar warm klere en komberse inpak vir dié tyd van die jaar.

In die wildtuin mag jy 50 km/h op teerpaaie en 40 km/h op gruispaaie ry. ’n Snelheid van 25 km/h word aanbeveel vir wildkyk.

Mense onderskat dikwels die afstande in die wildtuin omdat hulle stadig ry en gereeld stop om na diere of voëls te kyk. Gee jouself genoeg tyd om in die middag betyds terug te wees by die ruskamp. Moenie te laat terugdraai nie en moenie jaag nie – wild op die pad kan in die slag bly. Die tabel onder kan jou met tydsberekening help.
Die afstande tussen die ruskampe en hekke word in kilometer aangedui. Onder elke afstand is die tyd wat dit ongeveer sal neem om die afstand af te lê teen 25 km/h (wildkykspoed).
* 1 km = 0.62 myl
3h45 = 3 uur en 45 minute


Net ’n sekere aantal dagbesoekers word toegelaat in die wildtuin. Veral op openbare vakansiedae en in skoolvakansies moet dagbesoekers vooraf bespreek om teleurstelling te voorkom. Volg hierdie skakel vir meer inligting oor besprekings vir dagbesoekers.
Al die hoofruskampe het dagbesoekerterreine en daar is baie piekniekplekke in die reservaat waar besoekers hulle mandjies kan uitpak. Skukuza en Letaba se dagbesoekerterreine het ’n swembad.

’n Mens loop altyd die gevaar om malaria op te doen in die Krugerwildtuin. Al is die risiko hoër in die nat seisoen, moet jy maar heeljaar voorsorg tref. Maak seker jy kry vooraf die regte medisyne in die hande en vra jou apteker uit oor die moontlike newe-effekte.

Alle besoekers moet ’n bewaringstarief betaal wanneer hulle die wildtuin binnegaan. Gaan na Sanparke se webwerf vir die nuutste tariewe. Mense wat die wildtuin gereeld of vir lang tye besoek, kan ’n Wild Card aanskaf. Die kaart is vir ’n jaar geldig en bied afslag op die bewaringstarief. Volg hierdie skakel vir meer inligting oor die Wild Card.

Volg hierdie skakel om te sien hoe die hoofruskampe van die wildtuin met mekaar vergelyk op ons Vergelyk Hoofkampe blad.

Al beveel baie reisagente en dokumentêre films die droë seisoen aan vir wildkyk in Afrika, is dit nie noodwendig die beste tyd nie. Die nat en droë seisoen het albei voor- en nadele; hier is dus ’n paar riglyne:
Droë seisoen(Mei-Oktober)
Die dagtemperatuur in die droë seisoen is gewoonlik baie aangenaam en daar is min muskiete en ander insekte. Die plantegroei is dan nie te dig nie, wat wildkyk makliker maak, en die watergate en rivierpoele lok baie wild en voëls. Die nadeel is die korter dae, koue nagte, droë en vaal landskap en minder voëlspesies en jong diere in die veld.
Nat seisoen (November-April)
Die wildtuin se reënval is baie onvoorspelbaar, maar November tot April word in die algemeen as nat maande beskou. Hoewel dit bitterwarm raak, bied dié maande heelwat vir besoekers. Baie wild skenk dan die lewe aan kleintjies, trekvoëls besoek die gebied en die plantegroei is geil en groen, wat vir mooi foto’s sorg. Dit bly later lig en jy het dus meer daglig om na wild te soek. Die nadele is die hitte, baie insekte en digte plantegroei wat wildkyk moeilik kan maak.
Onthou, daar is heeljaar wild; jy sal altyd jou gunstelingdier in die wildtuin raakloop, ongeag die seisoen.
As jy registreer kan jy:







