Pasta met spek, roomkaas en pesto
Hierdie pastaresep sál werk en jy kan dit binne ’n halfuur maak. Hier is jou kans om die huismense te beïndruk…
Jy benodig (vir 4 mense)
• 350 g pasta (spaghetti, penne of wat jy ook al het)
• 1 pak (250 g) rugspek, in stukkies gesny
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekneus
• 1 pak (250 g) bruinsampioene, in skyfies gesny
• 2 eetlepels basiliepesto
• 1 houer (250 g) roomkaas (of suurroom of dikroom)
Só maak jy
1 Begin met die pasta. Kook die pasta in ’n groot kastrol vol kokende soutwater tot gaar (dit neem 12-15 minute).
2 Kry die ekstras gereed. Terwyl jy wag dat die pasta-water kook, braai solank die spek in ’n droë braaipan oor lae hitte totdat die vet begin uitbraai. Voeg dan die uie, knoffel en sampioene by. Haal dit van die plaat af sodra dit gaar is.
3 Roer alles. Sodra die pasta gekook is, dreineer dit in ’n vergiettes (’n bak met gaatjies) en roer dan die spekmengsel by. Gooi die pesto by en roer ook die roomkaas by. Geur dit met sout en swartpeper indien nodig en sit dit voor. Bon appétit!
Weg sê: Dit voel dalk nie reg om die spek net so droog te braai nie, maar as die plaat laag genoeg gestel is, sal jy sien hoe die spek in sy eie vetjies begin braai. As dit effens te droog is – veral nadat jy die sampioene bygevoeg het – gooi net botter of olie by.



















Kommentaar