Filet met mosterdsous
Filet is ’n duur vleissnit, maar is op die ou end dikwels beter waarde vir geld omdat jy alles daarvan gebruik – daar is g’n bene of vet wat in Wagter se bak beland nie.
Jy benodig (vir 6 mense)
• 1 filet van sowat 1,2 kg
• olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper
Vir die sous
• 1 botteltjie matige Amerikaanse mosterd (Colman’s s’n is lekker)
• 2 opgehoopte teelepels korrelrige mosterd
• ½ koppie room
• 1 teelepel droë origanum
• 2 teelepels droë pietersielie
• 2 teelepels gemengde kruie
• ½ koppie brandewyn
Só maak jy
1 Knoop sy stert. Bind die dunner stertgedeelte van die filet terug en maak dit met tou vas sodat die vleis regdeur eweredig gaar word.
2 Olie hom. Smeer die filet oraloor met olyfolie. Sprinkel dan sout en swartpeper oor die hele vleissnit.
3 Tsss… Braai die filet oor warm kole, eers tot goudbruin aan die een kant voordat jy dit omdraai en die ander kant ook braai. ’n Filet van 1,5 kg sal sowat 15 minute neem om medium-gaar te word (maar dit hang af hoe dik die vleis is). Laat “rus” die filet vir 10 minute in ’n skottel voordat jy dit in skywe sny. Die vleissappe bly dan binne-in en die vleis droog nie uit nie.
4 Word ’n soustannie. Maak die sous sommer terwyl die vleis braai. Meng al die bestanddele en hou dit gereed.
5 Maak warm. Sit ’n lekker groot braaipan oor die kole, gooi die sous daarin en maak dit deurwarm. Sit die gebraaide filet net voordat jy dit voorsit, in die sous, sny dit dan in skywe en skep dit op met sous.
6 Ietsie ekstra. Ek maak graag romerige polenta saam met die filet, maar het dit ook al saam met ’n aartappelgebak voorgesit.
Weg sê: Jy kan die droë kruie met varses vervang, maar dan moet jy drie keer meer gebruik. (Die droë soort se geur is sterker.)

























Kommentaar