Lamskenkelpotjie
Die swartpot is ’n staatmaker onder kampeerders en sorg vir onpretensieuse kuierkos (net so lekker soos die kuier self). Sit hierdie potjie voor saam met roosterkoek, pap of rys.
Jy benodig (vir 6 mense)
• 2 kg lamskenkels, in stukke gesaag
• 2 eetlepels paprika
• sout en swartpeper
• 100 ml koekmeel
• botter
• olyfolie
• 2 groot uie, gekap
• 2 koppies vleisaftreksel
• 1 koppie rooiwyn
• 1 opgehoopte eetlepel gekapte roosmaryn
• 100 ml tamatiepasta
• 8-10 sondroogtamaties
• 4 knoffelhuisies, gekneus
• 2 blikke botterbone, afgespoel en gedreineer
Só maak jy
1 Sakkie-sakkie. Sprinkel die paprika oor die lamskenkels.
Geur dit dan met sout en swartpeper en dompel dit in ’n plastieksakkie in die meel.
Knoop die sakkie toe en skud dit totdat al die skenkels met meel bedek is. Haal dan die skenkels uit en skud die oortollige meel af.
2 Tyd vir ’n ‘tan’. Verhit ’n bietjie botter en olyfolie in ’n driepoot-of platboom-swartpot oor die kole (of oor die stoofplaat). Wag totdat die pot goed warm is en braai ’n paar skenkels op ’n slag totdat dit oraloor mooi bruin is. (Gooi nog botter en olyfolie by indien die pot droog raak.) Skep die skenkels uit en hou dit eenkant.
3 Die uie op hulle eie. Braai die uie in dieselfde pot totdat dit sag is, maar nie bruin nie. Skep die skenkels terug in die pot.
4 Prut, geur en proe. Gooi die aftreksel, rooiwyn, roosmaryn, tamatiepasta, sondroogtamaties
en knoffel by. Verhit dit tot kookpunt, maar maak seker dat dit nie aanbrand nie.
Verlaag dan die hitte sodat dit net-net prut en sit die pot se deksel op (dit sal nou nie sommer aanbrand nie, solank daar genoeg vloeistof is).
Laat dit vir 1½-2 uur prut totdat die vleis sag is. Proe en gooi nog sout en peper by, indien nodig.
5 Die laaste stappie. Roer die botterbone by en verhit dit vir ’n paar minute tot alles deurwarm is. En roep maar die mense...
Weg sê: Die geheim van goeie potjiekos is om nie haastig te wees nie. As die sous in die potjie teen die einde van die gaarmaaktyd te loperig is, haal bloot die deksel af en laat dit effens afkook.



















Kommentaar