Warm Duitse aartappelslaai
‘I vant zis salad’
Almal het hulle eie manier met aartappelslaai: skil aan, skil af, baie mayonnaise, bietjie mayonnaise, eier, kondensmelk... Hier’s ’n warm Duitse weergawe wat ons stilis, Hanneke du Toit, by haar vriendin Andrea, ’n Namibiër, gekry het. Dis smaaklik en heerlik lig.
Jy benodig (vir 4 mense)
• 1 kg aartappels, gaar gekook, geskil en in blokkies gesny
• 75 g spekvleis, fyn gesnipper
• 50 ml sonneblomolie
• 1 ui, fyngekap
• 4 eetlepels asyn
• 75 ml hoender- of groenteaftreksel
• sout en peper
Só maak jy
1 Die vet braai uit. Braai die spekvleis liggies, gooi die olie en ui by en soteer die mengsel totdat die ui sag is.
2 ’n Pikante aanslag. Gooi die asyn en aftreksel by die spek-en-uiemengsel.
3 Gooi die ware geur. Gooi die sous nou stadig oor die aartappels en voeg sout en peper na smaak by.
4 Eers opslurp, dan opskep. Laat die slaai ’n rukkie staan sodat die aartappels die sous kan absorbeer en sit dit louwarm of teen kamertemperatuur voor.
Weg sê: Dankie tog die Duitsers maak nie net goeie karre nie!



















Kommentaar