Driegemmerkoekies
Óf jy’s ’n gemmerkoekieman óf jy is nie. Hierdie koekie het drie soorte gemmer in.
Bestanddele
• 1 kg bruismeel
• 1 teelepel sout
• 2 teelepels koeksoda
• 2 teelepels kremetart
• ½ teelepel fyn gemmer (die droë soort)
• 500 g (1 blok) sagte botter
• 2 koppies sagte bruinsuiker
• 1 koppie gouestroop
• 1 stuk vars gemmer van omtrent 2 cm
• ½ koppie ingemaakte gemmer, gedreineer en fyngekap
• 2 eiers, geklits
Só maak jy
1. Hoog en droog. Sif die meel, sout, koeksoda, kremetart en droë gemmer saam en hou die mengsel eenkant.
2. Klop-klop. Klop die botter, bruinsuiker, stroop, vars gemmer en ingemaakte gemmer met ’n houtlepel saam. Voeg die meelmengsel by die bottermengsel en meng dit goed. Breek die eiers in die deeg en meng dit totdat dit ’n sagte deeg vorm.
3. Ruk en rol. Rol die deeg dun uit (omtrent 3 mm) en gebruik ’n koekiedrukker – verkieslik ’n mannetjie-vorm! – om dit uit te druk. Bak die koekies vir 8-10 minute in ’n oond van 180 ºC.
Weg sê? As jy gemmerkoekies saamvat met vakansie, moenie ’n pak goeie koffie vergeet nie. ’n Gemmerkoekie móét gedoop word (verkieslik nie in Frisco nie).



















Kommentaar