Fetaplaatkoekies
Vir 4-6
Voorbereityd 10 minute
Gaarmaaktyd 10 minute
Danksy die geklitste eierwit is hierdie plaatkoekies veerlig. Dit smaak vorentoe enige tyd van die dag (of nag).
Jy benodig:
- 4 eiers, geskei
- ¾ koppie karringmelk
- 1 koppie koekmeel
- 1 teelepel bakpoeier
- ’n knippie sout
- 1½ koppie Deense fetakaas, in blokkies (jy kan ook ricotta gebruik)
- botter vir braai
- 4 vye
- heuning
- 12 salamiskyfies
Só maak jy
- Klits die eierwitte styf en hou dit eers eenkant.
- Meng die karringmelk en eiergele in ’n groot bak.
- Sif die meel, bakpoeier en sout by die eiermengsel en meng dit liggies deur totdat dit net-net saambind.
- Vou die helfte van die eierwit en al die kaas met ’n metaallepel by die beslag in, en vou dan die res van die eierwit by die mengsel in.
- Smelt ’n klontjie botter in ’n pan. Drup twee tot drie eetlepels beslag per plaatkoekie in die pan. Ná ongeveer 2 minute sal die onderkant goudbruin wees – draai die koekie om en braai die ander kant ook.
- Braai intussen die salami vinnig bros in ’n ander pan, sny die vye middeldeur en braai dit vinnig in ’n bietjie botter en heuning in dieselfde pan. Sit dit dadelik voor saam met die warm plaatkoekies.




















Kommentaar