Wonderlike beesfilet
Daar langs die bees se rugstring lê ’n klein wonderwerk: die filet. En as jy dit – net so heel – vinnig op die kole braai, is dit darem koningskos. Sonder enige fieterjasies.
Só maak jy
- Soek ’n filet van ’n beskeie grootte (so 1,5kg). Daai wat soos ’n jong luislang in die slaghuis lê, is lomp en nie jou braaivaardighede waardig nie. Hulle brand gou buite terwyl dit binne nog rou is.
- Maak ’n spul warm kole. As jy steeds jouWeber-ketel gebruik, krap jy die kole onder die rooster oop. (Dit moet warm wees; jy moet jou hand vir drie sekondes bo die rooster kan hou voor jy om water roep.)
- Geur die filet met sout en vars gemaalde swartpeper en sit hom op die oop rooster. Draai dit ná sowat een minuut om sodat al twee kante verseël is.
- Nou braai jy die filet met jou volle aandag. Voordat jy die vleis elke twee minute omdraai, smeer jy hom met ’n mengsel van olyfolie, sojasous en witasyn (gebruik een derde van elk). Die smeersel gaan die vleis liggies geur, maar ook die lieflikste goudbruin lagie verleen.
’n Filet van 1,5kg sal ná 15 minute medium rare wees. Enigiets oor 17 minute gaan hom medium se kant toe druk. Dis egter maklik om vir jou ’n stukkie af te sny en te kyk hoe sake aan die binnekant lyk. Wanneer hy reg is, laat die vleis ’n bietjie rus, en sny dit dan in duimdik skywe. Dis vleisliefde op sy beste – warm óf koud.



















Kommentaar