Dinge wat ek en my Potjie saam ontdek het
Deur Pieter de Waal
Almal het baie te sê oor potjieresepte. Ek dink dit is tyd dat iemand iets oor die potjie self sê. Ek en my potjie het ‘n hegte verhouding. Dit maak dat hy baie meer van sy geheime met my deel wanneer hy so fluister-fluister staan en prut. Ons en potjie kom nou al by die 25 jaar saam by gesellighede aan en kan baie storietjies vertel.
Kies jou pot
Daar is baie meer aan ‘n potjie as wat meeste mense dink. Daar is goeie kwaliteit en swak kwaliteit potte. Ek hou van ‘n kwaliteit gietstuk met netjiese nate en ‘n eweredige dikte rondom. ‘n Aluminium potjie is seker baie ligter maar ek glo dit is baie ongesond. Of die een die kos beter gaarmaak as die ander is sekerlik ‘n goeie vraag.
Afwerking aan die binnekant van ‘n potjie is baie belangrik. Nie oor dit die kos gaan beter gaarmaak nie maar eerder omdat dit ‘n groot verskil aan die skoonmaker se gemoedstoestand sal maak.
Daar is deesdae potjies met teflon aan die binnekant. Ek glo dit sal help met die skoonmaak slag. Of die stukkie tegnologie na ‘n jaar of twee se boskampe nog vir jou die ding gaan doen is egter te betwyfel. Die lagie keer nie dat die pot aanbrand nie, dit help net dat die pot makliker skoonmaak. Hoewel die skoonmaakproses makliker gemaak word moet jy baie versigtig daarmee werk. Dit beskadig maklik en dan sukkel jy regtig om dit skoon te kry.
Ons is bietjie uit die oudedoos en ons potjie kom al meer as 25 jaar aan. Geen ‘fênsie’ lagies het toe bestaan nie. Wat ons wel gedoen het is om die binnekant glad te skuur. Eerstens met ‘n klein hoekslyper om die elmboog ‘n bietjie te spaar en daarna met al fyner skuurpapier. Deesdae kry mens ‘n skuurpapier skyf wat op die hoekslyper pas wat die werk heelwat verminder. Die resultaat van die eenmalige moeite is dat die pot baie maklik skoonmaak en nie so maklik aanbrand nie. Gewoonlik net so 5 trekke met ‘n ‘goldiloks’ en hy is skoon.
Voorbereiding en inweiding
As jy klaar is met die proses moet jy ‘n pot inbreek. Koop ‘n sak vol groente lowwe by die groente smous en kook dit woes in die pot vir 2 tot 3 uur. Al die onsuiwerhede in die poreuse oppervlak kom dan uit. Daar is allerhande sure ensovoorts wat nie baie gesond kan wees nie wat met die gietproses agter bly. Kyk maar hoe swart is jou aartappels as jy ‘n nuwe pot begin gebruik. Die potjies met die Teflon in het seker nie die behandeling nodig nie.
Aangebrand is een van daai 4 letter woorde as jy kamp, veral as daar nie opwas geriewe is nie en water is beperk. Ons ry spesiaal die outomatiese skottelgoedwasser se seep saam. Jy gooi ‘n dun lagie water (10mm) in die pan of kastrol. Dan volg 2 eetlepels of so se seep. Kook die water vir 10 minute. Dit lyk soos oëverblindery so maklik as wat die aanbrandsel los kom. Hierdie is aan te bevele op die ‘fênsie’ teflon oppervlaktes nie. Die seep sal dit beskadig,
Roes is soms ‘n groot besprekingspunt. As die bodem so glad is, is roes nie regtig ‘n probleem nie. Sodra jy hom klaar gewas het, vee hom dadelik droog, hy kan binne minute roes as hy mooi skoon is. Die bietjie roes wat daar volgende keer dalk is of die stof van die pad neem twee eetlepels water en ‘n papierhanddoek en hy is skoon genoeg om mee te kook. As jy die pot olie smeer of spuit vang dit die stof op die pad vas en dan moet jy hom ernstig was voor jy volgende keer kan kook.
By die huis vir langer tydperke maak jy ‘n bondel koerant papier en gooi dit daarin. Frommel die koerant so ‘n bietjie terwyl jy die bondel maak. Dit maak die papier higroskopies. (Vog absorberend) Die pot sal maande lank roesvry bly as jy die deksel toe maak. Jy kan hom natuurlik ook olie smeer as jy die vrede nie vertrou nie. Was hom net ordentlik voor jy ry, anders gaan jy sukkel om die ou en nou taai olie in die bos uitgewas te kry.
Ons gebruik gewoonlik spek en uie in ons resepte. Ons braai dit vooraf in die pot en haal dit uit om na die tyd bo-op te strooi 5 minute voor die pot gaar is. Dit gee dan daardie lekker smaak aan die gereg. As jy dit saam met die hele pot kook verloor jy die gebraaide smaak van die uie en die spek.
Braai eers die spek wat alewig aanbrand as jy dit probeer krakerig kry, doen die uie direk daarna. Dit maak weer die aanbrandsel los en jy begin die res met ‘n skoon pot.
Om nie jou pot se oppervlak of die opskep lepel te beskadig nie gebruik ‘n houtlepel. Ek gril my skoon bewerig as ek met ‘n metaal lepel teen die pot se kant krap. Hierdie foto wys ‘n baie oulike vorm wat ons raakgeloop het met ‘n plat vlak aan die punt. Dit skraap ‘n breër gedeelte van die bodem en kan daardie laaste stukkies ook uit die pot sleep.
Gebruik hom reg
Kry vir jou ‘n lekker ding om die deksel te hanteer. Elkeen het sy eie idee. Hier is myne. Die pot se hingsel kan gehak word en die pot kan rondgedra word sonder dat dit jou hand brand. Die stukkie gereedskap kan ook deur die deksel se ogie wig sodat die deksel stewig vassit. Dit vorm dan die stander waarop die deksel langs jou skoon en netjies selfs op die grond kan staan. Ek plaas baie keer die gebraaide spek tydelik in die deksel juis omdat dit so handig langs jou staan.
Die puriste maak ‘n potjie net op ‘n vuur. Ek is nie so streng op daardie reel nie en doen dit gewoonlik op ‘n gasstofie. Die kans dat hy langer vat en selfs aanbrand op die vuur is goed. Op safarie is daar selde ‘n vuurmaakplek, hout is verbasend skaars en dit neem baie meer tyd in beslag. Jy moet ook die pot oppas as jy met kole werk. Dit is dalk ‘n lekker verskoning om nie met die ander kamptakies opgesaal te word nie.
Die branders het ook oor die jare baie verander. Die nuwes is eendoelig en swaar, maw jy moet nog ‘n gewone een ook inpak, opskroef, afskroef en sorg dat dit nie stof in die gaatjie kry nie. Diè een wat ons jare terug gekoop het is heel moontlik onbekombaar. As iemand een tweedehands wil verkoop, kontak my asseblief. Meeste kastrolle pas binne in en die windskermpie help baie as dit koud of winderig is. Ek hoop veskaffers lees hierdie en bring dit terug op die mark. Die ander lekker ding, sy naam is in Afrikaans op hom geskryf.
Ons kamptafel het aan die een kant ‘n platvouende windskerm ryker geword. Dit is onontbeerlik as die wind waai. Daar pas twee stofies in die windstil plekkie in. Die pot is ‘n groot area wat kan afkoel en ‘n klein vlammetjie onder sy agterent. Binne in ‘n tent of voertuig is ‘n gevaarlike plek om ‘n potjie te prober gaar kry.
‘n Potjie kan ook as ‘n oond gebruik word. Ons het ‘n goedkoop koekpannetjie (verskoon die roes) en ‘n koek afkoel siffie gekry wat net-net binne die pot pas. Die pannetjie gaan eerste in met groente, sê 2 aartappels en twee halwe skorsies en ‘n ui. Die siffie word dan bo-op geplaas en ‘n half kilo beeshaas word dan bo-op die siffie geplaas. Maak die potjie toe en bak jou sondag ete in die ‘oond’. Daar is nie baie plek nie en ons no 3 kan dit slegs vir 2 mense doen.
Sommige duur kastrolle met ‘n amperse politieke naam het ‘n temperatuur metertjie op die deksel. Jy kan dit los koop. Ek het ‘n 6mm gaatjie in die deksel getap, ‘n geelkoper boutjie daarin vasgedraai en siedaar. Die temperatuur variasie is klein. Jy kan sien of die pot prut of nie. (Ek het meer verwag) Op van die ander fotos kan mens die skroefie in die deksel sien.
Moenie Tamaties in die pot gooi voor die aartappels sag is nie, hulle gaan saam met tamaties nooit sag kook nie. Dit het blykbaar met die suurgehalte van tamaties te doen.
Dan natuurlik moet enige goeie potjie saam met ‘n goeie bottel wyn gaan.




















Kommentaar