Beste skemerkelkie-plekke
1. Devon Valley Hotel, Stellenbosch
Daardie lang, tevrede sug wat mens gee nadat jy ’n groot taak afgehandel het wat volgens plan verloop het, dís die gevoel wat mens kry as jy op Devon Valley Hotel se stoep sit en ’n skemerkelkie geniet. Dis geleë in die Devon Valley-vallei aan die buitewyke van Stellenbosch en jou uitsig oor wingerde, valleie, en berge is om van te swymel en die sonsondergange inderdaad romanties.
2. Visrivier-canyon, Namibië
Die Visrivier-canyon is een van daardie rare natuurwonders wat nog werklik ongerep is. Omdat dit so ver van alles af is en geen ontwikkeling of mense naby is nie, voel jy asof jy die eerste een is wat die asemrowende natuurwonder ontdek. Die canyon eer jou met haar teenwoordigheid. Sy laat jou toe om in haar grootheid en geduld te rus. Die afsondering gepaardgaande met ’n pienk-pers-oranje sonsondergang is ’n skemerkelkie-geleentheid om te onthou.
3. Koffiebaai, Oos-Kaap
Koffiebaai het ’n bultjie teen die see wat mens met jou motor kan uitry of uitstap. Hier het jy ’n uitsig oor die see en ’n ruwe, onaangeraakte kuslyn wat teen die mag van die see baklei. Gooi ’n piekniekkombers oop, skink ’n skemerkelkie en drink die omgewing in. Die 360° uitsig gee jou perspektief op die lewe en laat jou voel asof niks regtig so erg is soos wat jy dink nie.
4. Makgadikgadi-panne, Botswana
Vreemd hoe mens besef hoe klein jy is, hoe meer “niks“ jy om jou sien. Voeg daarby ’n oorverdowerende stilte, ’n plat aarde wat vir kilometers ver strek en jy het ’n wenner. Hier is genoeg ruimte vir al jou probleme. Jy kan hulle een vir een uitpak en los op die rowwe, plat aarde. Met ’n skemerkelkie in jou hand en ’n Afrika-sonsondergang sal jy weet hoe vrede voel, ruik, proe en klink.
5. Mkhuze-wildpark, KwaZulu-Natal
Dié wildpark het vele skuilings waar mens kan uitklim en ’n watergat dophou sonder dat die diere jou sien. By een van dié watergate het ons ’n skemerkelkie geniet terwyl die son ondergaan en die bokke en renosters voor ons ook hulle eie skemerkelkie geniet. Dis sulke tye wat jy besef dat daar nog baie “mooi” in hierdie wêreld oor is. Mens moet net gereeld tyd maak om ’n skemerkelkie te drink.




















Kommentaar