Biefburgers
Min dinge klop ’n lekker hamburger. En as jy dit boonop self maak, smaak dit nóg beter. Jy kan die patties oor die kole of in ’n pan braai.
Jy benodig (vir 8 mense)
• 1 sny brood
• melk om die brood in te week
• 500 g beesmaalvleis
• 1 ui, fyngekap
• 1 groenappel (Granny Smith), geskil en gerasper
• 2 teelepels heelkorrelmosterd
• varsgemaalde swartpeper na smaak
• 1 eier, geklits
Só maak jy
1 Melkbad. Week die brood in ’n bietjie melk totdat dit pap is.
2 Meng. Meng nou al die bestanddele met jou hande saam (of as jy een van daardie parate kampeerders is, pols dit ’n paar keer in ’n voedselverwerker).
3 Koel af. Maak nou jou hande nat en vorm die vleismengsel in 8 koekies. Sit dit vir ’n halfuur in die yskas sodat dit ferm word. As jy nie ’n kampeeryskas het nie, plaas die patties in ’n koelboks of laat staan dit net op ’n koel plek totdat jy begin braai.
4 Tyd vir sis. Braai nou al die vleiskoekies oor matige kole op ’n oop rooster.
5 Bou die burgers. Maak jou eie burgers met broodrolletjies, slaai, tamatieskyfies, uie en, as jy wil, ook ’n lepel vol tamatiepesto.
Weg sê: Smeer met olie of spuit dit met Spray ’n Cook sodat die vleis nie vassit nie. Ek bedek gewoonlik die rooster met ’n laag foelie en braai die patties eers tot hulle ferm is, en skuif hulle dan tot direk bo-oor die kole.

























Kommentaar