Hoender-en-ryspotjie
Hierdie is voorwaar ’n staatmakerresep. Dit is ’n alles-in-een gereg wat jy in ’n driepoot- of platboompot kan maak.
Jy benodig (genoeg vir 6-8)
• 1,5kg hoenderporsies (verkieslik sonder vel – ek gebruik graag ontbeende dyfilette)
• 2-3 teelepels olyfolie
• 125 g swoerdlose spek, gekap
• 1 groot ui, gekap
• 1 groot rooi soetrissie, in blokkies gesny
• 3-4 selderystingels, fyngekap
• 1 pakkie sampioene, in skyfies gesny
• 1 koppie rou rys
• 300 ml hoenderaftreksel
• 150 ml droë witwyn
• 1 eetlepel tamatiepuree
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 koppie bevrore of geblikte ertjies
Só maak jy
1 Geur en braai. Sprinkel sout en swartpeper oor die hoenderporsies en braai hulle in verhitte
olyfolie in die driepoot- of platboompot oor warm kole tot goudbruin aan al twee kante. Skep dit uit en hou eenkant.
2 Braai die vetjies uit. Braai die spek in dieselfde pot totdat al die vet uitgebraai is en die spek
begin bros raak. skep dit uit en hou dit by die hoender.
3 Nou die groente se beurt. Braai die uie, soetrissie, seldery en sampioene vir ’n paar minute
tot sag en glansend. Voeg die rou rys by en roer dit totdat die bestanddele oraloor bedek is.
Voeg die hoender en spek by.
4 Maak nat. Voeg die hoenderaftreksel, droë witwyn en tamatiepuree by en geur dit na smaak
met sout en swartpeper. Verhit dit oor die kole totdat dit stadig prut en sit dan die deksel op. Laat die pot vir 50-60 minute prut en roer dit af en toe deur. Roer die ertjies in die laaste 15 minute by. Die potjie is reg sodra die rys al die vloeistof geabsorbeer het en die hoender en rys gaar is. Sit dit net so voor of saam met ’n groenslaai.
Weg sê: Moenie haastig wees met hierdie potjie nie. Net soos ander potjies is dit beter as dit
oor stadige kole gaar word. Moet dit ook nie te droog laat word nie. Jy kan nog vloeistof byvoeg as jy
sien al die vloeistof is geabsorbeer of as die rys nog nie gaar is nie.



















Kommentaar