Gevulde padkostoebroodjies
Dié gevulde brood bestaan uit ’n paar lae interessante bestanddele en is een van my gunstelinge.
Dit vra meer tyd as ’n kaas-en-tamatietoebroodjie, want jy moet dit die dag voor jou vertrek maak, maar dis die moeite werd.
Jy benodig (vir 8 grootmense – ideaal as julle saam met ander mense toer)
• 3 rooi- of geelsoetrissies
• 2 groot eiervrugte
• olyfolie
• 1 ovaalvormige Portugese brood
• ’n hand vol basilieblare
• sowat 200 g mozzarellakaas, in skyfies gesny
• basiliepesto
• salami of ham
Só maak jy
1 Soetrissies kry kleur. Sit die soetrissies heel op ’n bakplaat onder ’n warm roosterelement en rooster dit totdat die skilletjies swartgeskroei is. Draai die soetrissies van tyd tot tyd om totdat dit oraloor swart is. Laat dit afkoel en trek dan die swart skilletjies af. Sny dit oop en skraap die pitjies uit. Hou die soetrissierepe eenkant.
2 Hitte vir die eiervrug. Sny die eiervrugte in die lengte in skywe van sowat 5 mm dik, verf dit met olyfolie en pak dit langs mekaar op ’n bakplaat. Rooster dit tot goudbruin aan al twee kante.
3 Lig die hoed. Sny die boonste kwart van die brood af en haal dié “deksel” af. Hol die brood uit, maar los ’n stewige rand van sowat 1½ cm reg rondom. Vryf die brood dan liggies met olyfolie. (Die krummels kan jy in die oond droog en in ’n lugdigte houer bêre vir wanneer jy weer viskoekies maak.)
4 Lagie vir lagie. Pak die helfte van die eiervrugskywe in die uit-geholde brood, gevolg deur die helfte van die soetrissierepe. Pak nou ’n laag basilieblare, gevolg deur mozzarellakaas (gestip met basiliepesto) en pak dan ’n laag salami of ham bo-op. Herhaal die lae totdat al die bestanddele op is en die brood tot bo gevul is. Drup dan ’n klein bietjie olyfolie oor en sit die brooddeksel terug.
5 Bedek hom. Draai die brood stewig toe in foelie en sit dit op ’n bord. Sit nou ’n broodplank op die brood met ’n paar gewigte (soos blikkieskos) bo-op. Ja, jy het reg gelees; dis om die brood te kompakteer sodat dit die volgende dag maklik sny en ferm is. Sit nou die affêre in die yskas tot môreoggend wanneer jy die padkos pak. (Los maar die plank en die blikkies tuis.)
Weg sê: Moenie die brood in die koelboks pak nie; dit smaak lekkerder teen kamertemperatuur. Sny dit in skywe, soos ’n koek, en sit voor.



















Kommentaar