Kyk, deesdae is daar nie ’n tekort aan kitskossoorte nie, of jy nou die Visriviercanyon wil gaan stap of na die uithoeke van Zambië toer. Dis nie meer soos in die dae toe jy net Toppers, Smash, Pro-Vitas, Melrose-kaaswiggies en grondboontjies-en-rosyntjies saamgepiekel het nie.
Nee, vandag wissel die keuse van goedkoop kits-mieliepap tot eksotiese vriesdrooggeregte. Daar is sojaboontjies met verskillende vleisgeure, en semi-eksotiese goed soos salm, tuna, brijani en couscous.
Die meeste van die produkte wat ons hier proe, is ’n kombinasie van proteïene en stysel, met ’n skeppie groente. Sonder dat ons dit so beplan het, het ons al die produkte (behalwe die Babotjie van Cape Union Mart) by ’n gewone supermark soos Pick ’n Pay of Checkers gekry.
Kom proe saam!
Back Country Cuisine Babotjie
Die etiket sê: Babotjie? Bedoel hulle bobotie? Dan sien jy dié “popular African dish of beef mince, fruit chutney, raisins and egg served with rice” is in Nieu-Seeland gemaak. En dan tref die prys jou oog: R75 by Cape Union Mart (en R90 by Capestorm). Goeie hemel! Dis meer as wat die WP vir Sireli Naqelevuki, daardie Suidsee-vleuel, betaal het! Maar kom ons kyk of Richie McCaw se mense onse bobotie kan maak.
Die instruksies lyk maklik genoeg: Knip die bokant van die pakkie oop, gooi 440 ml kookwater by, roer goed, vou die bokant toe en laat staan dit vir 10 minute.
Ons sê: Die rys is ná 10 minute nog hard en die gereg so pap soos ’n bredie – dit voel nie soos bobotie nie. Ná sowat 18 minute is die rys sag, maar die geheel pap. Dit smaak glad nie soos die bobotie wat ons ken nie.
Ek weet nie hoe Back Country se ander kos smaak nie, maar ek sal twee keer dink voor ek nog R75 vir ’n soortgelyke vaal en klein porsie betaal. Die enigste voordeel is dat dit werklik lig is: net 175 g.
Prys: R75 Genoeg vir: Twee mense. Solank daar ’n pakkie Pro-Vita in die rugsak is...
Weg sê: Ek vermoed dié resep is ontwikkel deur Suzy, daai vrou wat 1995 se All Black-wêreldbekerspan vergiftig het...
Maak toe
Mayfair Pink Salmon Pieces With Brine
Die etiket sê: “Filleted, skinless & boneless salmon in easy to peel-open pouch. Ideal for outdoors.” Dié pakkie weeg net 85 g. Agterop is die vervaldatum: ’n volle twee jaar ná die vervaardiging.
Ons sê: Geen verrassing hier nie. Dit smaak nes geblikte salm. En salm op ’n staptog is dalk net die regte produk as jy die aandag wil trek van daai Sweedse uitruilstudent wat begin lank in die tand raak vir haar ProNutro.
Wat prys en gewig betref, gaan jy dié salm moeilik klop.
Prys: R11,50 Genoeg vir: Een mens (of twee smoorverliefdes)
Weg sê: Kikker dié vissie op met mayonnaise of tamatie-en-rissiesous. Die salm is dan nie droog nie. En as jy sukkel om die salm te vind; tuna is in soortgelyke pakkies beskikbaar.
Maak toe
Imana Super Soya Mince Lamb Breyani
Die etiket sê: “Super Mama is so many things... she’s kind, comforting, understanding and always there for you. Super Mama says: I love you.”
Ja-nee, dit klink vir my soos Super Mama in die eerste week ná haar bruilof – ons gesels maar later weer.
Dié brijani is glo “quick and easy”: Jy gooi net 500 ml water by, verhit die gereg tot kookpunt en laat dit dan vir 10 tot 15 minute prut.
Ons sê: Dié een skop soos ’n rodeohings. En kyk net die prys!
Prys: R4,95
Genoeg vir: Drie porsies, sê die pakkie. Hoogstens drie Backstreet Boys...
Weg sê: ’n Treffer wat jy saam met rys, couscous, aartappel of selfs brood kan geniet, maar wees snoep wanneer jy deel.
Maak toe
Maize In A Minute
Die etiket sê: “Instant maize meal enriched with vitamins and minerals. Cooks in 1 minute.” Die aanwysings kry volpunte, want jy kan kies tussen krummel-pap en slappap deur bloot die hoeveelheid water te verander. Ja, korrek, meer vir krummel, minder vir slap. Die pakkie weeg boonop net 80 g en pas in jou handpalm.
Ons sê: Met die maakslag kom ek agter die 80 ml water vir “growwe” pap is ’n bietjie min
en gooi toe 120 ml by. Toe’s dit omtrent reg. Met ’n bietjie Aromat smaak dit boonop heel lekker.
Prys: R11,50 vir ’n string van vier pakkies (sowat R2,87 per pakkie).
Genoeg vir: One man, one pap.
Weg sê: Perfek by ons gunsteling, die Knorrox-sojavleis.
Maak toe
Smash Instant Mash Potato
Die etiket sê: Gooi net 250 ml kookwater by die sakkie se inhoud en roer. Volgens die fynskrif is die raklewe 9 maande. Teen 52 g is dit die ligste pakkie stysel wat jy op ’n staptog saam met jou kan vat.
Ons sê: Smash is so deel van stap soos steroïedes in ’n Bulgaarse ge-wigopteller se graanvlokkies. Smash gaan nie gou op ’n restaurantspyskaart beland nie, maar dis baie maklik om dit aan mekaar te slaan. Met ’n klontjie botter en ’n bietjie witpeper hoef jy darem nie té honger te wees om dit te kan inwurg nie. En die prys is ook billik.
Prys: R6
Genoeg vir: Een mens. Twee keffers.
Weg sê: Die Citi Golf van stapstysels – betroubaar en altyd daar vir jou.
Maak toe
Knorrox Oxtail Tomato & Onion Soya Mince
Die etiket sê: Agterop die pakkie is ’n foto van ’n knaap wat nogal baie soos ’n jong Julius Malema lyk (dalk effens meer gemoedelik). Terwyl hy sy spiere bol, verklaar hy: “Growing up big and strong, Mum.” Voor op die pakkie spog Knorrox weer met “more meaty taste” – ’n stelling wat ’n mens effens laat wonder.
Ons sê: Dalk was die ouens wat die verpakking ontwerp het, saam met Julius op skool, want nêrens is daar aanwysings oor hoe om die Knorrox gaar te maak nie. Daar is wel ’n lang resep vir “Sugar Bean Curry”, waarvoor jy allerhande ekstra bestanddele moet hê.
Ons volg toe maar Imana se brijani-instruksies hierbo, aangesien al twee pakkies 100 g weeg en soja bevat. Die resultaat is iets besonders. Die geur van tamatie is heerlik en die soja smaak werklik vleiserig. Lekker!
Prys: R4,60
Genoeg vir: Drie tienermeisies, twee kêrels en een Os du Randt.
Weg sê: Dié een is loshande die wenner as jy prys, smaak en droë gewig in ag neem. Knorrox, jou knewel!
Maak toe
Veetee Vegetable Biryani
Die etiket sê: “Born out of a pioneering spirit and passion for contemporary flavours.” En dan: “A mouthwatering combination of deliciously chunky vegetables and rice.” Sak, Sarel!
Die instruksies is eenvoudig: Kook water in ’n pot, sit die geseëlde sakkie in vir “tussen 3 en 5 minute” (wat is fout met 4 minute?), haal uit, sny oop en eet.
Ons sê: Ons het die sakkie uiteindelik vir 8 minute in die kookwater gelos, maar dit was steeds nie deurwarm nie. (Miskien moes die pot strykdeur aanhou kook het, maar die instruksies was vaag.)
Nietemin was die brijani verbasend lekker – ’n goeie alternatief vir vegetariërs.
Prys: R20
Genoeg vir: Saam met vleis, twee mense. Op sy eie, een mens.
Weg sê: ’n Mens moet jou groente inkry. Elke dag.
Maak toe
Heinz 2 Minute Noodles
Die etiket sê: Te oordeel na die fynskrif bevat dié noedels genoeg kunsmatige geursel (goed soos “E621”, “E627”, “E631”) en ander chemikalieë om ’n mummie te preserveer. Jy sit die inhoud in
’n bakkie, gooi 300 ml kookwater by, laat dit 2 minute prut en eet “met of sonder sous”. Teen 75 g is dié pakkie ook besonder lig.
Ons sê: Nog elke keer dat ek dié goed geëet het, was ek teleurgesteld, en dié slag – die hoendergeur – was geen uitsondering nie. Die pasta is rubberagtig en die geursel so waterig soos daai Viëtnamese sop waaroor mense met Crocs, bont T-hemde en neusringe deesdae so gaande is.
Maar dié noedels is goedkoop en sal jou aan die lewe kan hou.
Prys: R3,50
Genoeg vir: Een depressiewe ou.
Weg sê: Vat eerder jou eie pasta saam, met ’n bietjie Ina Paarman-pesto.
Maak toe
Bacchini Couscous-sakkies
Die etiket sê: Jy gooi een van die sakkies met couscous in een liter kookwater en haal dit ná ’n minuut en ’n half uit. Laat die sakkie dreineer en sny dit dan oop. Vlok en eet. Wat is nou makliker?
Ons sê: Ek het betreklik laat in my lewe met couscous te doen gekry, maar dink vandag dis van die lekkerste stysel wat ’n mens kry. Dis amper soos ’n kruising tussen pasta, rys en pap... probeer hom maar self.
Saam met sojavleis is dit koningskos vir die reisiger. En om dit te maak is régtig so maklik as wat die instruksies te kenne wil gee.
Prys: R35 vir vyf sakkies (R7 per sakkie).
Genoeg vir: Een honger ou of twee skaam kêrels.
Weg sê: Voorwaar waardige reiskos. Couscous wen uiteindelik alle ander styselsoorte met ’n uitklophou.
Maak toe
Frisco-Sjokoladegeur Koffie
Die etiket sê: Niks. Dis ’n sakkie koffie met poeiermelk en sjokoladegeursel.
Ons sê: Frisco is vir ’n koffiefynproewer soos ’n Chinese afleweringsvoertuig vir ’n 4x4-liefhebber. Maar Frisco het nou ’n nuwe logo en probeer so hard soos Carl Niehaus om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Die groot pluspunt van hierdie sakkie? Ná ’n moeilike dag op die pad is dit werklik verspot-maklik om ’n koppie koffie in die hand te kry. Jy hoef nie eens die bestanddele af te meet nie.
Prys: R21 vir 8 sakkies (of R2,62 per koppie).
Genoeg vir: Een sakkie, een koppie.
Weg sê: Glad nie sleg vir ’n poeierpoging nie. Koffiepuriste gaan dalk nie hou van die effens ongewone smaak nie (jy kan geure soos toffie kies).
Kommentaar