Gerooktemosselsop
Al die hoofbestanddele van dié sop kom uit ’n blik. Danksy boksmelk en -room kan jy dié luukse seekossop selfs in die Richtersveld aanmekaarslaan.
Jy benodig (genoeg vir 6)
• 1 blik gekonsentreerde hoendersop (350g)
• 2 blikke gerookte mossels (105g), gedreineer en fyngedruk
• 1 tamatie, gekap
• 1½ koppie melk
• 1½ koppie water
• 1 koppie room
• ½ teelepel droë, gemengde kruie
• 4 eetlepels koekmeel
• 2 eetlepels sjerrie (opsioneel)
• ’n knippie suiker
• sout en peper na smaak
Só maak jy
1. Pot toe. Bring die hoendersop, fyngedrukte mossels, tamatie, melk en water tot kookpunt. Haal dit van die plaat af.
2. Ryk en romerig. Meng die kruie, meel en room. Gooi dit by die sopmengsel en roer dit oor lae hitte totdat dit warm is, maar nie kook nie. Haal dit van die plaat af en gooi die sjerrie en suiker by.
Gelewer op 14 September 2011 | 17:34:03
Hierdie lyk sommaar na 'n wenresep!! Dankie dit sal die naweek op die spyskaart wees - met die knoffel en witwyn. Ek hou nie van die suiler idee nie, maar sal probeer.
Gelewer op 26 Julie 2011 | 09:54:03
Hierdie is 'n baie lekker sop, en dis baie vinnig om te maak! My familie het hulle vingers af geeet!
Gelewer op 22 Julie 2010 | 16:52:42
As jy 'n knoffel-mens is dan braai jy eers knoffel met die mossels se olie in die pot. En as jy baie witwyn het dan vervang jy die water met wyn.



















Kommentaar