Kalender - Gebeure dié maand

Previous Next

Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Watergate


My Groot Vyf: Watergate 

1. De Akker (Stellenbosch)
In hierdie 18de-eeuse herehuis kan jy terugsit met ’n bier en enige van die volgende teëkom: ’n Krokodiljagter uit die jare dertig, ’n filosofiese motorwerktuigkundige en vryskut-glasblaser, ’n vuisgeveg of jou toekomstige lewensmaat. En laat waai jou hare op die boonste vloer in die Hidden Cellar, waar die bands kook tot láát. Soos ’n vriendin van my altyd sê: “In De Akker het ek myself verloor en gevind.”
Waar? 90 Dorpstraat, Stellenbosch
Kontak: 021 883 3512

2. Joe’s Beerhouse (Windhoek)
Windhoekers kan met reg trots wees op Joe’s Beerhouse, wat vir tot 600 gaste voorsiening maak. Dit is die aangewese Windhoek-watergat en lekkerbek-restaurant vir Namibiërs én toeriste. Ek het onlangs weggelê aan die gedugte Namib Bushfire-wildsvleisgereg: volstruis, springbok en gemsbok met bykosse en ’n komplimentêre skeutjie witblits. Die binnenshuise versiering vol antieke aandenkings en jagtrofeë kan jou ook ure lank besig hou.
Waar? 160 Nelson Mandela Avenue, Windhoek
Kontak: (00) 264 61 232 457
Webwerf: www.joesbeerhouse.com

3. Strandveld Pub & Grill (Baardskeerdersbos)
Die skool op dié Overbergse dorpie het in 1988 sy deure ná 70 jaar gesluit. Deesdae is die skoolgebou die gewilde Strandveld Pub & Grill wat deur Barney en Dorettha Otto bestuur word. Hier kry jy Overbergse gasvryheid op sy beste. Die boere bêre selfs hulle “kuiergeld” in gemerkte banksakkies agter die toonbank. Op die houtvloer binne die kroeg is ’n propperse donut danksy een of ander wildewragtig op sy motorfiets. ’n Plek met karakter (en karakters!).
Waar? Draai in by die dorpie en volg aanwysings.
Kontak: 028 3819177 of 082 732 3718 (Barney)
Webwerf: www.baardskeerdersbosch.co.za

4. Vasco da Gama Pub (Groenpunt)
Daar is verskeie watergate met Portugese disse in Kaapstad, maar slegs een dra die mantel van “Die Portugese Ambassade”. In hierdie lieflike ouskool-kuierplek hou die eienaar, met sy ge-Brylcreem-de hare, ’n wakende ogie oor die ywerige kelnerinne wat al jare lank hier werk. Die gedugte spyskaart is verleidelik en die hoenderlewers met hulle geheimsinnige peri-peri-sous is ’n moet. Die aangewese plek vir middagetes en daardie laaste tien boulbeurte op die kassie.
Waar? Alfredstraat 3 in Groenpunt.
Kontak: 021 425 2157

5. The Bohemian (Johannesburg)
The Bohemian, of sommer The Bo, is een van die Goudstad se mees legendariese kuierplekke. Hier hang altyd ’n paar verloopte siele met onvergeetlike staaltjies by die kroegtoonbank rond. Die pool is gemoedelik dog mededingend, die jukebox het ’n skitterende aanbod en van Johannesburg se voorste ondergrondse musiekhelde soos Battery 9 en Nul tree gereeld hier op.
Die Bo is nie geleë vir ’n vinnige bier ná werk nie. Dit is ’n vashaak-arena tot hanekraai.
Waar? Parkweg 5 in Richmond.
Kontak: 011 482 1725
Webwerf: www.thebo.co.za 


Terug kos toe | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Soek - Watertandrespete

Kooktoerusting

So reg uit die buitenste ruim.

Lees meer


Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek