Renault Koleos


Iemand wat sy oog op ’n opregte Afgaanse windhond het, sal nie sommer ’n DBV-basterbrak aanneem nie. Maar opreggeteelde skepsels gee soms probleme: Duitse herdershonde sukkel met die heupe, worshonde kry rugprobleme en prins Charles doen nie ná-ure konsultasiewerk vir Nasa nie.
    Basterbrakke is dikwels taaier, gesonder, slimmer én interessanter. Vat maar die boerador, ’n kruising tussen ’n labrador en boerboel. Hy’s intelligent en kalm soos ’n labrador, maar kan ook tande wys.
    Die Koleos is ook so ’n geval. Hy dra die Renault-kenteken, maar iewers is Nissan ook betrokke. Die Franse maatskappy besit amper die helfte van die aandele in Nissan, wat Renault toegang gee tot die Japannese se 4x4-kundigheid.


Een van die beste toermotors vir vier passasiers wat ons nóg bestuur het. Die Koleos, met sy X-Trail-onderstel en -4x4-stelsel, is beslis ’n langpadvreter.
    Renault het reggekry wat min motorvervaardigers kon: Balans tussen ’n sagte rit en stewige pad-houvermoë. Ek het laas so lekker gekry toe die Proteas vir Ricky Ponting-hulle in Australië ’n pak slae gegee het.


Heerlik. Sit hom op daardie reguit stuk gruis van 300 km tussen Ceres en Loxton… hy sweef as ’t ware. Elke nou en dan tref jy ’n grinterige driffie of ’n kol sinkplaat, en dis dan wanneer die kar jou met sy vasvoetigheid beïndruk.
    Die Koleos trek gewoonlik met die voorwiele, maar as dié dalk gly, stuur die 4x4-stelsel krag na die agterwiele om te keer dat die kar se boude swaai.
    Hy’t boonop stabiliteitsbeheer; ’n rekenaarstelsel wat effens rem aanslaan op die regte wiele as jy die kluts kwytraak. (Renault sê die 4x4-stelsel is só goed dat die stabiliteitsbeheer skaars nodig is.)


Die Koleos se vierwielaandrywing is eerder bedoel om jou veilig te hou op ’n nat grondpad as om Duin 7 te gaan klim.
    Al het hy nie die hardebaard-4x4-kenmerke soos ’n ewenaarslot of ’n laestrekratkas nie, het hy in die Transkei teen ’n paar steiltes uitgeklim wat jy nie sommer in jou plakkies sou baasraak nie.


Kom ons begin heel agter: die bagasiebak het twee luike, een wat boontoe oopmaak en een ondertoe, om ’n lekker sitplek te vorm van waar jy die o.12B-wedstryd kan dophou.
    Weerskante in die bagasiebakis ’n hefboom wat die agterbank se sitvlakgedeelte vorentoe skuif
en die rugleuning platvou. Nou het jy genoeg lêplek vir ’n beseerde o.12B-flank. Of jy kan net een deel van die agterbank platslaan (in ’n 60-40-verhouding) as jy wil plek maak vir jou fiets.
Die knieruimte agter is egter effens knap, en die in- en uitklim nie seepglad nie, omdat die wielnisse nogal ver in die deuropening insny.
    Die sitplekke – voor en agter – is besonder gemaklik, die outo-matiese lugreëling kinderspeletjies om te gebruik en jy kan die radio en snelheidsbeheer sommer op die stuurwiel verstel.
Die duurder model (die outomatiese 2.5 Dynamique Premium) het leerbekleedsel en ’n Boseklankstelsel met sewe luidsprekers.


Renault vaar puik in botstoetse (www.euroncap.com) en het ’n reputasie as “die gewone ou se Volvo”.
Ons toetsmodel was toegerus met twee lugsakke voor, gordyn-lugsakke langs die kant (voor en agter) en sitplekgordels wat styftrek in ’n botsing.
    Hy’t ook Isofix-ankerpunte vir kinderstoeltjies.
    In ’n ongeluk sny die Koleos sy eie brandstoftoevoer af en skakel die noodligte aan.


Goeie nuus: Dieselfde enjin as die Nissan X-Trail – betroubaar, brandstofdoeltreffend en kragtig (126 kW krag en 226 Nm wringkrag).
    Op ’n rit van Kaapstad na die Wildekus was die verbruik nooit meer as 10 liter per 100 km nie, omtrent 20% meer as wat ’n groterige sedan sou gebruik, skaflik vir ’n wa wat met die voor- en agterwiele aandryf.
    Dié model is die enigste in die reeks met ’n palwisselratkas, ’n outomatiese stelsel wat sonder ’n hik ratte verwissel en ligter op brandstof is.


Die rolblindings by die agtervensters. Rol dit uit en haak dit bo vas om die bloedjies teen die son te beskerm.


Dis moeilik om fout te vind. Uit sommige hoeke lyk die Koleas effe koddig. Meer beenruimte agter sou gaaf wees.
    Deesdae se Franse motors het nie juis ’n reputasie vir betroubaarheid nie, maar met Nissan wat vir die Koleos se meganiese kant verantwoordelik is, behoort niks met die Koleos te skort nie.
    Die haakplek lê dalk buite die kar: Renault Suid-Afrika se klantediens was die afgelope jare nie waffers nie, maar dit lyk asof hulle darem nou wakker geskrik het en dinge begin regruk.


Die Koleos het ’n waarborg van 3 jaar/100 000 km en ’n onderhoudsplan van 5 jaar/60 000 km, mét ’n padbystanddiens.


Deur 'n vrou ontwerp? Die paneelbord is logies uitgelê, die lugreëling maklik om te gebruik en die radio- en snelheidsbeheer kan jy sommer op die stuurwiel verstel.

Maklik plat. Die Koleos se agterbanke kan jy verspotmaklik verstel met dié hefbome. Jy kan ook net ’n gedeelte platslaan as iemand langs die houtkameelperd moet sit.

Weg sê: Danksy Nissan se gene kan die Koleos dalk die spook verdryf van die Scenic RX4, Renault se eerste poging tot ’n 4x4. Die Koleos is beslis ’n perd van ’n kleur.

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 24 November 2009 | 20:17:25

Ek het ook van Renault gehou. My eerste was n 1.4 Clio n lieflike motortjie.Dit ingeruil vir n Modus net so lekker gery daarmee, ongelukkig was dit nie gemaak vir die bosse nie en my beterhelfte het dit bewys en die Modus afgeskryf. Koop toe die 2L Megane turbo Sport..sjoe is al wat ek kan se..of dalk ..dit gee my nou nog n lekker hoedervleis as ek aan die Megane dink. Ek bly mos in die sandveld en besluit toe die 2 L turbo Diesel is net die ding vir n ou wat 100 meter van die teerpad afbly..Spyt Spyt Spyt ek moes nooit my Megane verkoop het nie. Die Slim Baster brak se hy wil gediens word..10000km en daar gaan die beterhelfte met die Baster na die handelaar toe vir die diens en n voorruit vervanging want met my agter die stuur kan geen klip n vooruit uitlos nie.Die 3 weke se wag vir die ruit was niks erenstig nie want dit moet mos darem ingevoer word. Vroulief bel my in die buiteland waar ek werk en se die Hond moet eers op 15000 km gediens word toe sy die Baster gaan haal.Ek is heel in my noppies en vra haar of die diens liggie af gesit is...Dit is waar die getjank toe begin..Ek bel die handelaar.."moenie bekommerd wees nie ek bel sommer jou vrou en se haar wat sy moet doen en ons is jammer ons het dit vergeet" Die hond se baas is weer in sy noppies oor die goeie diens. So 2 weke gaan verby en geen oproep. Die Brak se baas bel weer uit die buiteland en praat met die hoof honde afrigter daar." nee die liggie kan nie afgesit word nie want die eerste 300 baster brakke wat ingevoer is, is geprogrameer vir 10000 km maar moet eintlik 150000 km gediens word,"ek moet Renault in JHB bel en by hulle kla.Ook word daar vir my gese" ja maar renault het briewe aan die eienaars van die eerste 300 Baster gestuur en vir hulle gese ons sal maar moet aanvaar ons gaan vir 5000 km met n rooi liggie wat die heeltyd n frons op jou gesig sit ry. Redelik kalm bel ek toe maar na die groot stad toe en praat daar met n ene Gilbert.en hy is nogal vriendelik met my maar ek hoor weer die brief storie en dink toe by myself die laaste brief wat ek gekry het was n afse brief in std 6 en ek raak toe net so hartseer oor my Baster nie sy liggie kan afgesit kry nie.Toe raak ek bietjie kwater en begin dreig.Weer is ek in my noppies toe daar vir my gese word moenie worry nie meneer ek bel jou dealer en sort alles uit.Die oproep gebeur toe nie en my handelaar se weer hulle kan niks doen nie.Weer ek en Gilbert "meneer ons het besluit ons gaan jou kar reg maak ek sal alles reel".En so staan die hond op die plaas met sy rooi spannertjie wat nie afgesit word nie. .Ek dreig toe maar nie verder nie.Bel toe maar n vriend in die motor bedryf en se ek wil die Baster inruil op iets waar ek goeie diens kan kry as ek dit nodig het en hy beveel n Duitseherders hond aan en die staan nou in die waenhuis. Nou hier kom die skok .Die basterhond moes toe Gauteng toe **** en voor die 15000 km verskyn bokant die rooi spannertjie toe gee die hond die gees.En my vriend se my die hond se hele binnegoed is nou stukkend. Sorry nooit weer n Frans,Japenees,Koreaanse Hond vir my nie..Sal maar by die opregte Duitseherders honde bly van nou af. Ons oupas het mos ook darem n Duitseherdershond in die waenhuis gehad as dit gereen het innie sandveld en die skape het mooi gelam.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Stads-GPS. Helder, breë skerm

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek