Suzuki Jimny 1.3 liter


Die gesegde lui mos dat dinamiet in klein pakkies kom. Jaco Kirsten het bevind dat die kleine Jimny beslis sy man kan staan.

As jy ooit eendag lus is vir ’n kroeggeveg, gaan soek ’n watergat waar ’n Jimny of twee geparkeer staan. Stap net deur die swaaideure en sê dan kliphard: “Jislaaik, maar hierdie Jimny is darem ’n oulike speelding!”
    Jy sal waarskynlik gepot word, want dié klein 4x4 is ’n régte veldryer, al lyk dit of jy met een onder jou arm by die handelaar kan uitstap. Die Jimny kom uit ’n stamboom van 4x4’tjies met ’n puik reputasie. Dis die derde klein – goed, piepklein – vierwielaangedrewe Suzuki wat in Suid-Afrika te kry is.
    Ek het self jare gelede ’n SJ410 besit en dink nou nog met heimwee terug aan daardie dae. Die SJ410 is later opgevolg deur die groter en luukser Samurai en die Jimny is ’n paar maande gelede in Suid-Afrika bekend gestel – al is hy reeds van 2005 af oorsee beskikbaar.


Die Jimny is 1,6 m breed en net meer as 3,6 m lank – parkering gaan jou dus nie hoofbrekens besorg nie en jy gaan oorgenoeg in- en uitklim-ruimte aan weerskante van jou hê, al het die dokter se vrou die dubbelkajuit gedeeltelik op jou staanplek geparkeer.


Dis klein ja, maar dis nie asof dit deur Harry Houdini ontwerp is nie, want tensy jou pêl se naam Andries Bekker is, sal twee grootmense lag-lag die langpad met ’n Jimny kan aandurf.
Die twee agtersitplekke is groot genoeg vir twee opgeskote flanke, maar dit sal wreed wees om hulle vir verder as 150 km só te laat sit.
    Beskou die Jimny eerder as ’n tweesitplekryding met heelwat pakplek (as jy die twee agtersit-plekke vorentoe geslaan het, skep dit nogal ’n groot vragruim) of viersitplek-stadsvoertuig.
Die binneruim is funksioneel eerder as luuks en het twee lugsakke voor. Die stuurwiel kan nie verstel nie en die sitplekke se ver-stelling is beperk, maar jy behoort darem uiteindelik jou sit te kan kry. In vergelyking met ’n bakkie van tien jaar gelede is die binneruim heel luuks.


As ek reg onthou, het my SJ410 ’n enjin van 800 cc gehad. Jinne, my motorfiets het ’n groter enjin.
G’n wonder dat hy bo 85 km/h maar gehyg het nie.
    Maar die Jimny boks in ’n ander gewigsklas. Sy 1,3 liter-viersilinder-petrolenjin het wisselende kleptydreëling. Dit beteken dat die enjin goed trek teen lae toere, maar wanneer jy die lepel trap, verander die klepreëling vanself dat hy áánhou goed trek. Dit stel klein enjins in staat om ’n beter kombinasie van wringkrag en piekkrag te hê.
    Moet jou ook nie bekommer dat jou Jimny se krag (63 kW) skaars meer as jou grassnyer s’n
is nie, want onthou, hy weeg skaars meer as ’n ton. Per kilogram massa het hy dus heelwat meer krag as byvoorbeeld ’n Ford Ranger 2.5- turbodiesel wat 80 kW ontwikkel en amper twee ton weeg.


Op die teerpad is die 1,3 liter-enjin mans genoeg vir ’n topsnelheid van 140 km/h. Teen 120 km/h (’n aangeduide 125 km/h) draai die enjin teen sowat 4 200 r.p.m., nog ver van die rooi lyn (6 500 r.p.m.) af. Ek het die indruk gekry dat jy maklik Windhoek toe met hom sal kan ry.
    Ongelukkig gaan jy nie almal voor jou kan verbysteek nie, maar jy behoort darem ook nie sommer ’n spoedkaartjie te kry nie, behalwe waar die munisipaliteite jou in die 60 km/h-sones in ’n hinderlaag lei.
    Hy hanteer lekker rats in die stad, maar teen snelhede bo 100 km/h moet jy wakker sit, veral as die wind waai. Sy kort asafstand (2,25  m) beteken dat hy nie gemaak is vir vinnig ry nie. As jy teen 120 km/h konsentreer op wat jy doen, is alles in orde, maar hou eerder op vroetel met die CD’s.
Op grondpaaie is dit nóg belangriker om versigtig te bestuur, anders kan jy op jou dak beland.


Die keersy van die kort asafstand is dat sy veldryvermoë uitstekend is.
    Sy kort oorhange voor en agter, asook sy kort lyfie en klein draaisirkel maak dit moontlik om deur hindernisse te wurm en bo-oor hulle te klouter. En glo my, hy’t danksy sy lae gewig oorgenoeg woema om klippe, steil opdraandes en dik sand kaf te draf.
    Sy grondvryhoogte van 190 mm is dalk ’n bietjie laag, maar danksy sy kort asafstand is dit nie juis
’n probleem nie. Die standaard-bande is teerpadgeoriënteer en met veldrybande sal ek kans sien vir haas enige kommersiële 4x4-roete in Suid-Afrika, al het die Jimny nie ’n ewenaarslot nie.
    Een van die redes waarom die Jimny so goed vaar in die veld, is sy leerraam-onderstel en vaste
aste met kronkelvere voor én agter. Met ander woorde, nes met die Hilux’e voor 1999, gaan jy min in situasies beland waar een wiel in die lug hang en ’n ewenaarslot nodig is.
    Wanneer jy van 4x2 na 4x4-hoë- of -laestrek wil oorskakel, sit jy jou Jimny in neutraal en druk ’n knop – geen meer uitklim en nawe sluit nie.


Die Jimny is, ten spyte van sy “oulike” voorkoms, ’n regte 4x4.
Ja, hy’s klein, maar Suzuki het jare gelede al bewys dat daar ’n beduidende mark is vir mense wat ’n kompakte, eenvoudige en taamlik bekostigbare 4x4 soek.
    Die goeie verkope van die Jimny in die huidige mark bewys dit. Boonop sluit die pakket ’n driejaar-AA-padbystandplan in en die Jimny is reeds toegerus met ’n Netstar-opsporingstoestel – jy moet net die kontrak voltooi as jy wil.
    Onthou, dié buksie het darem ’n CD-speler en lugreëling. Toe die Jimny in September 2008 bekend gestel is, was hy R30 000 goedkoper as nou. ’n Mens hoop sy prys styg nie verder nie.


4x4-luuks: Die binneruim is... wel, funksioneel. Die stuurwiel kan byvoorbeeld nie verstel word nie, maar jy behoort darem jou sit te kry.

Mans genoeg. Op die ooppad kan die Jimny 140 km/h haal... kom ons skiet gou deur Windhoek toe vir vakansie!

Pakkaas. ’n Mens kan die twee agtersitplekke afslaan as jy die maandelikse inkopies doen of die langpad vat...


Enjin

1328 cc, petrol, ingelidviersilinder

Krag
63 kW teen 6 000 r.p.m.

Wringkrag
110 Nm teen 4 400 r.p.m.

Ratkas
Vyfgang-handrat, hoë- en laestrek, deeltydse vierwielaandrywing

Grondvryhoogte
190 mm

Brandstoftenk
40 liter

Brandstofverbruik
7,2 ℓ/100 km (gekombineerde ooppad-en-stadsiklus)

Waarborg
Driejaar/100 000 km-waarborg; vierjaar/60 000 km-diensplan

Diensintervalle
Elke 15 000 km

Prys

R179 900

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 21 Februarie 2010 | 18:37:31

Sal hierdie motor 'n 1,8m sleepwa met normale vrag kan sleep ?

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Stads-GPS. Helder, breë skerm

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek