Toyota Verso


Toyota het nog nie met oorgawe die gesinsbussie-mark betree nie. Maar dit lyk asof die nuwe Verso die pap dik aanmaak. Ons het hom vir ’n draai gevat.

Toyota is heel dikwels ’n tree of twee agter die jongste Europese tendense wanneer dit kom by die fyner aspekte van motorontwerp – veral binne.
    Dit het Toyota byvoorbeeld jare gevat voordat hy dit uiteindelik oor sy hart kon kry om ’n bekerhouertjie in die kajuit te sit. Dieselfde met snoetbusse.
    ’n Paar vervaardigers het al meer as tien jaar gelede begin om ’n sesde of sewende sitplek in hulle snoetbusse te sit, met Toyota wat dinge van die kant af dophou. Die Mazda 5 en Opel Zafira was al ou nuus teen die tyd dat Toyota in 2004 sy toon in die water gesteek het met die Corolla Verso.
    Maar as Toyota eers agter die kap van die byl is, kan jy ’n ou Hilux verwed dat die opposisie gaan knor. Vra maar vir Chrysler – die eerste Land Cruiser in 1951 was ’n namaaksel van die Jeep.
    Toyota het sy vorige model Verso nie juis aggressief bemark nie, amper asof dit ’n eksperiment was. Maar die mense het van dié snoetbussie gehou. (Probeer gerus ’n tweedehandse 1,6 liter-model uit 2005 vir onder R120 000 opspoor...)
    En nou is die nuwe Verso hier, die voertuig waarmee Toyota die snoetbusmark syne wil maak...


Die oue het so ’n tikkie broodblik in hom gehad. Die nuwe een se neus is skerper, die voorruit platter, die wielontwerp mooier.
Hy lyk elegant en, durf ons dit sê… effens sportief.


Dis min of meer dieselfde as die vorige model, met ’n bietjie meer plek (hy is 7 cm langer as die vorige Verso).


Die twee wegvousitplekkies in die bagasiebak is vir kindertjies, maar moenie jou neus daarvoor optrek nie.
Ek het vir die eerste keer ervaar hoeveel vrede jy in ’n kar kan hê as ’n boetie en sussie nie langs mekaar hoef te sit nie. My vierjarige seun het twee uur lank in sy nessie op die agtersitplekke vir homself sit en stories vertel.
Die vyf ander sitplekke is groot en gerieflik, en die tweede ry sitplekke het ook meer as genoeg beenruimte.


As jy die tweede ry sitplekke regop hou, het jy lag-lag genoeg laaiplek vir ’n gesin van vier se bagasie en kos vir ’n langnaweek.
As jy alles agter platslaan, kan jy ’n jong kameelperd en ’n stel tromme inlaai, maar met al drie rye sitplekke in posisie…haak die Ventertjie, Martha!


Die Verso het nou ook al die binneruimslimmighede waarmee Renault ’n paar jaar gelede vorendag gekom het: ’n nuttige passasierspieëltjie bo die truspieël waarin die bestuurder ’n ogie kan hou oor die spruite, die agterruite se ingeboude sonskerms wat uit die deur optrek, en pakplek onder die voorsitplekke en bêrekompartemente onder die agterste passasiers se voete.


Die Britse motorjoernalis Jeremy Clarkson beskryf selfs die nuwe Verso as vervelig en sonder woema –maar Jeremy het waarskynlik verlede week met ’n Lamborghini huis toe gery en kan nie wag vir die nuwe Range Rover Sport wat oormôre afgelewer word nie.
Die 1,8 liter-petrolmodel het genoeg poeier (108 kW; 180 Nm) wat die Verso op ’n stewige galop hou en ’n lorrie met gemak teen ’n bult sal verbysteek. Maar dis die 2,0 liter-dieselenjin (93 kW; 310 Nm) wat my nogal opgewonde het.
Met die wegtrekslag het hy woema, en hier in die middelste ratte sal hy selfs ’n paar minibustaxi’s in die stof laat byt.


Ek het hom nie self bestuur nie, maar joernaliste wat het, sê die woema-probleem is opgelos. Volgens Toyota het hy 20% meer krag (97 kW) en 6% meer wringkrag (160 Nm) as die vorige model.


Selfs stabieler as die Renault Scenic, wat bekend is vir sy goeie padhouvermoë. Al gee jy die Verso ’n bietjie gas, seil hy op ’n hobbelrige Weskuspad deur enige slap draai.
Toyota het die vering verbeter, die wiele effens verder uitmekaar geplaas en effens vetter tekkies (205/60 R16) aangesit.


Die duurder modelle het ’n kaboedel elektroniese veiligheidstelsels: sluitweerremme, elektroniese remkragverspreiding, remhulp, wringstuurhulp, kloubeheer, hellingwegtrekhulp, stabiliteitsbeheer…  
Al die modelle het sewe lugsakke (bestuurder-, passasier-, knie-, kant- en gordynlugsak). Die Verso is ontwerp om vyf sterre te kry in daai botstoetse waar hulle met nuwe karre in betonblokke vasjaag terwyl ’n Duitse omie in ’n wit oorjas met ’n knypbord dinge dophou (die Verso se toetse is nog nie afgehandel nie).


Toyota sê die 1,6 liter-Verso behoort 6,8 liter per 100 km te gebruik, maar dis waarskynlik net as jy soos my tannie Mollie ry op pad na die Koekversierdersgilde se jaarvergadering. 
     Ek skat jy sal met ’n gelaaide kar eerder 7,5 liter per 100 km kry – oor die 800 km op ’n tenk van 60 liter.

 


Hier kom die cliché: Die Verso is betroubaar en goedkoop om te onderhou, want dit is ’n Toyota. Maar dis die klein goedjies wat die Japannese in Frankryk gaan afkyk het wat die Verso ’n lekker gesinstoermotor maak… die kinderspieëltjie, ingeboude sonskerms en versteekte pakplekkies. Dis soos ’n Renault met ’n Toyota-enjin en -diens.


Ek is dalk effe bevooroordeeld, maar die Verso word in Turkye gemonteer, ’n land wat beter bekend is vir die vervaardiging van roosgegeurde lekkers as motors. Die lasplekke in die Verso se “kosyne” is prominent, hier en daar lig’n matrand effentjies van die vloer af… Toyota sal dinge fyn moet dophou.
Wat die ontwerp in sy geheel betref, sou die Verso meer pas-sasiersvriendelik gewees het as dit ’n skuifdeur eerder as oopklapdeure aan weerskante gehad het, soos die Mazda 5.


Die goedkoopste model, die 1,6 liter-petrol, kos R243 300. Daar is ook ’n 1,8 liter-petrolmodel (R279 900) of 2,0 liter-dieselmodel (R296 200). Almal het ses ratte.
 


Renault, ja, want sy Grand Scenic kos R291 000. Mazda, nee, want jy kan die puik Mazda 5 met ’n 2,0 liter-petrolenjin vir R244 600 koop.
Ook nie Opel nie, want die 1,6liter-Zafira kos R203 000 en die 1,8 liter-model R225 000.
 


As jy karakter en persoonlikheid wil koop, kry vir jou ’n Italiaanse of Franse motor, maar maak seker jou sussie is met ’n Italiaanse of Franse mechanic getroud. Die Verso is vir gewone mense wat hou van ’n ruim, veilige en betroubare motor.

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Stads-GPS. Helder, breë skerm

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek