Vyf Lekker Vassitte


"Die pad wat tot dusver baie goed was, het in ’n spoor al langs die Oranjerivier af verander..."
zoommore

'Die pad wat tot dusver baie goed was, het in ’n spoor al langs die Oranjerivier af verander...'

1. Die warmste vassit, Richtersveld
Dit was Novembermaand. Ek het pas vier dae in die Richtersveld gekuier en op pad terug die Namakwa 4x4-roete aangedurf. Na twee heerlike nagte by die groot Melkboom my goedjies gepak en verder gery. Die pad wat tot dusver baie goed was, het in ’n spoor al langs die Oranjerivier af verander. Omtrent drie kilometer van die kampeerplek was ’n droë lopie wat nie vir my lekker gelyk het nie, maar die spoor het deur die rivierloop gegaan en almal het gesê die roete is maklik. Ek het dit nie geweet nie maar ek was van die roete af. Na mooi beplanning het ek die droë riviewerloop aangevat. Teen die oorkantste wal het die bakkie skuins gegly en bly sit. Die regter-voorwiel en die linker-agterwiel het skaars grond geraak. Novembermaand langs die Oranje is nie ’n grap nie. Ek moes in stomende hitte die bakkie met die hi-lift jack oplig, klippe onder die wiele inwerk en grond onder ander wiele uitgrawe. Toe die bakkie min of meer gelyk was het ek agteruit teen die wal afgery, en al met die rivierloop gery tot waar ek ’n maklike uitkomplek gekry het.

2. Die koudste vassit, Antarktika
Dit was Septembermaand, 1969 in Antarktika. Ons moes voorraad vir ’n geologiese span in die berge inneem. By ’n berg, Jekselen, moes ons oor ’n groot stuk harde ys ry. Die ys was so glad dat die sleë teen ’n skuinste begin gly het, en die Muskegs (sneeutrekkers) saamgesleep het. Die spore van die Muskegs het geen greep op die harde ys gehad nie. Eers het een slee in‘n skeur in die ys beland, maar ons kon dit redelik maklik uitsleep. Toe gebeur dit weer, en toe ons sien was een van die Muskegs in ’n skeur. Dit was weer nie baie moeilik om die Muskeg met die ander een uit te sleep nie. Wat hierdie vassit so “lekker” maak was dat die temperatuur -35?C was, en die wind het 40-50 knope gewaai.

3. Die maklikste vassit, Verneukpan
Ek was van Kenhardt in die Noord-Kaap af op pad na my geliefde kampeerplek op Verneukpan. Daar was goeie reëns en die veld was nat. Die pad was so modderig en glad dat die bakkie in skaars 3 cm-diep modder tot stilstand gekom het! Ek kon seker probeer het om deur te jaag, of om langs die pad in die veld te ry, maar gedagtig aan stories wat ek gehoor het van voertuie wat weke lank vasgesit het, het ek besluit om ’n sissie te wees. Uitkoms was maklik. ’n Paar grawe grond agter die bakkie se wiele en ek kon maklik agteruit ry, ’n u-draai maak, en via Brandvlei en die Blikkiesmannetjie by Verneukpan uitkom.

4. Die ergste vassit, Walvisbaai
Dis was in die laat 1970’s en ek moes ’n inspeksie by die vuurtoring op Pelican Point by Walvisbaai gaan doen. Die ‘pad’ soontoe is aan my beduie maar ek het dit verkeerd verstaan. Ek moes diepsee toe gedraai het voordat ek by die soutfabriek gekom het, nie daarna nie. Ek was, onwetend, na ’n vleierige pappery op pad. Ander voertuigspore het my aanvanklik gerusgestel, maar ek was ongemaklik en toe ek besluit dis tyd om om te draai was dit te laat. Die Landcruiser was tot op sy maag in die modder. Geen rat, hoë- of laestrek, bande afblaas en oppomp, uitgrawings onder die wiele of ‘gesels’ kon iets aan die Cruiser se lot doen nie. Ek sou moes terug loop Walvis baai toe…
Die eerste hulp wat ek teëgekom het was twee manne in ’n Land Rover. Hulle het my penarie verstaan, maar ek moes op my beurt verstaan dat hulle op pad was om te gaan visvang. Om ’n Cruiser uit die modder uit te grawe was nie op hul agenda nie. Jammer.
Die tweede hulp was ’n voorman by die soutpanne waar groot 4x4-vragmotors sout aangery het. Hy het met ’n rooi Land Rover bakkie al op my spoor gery totdat hy ook vasgesit het. Dit het ons gekos om sand met ’n emmer van duine omtrent vyf kilometer ver aan te dra en agter sy bakkie se wiele te gooi om die water op te droog. Hierna was hy moeg vir my probleem. Hy het soutpanne en vragmotors gehad om toesig oor te hou. Jammer.
Die derde hulp was ’n beampte van Natuurbewaring in ’n Ford F250-bakkie. Ons het genoeg sand by die duine agter in sy bakkie gelaai, en dit agter in die Cruiser se spoor gegooi. Sodoende kon ek agteruit tot op harderige terrein terugstoot. Hy het ook vir my beduie hoe om by Pelican Point uit te kom. Daar was destyds nie paaltjies langs die pad nie en die spoor was onder water, maar ek het sonder probleme tot by die see gery en regs gedraai om strandlangs omtrent 20 km tot by die vuurtoring te ry.
Dit het goed gegaan totdat ek in ’n kol sagte sanderige-skulpies beland het en ek was net-net te stadig om na ’n laer rat te skakel. Redding was op hande in die vorm van twee vistermane in – sak in die aarde weg – ’n Chev Nomad!

5. Die lekkerste vassit, Nieuwoudtville
Ek het in ’n gastehuis suid van Niewoudtsville tuisgegaan. Ek het vroegdag met die bakkie op die plaas gaan rondry. Versigtig deur ’n klein modderige stroompie om na ’n dam te gaan kyk. Die dam was baie mooi geleë en ek het besluit om die aand daar te slaap. Maar ek wou eers die plaas verder verken. Weer versigting deur die modderige stroompie en lekker tot vroegmiddag op die plaas rondgery. Toe draai ek weer dam toe en ry houtgerus op my spore van ’n paar uur vantevore. Ek het my nie oor die modderige stroompie bekommer nie want ek was mos tweekeer al daardeur. Maar toe die bakkie se voorwiele wegsak het ek sommer geweet… Wel, ek het darem eers probeer om modder weg te grawe, om takke onder die wiele in te werk, om die bakkie met ’n katrol uit te trek, om bande af te blaas en weer op te pomp, maar die bakkie het nie een van sy twaalf ratte beweeg nie. Ek moes terugstap na die plaashuis en vra dat die boer my met sy trekker uitsleep.
 

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Stads-GPS. Helder, breë skerm

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek