Liedjies vir die langpad
1. “Ave Maria” (Kiri Te Kanawa)
Hiérdie is een van daardie stilwordsnitte wat die rustigheid innooi en die alledaagsheid verdryf. Trek van die pad af, raak stil en neem die plek in nét waar jy is.
2. “Viva la Vida” (Coldplay)
Die perfékte liedjie vir wanneer jy die langpad aandurf. Die snare, die tromme, die stemme – ideaal vir wanneer die son net-net sy kop uitsteek op ’n dag wat nie anders as heerlik kan uitdraai nie. Draairoomys-lekker!
3. “Beautiful in Beaufort-Wes” (Theuns Jordaan)
’n Road trip in jou binneste. Net die ding vir die pad tussen Laingsburg en Colesberg. Want deur Beaufort-Wes moet jy ry en dan is die Karoo sommer nog méér beautiful.
4. “Goodbye” (Emmylou Harris)
Ai. Pragtig. Hoe verder jy vorder hoe minder maak die huis en die werk se dinge saak. Hiérdie moet jy luister wanneer jy by jou stopplek vir die dag aangekom het, verkieslik met jou tone in die sand, die son wat sak en ’n vuur wat brand.
5. “Soundtracks and Comebacks” (Goldfish)
Luister hierna wanneer daardie piekniek-middagete langs die pad swaar op die ooglede begin lê.
Vir beter vakansiegevoelmusiek gaan jy ver soek. Trots Suid-Afrikaans!


















Kommentaar