Argief - Soek enige artikel uit Weg!

’n Kamera wat jou pas


CANON POWERSHOT A7201S. Die Corolla van die kamerawêreld. Baie goeie foto"s met min moeite.
zoommore

CANON POWERSHOT A7201S. Die Corolla van die kamerawêreld. Baie goeie foto's met min moeite.

OLYMPUS E-410D.  Hy"s lekker lig,  (375g), draagbaar en maklik om te gebruik.
zoommore

OLYMPUS E-410D. Hy's lekker lig, (375g), draagbaar en maklik om te gebruik.

Jy weet watse soort fotograaf jy is. Jy weet jy wil net helder gesinskiekies by die kermis neem. Of dis jou droom om die skaars kalkoenibis in broeityd af te neem. En jy weet hoeveel geld jy het – óf hoe min.
Voor jy ’n kamera koop, kyk eers hier na ons drie kamerakategorieë en besluit in watter ene lê die kamera vir jou. In elke kategorie is na ons mening die vier beste kameras in hulle klas. Let mooi op na die klein verskilletjies tussen die vier, want dit kan maak dat ’n spesifieke kamera dalk net die een vir jou is.
As jy uiteindelik begin rondsnuffel vir die beste prys, besoek ’n hele paar kamerawinkels. Gaan soek selfs by Makro en Game vir die beste prys. Die pryse wat ons gee, is van www.sacamera.co.za


Vir mikkers-en-drukkers

“Kom, staan gou-gou almal vir my hierso voor die afgrond… Raait, sê whisky…”
Jy’s iemand wat by elke bergpas-uitkykpunt, mooi strand of piekniekplek almal op ’n hoop jaag vir ’n gesins- of groepfoto.
Jy soek ’n kamera wat klein genoeg is vir jou baadjiesak en só eenvoudig is dat jy dit net kan aansit en die knoppie druk. Maar jy wil darem ook hê die foto moet duidelik genoeg wees vir Weg se brieweblad.
Wees gerus: Kompakte kameras het tegnologies voortreflik geraak. Hier is vier wat die standaard stel in dié kategorie.

CANON POWERSHOT A720IS
Alles-in-een, Mams

Dié kamera lyk dalk nie so slank en elegant soos die ander in sy klas nie, maar daar’s min wat jy nie met hom kan doen nie. Hy’t ’n lens wat wye foto’s van landskappe kan neem, maar ook by die skoolkonsert kan inzoem.
Hy’s verspot maklik om te gebruik en die prys is goed.
Hiervan hou ons: Die Corolla van die kamerawêreld: Baie goeie foto’s met min moeite.
Dit pla: Hy voel nie so stewig in die hand soos ’n mens sou verwag nie. Dra hom in ’n sak wat goeie beskerming bied as jy vanjaar nog die Kersfeeskiekies wil neem.
Prys: R2 400
Weg sê: Canon weet nou maar eenmaal hoe om bekostigbare kameras te bou wat dekselse goeie foto’s neem. Soos hierdie ene. Jy sal nie spyt wees nie.
Sensor: 8 megaspikkels
Lens: Canon-6x-zoem met optiese beeldstabiliseerder
Batterye: 2 AA-batterye

OLYMPUS MJU 850SW
Bakkies Botha in ’n klein pakkie

Anders as Herschelle Gibbs kan jy dié kameratjie oral met jou saamneem, want dis waterdig en skokbestand. Jy kan dit selfs agter die wors in die vrieskas wegsteek as jy bang is dit word gesteel – dis vriesbestand!
Dis duurder as die Canon en die zoemlens is nie so sterk nie, maar dis ’n kamera wat baie prettig is om te gebruik. Dis byvoorbeeld lekker om met jou kamera die branders in te hol net omdat jy kan, of om ’n foto uit ’n modderpoel te neem. Kortom, Jool-bestand.
Hiervan hou ons: Hy’s regtig stewig. Jy kan daarmee gaan stap, snorkelduik, ski, branderplank ry, klowe uitklouter…
Dit pla: Niks, maar hy sou selfs beter gewees het met ’n sterker zoemlens.
Prys: R3 600
Weg sê: Hy’s ’n taai klein derduiwel, maar dis ook ’n goeie veeldoelige kameratjie om elke dag in jou handsak of jou bakkie se paneelkissie te hê. Olympus het boonop ’n uitstekende reputasie vir skerp lense.
Sensor: 8 megaspikkels
Lens: Olympus-3x-zoem
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

FUJIFILM FINEPIX F31FD
Die fynproewer se keuse

Deesdae is “laeligprestasie” ’n vuurwarm onderwerp in fotografiekringe. Al wat dit eintlik beteken is dat hy goeie foto’s in skemerlig kan neem sonder om ’n flits te gebruik.
Die meeste klein mik-en-drukkameras sukkel in flou lig – foto’s wat nie in helder sonlig geneem word nie, het dikwels ’n spikkelrige voorkoms.
Laeligprestasie het te doen met die grootte van die sensor binne-in die kamera waarop die foto vasgelê word. Kompakte kameras het ’n klein sensor wat nie veel detail in lae lig kan vasvang nie, maar die groot en duur Canons en Nikons wat deur beroepsfotograwe gebruik word, het groot sensors van hoë gehalte.
Fujifilm het vir hierdie kleintjie ’n groter sensor gegee sodat jy pragtige foto’s in flou lig kan neem.
Hiervan hou ons: Jy hoef nie jou vriende se pupille met jou flits te skroei as jy ’n paar kiekies rondom die kampvuur wil neem nie.
Dit pla: Die soeklys is ingewikkeld, en ’n lens wat meer kan inzoem, sal welkom wees.
Prys: R2 900
Weg sê: Dié 6-megaspikkelkamera neem beter foto’s as party van sy mededingers wat 8 megaspikkels uitspoeg. Dit bewys nogmaals dat meer megaspikkels nie noodwendig ’n beter beeldgehalte waarborg nie.
Sensor: 6,3 megaspikkels
Lens: Fujinon-3x-zoem
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

PANASONIC LUMIX DMC-TZ3
Jou reistjommie

Panasonic spog dat hierdie kameratjie die beste reiskamera ter wêreld is – en hulle het ’n punt beet.
Dis so klein soos ’n groterige selfoon, klein genoeg om in jou rugsak se kantsakkie te pas, maar die veeldoelige zoemlens beteken jy kan dit vir byna enige soort fotografie inspan – van kinderpartytjies tot die wildebeesmigrasie in die Serengeti.
Dis ongelooflik maklik om te gebruik: Haal hom net uit, sit hom aan en laat waai.
Hiervan hou ons: Die meeste digitale kameras trek die beeld skeef aan die kante as jy heeltemal uitzoem om ’n wye foto te neem – jy weet mos, sodat dit lyk of die laerskoolkoor se glimlagge op die agterkant van ’n eetlepel weerkaats. Maar nie hierdie Panasonic nie. Die Leica-lens trek nie op enige van sy zoemverstellings die beeld skeef nie – ’n indrukwekkende eienskap vir so ’n buksie.
Dit pla: Die lywige prys.
Prys: R4 300
Weg sê: Klein en onopsigtelik – nuttig as jy ’n struikelende Toks van der Linde in die biertuin wil afneem.
Sensor: 7,2 megaspikkels
Lens: Leica-10x-zoem met optiese beeldstabiliseerder
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

Die gonswoord: ‘Face Detection’
Die jongste gier in digitale fotografiekringe is iets genaamd “face detection”. Al die kompakte kameras hierbo (hiernaas behalwe die Panasonic) het dié funksie.
Wat is dit? Dis slim tegnologie wat uitpluis waar mense se gesigte in ’n foto is en dit met ’n groen vierkant merk. Die kamera werk dan die beste kombinasie van beligting, fokus en flits (indien nodig) uit om seker te maak elke gesig in die foto lyk goed. Rooi oë word outomaties verwyder.
Is dit regtig so wonderlik? Dis nie net ’n foefie nie; dit werk regtig. (Behalwe dalk met Lucas Maree se gesig. – Red.) Maar dis net nuttig as jy mense afneem. As jy landskappe, blomme en mense op ’n afstand afneem, moet jy onthou om die “face detection”-funksie af te sit, anders gaan jy jou kamera se “kop” deurmekaar klits.
Die kersie op die koek? “Face detection” werk ook goed op brakke. Rêrig!

Maak toe


Stil mense, daar gaan (dalk) ’n ghoeroe verby…
Jy’t die basiese fotografiese beginsels onder die knie. Woorde soos sluiterspoed, lensopening en fokusdiepte maak jou nie meer verbouereerd nie.
Jy plaas jou puik foto’s van die wildtuinvakansie,die skooloperette en Amalia se laaste vier netbaldoele op die internet sodat jou vriende en familie dit ook kan geniet.
Jy voel jou getroue ou mik-en-druk beperk jou. Jy’t ’n lens nodig wat ’n olifant verder as 50 m van die kar af bietjie nader kan trek, maar jy wil ook darem nie drie lang lense en ’n industriële driepoot saam met jou sleep nie.
Jou kamera moet jou ook meer vryheid en beheer gee sodat jy die sluiterspoed en lensopening met die hand kan stel om daai nabyskoot van die impalalelie net mooi reg te kry soos jy dit wil hê.
Die kamera wat jy nodig het, staan deesdae as ’n superzoem bekend – dis eintlik ’n kompakte kamera, maar effens te lywig om in jou hempsak te dra. Dit het ’n groter en veeldoeliger lens en dit gee jou die vryheid om meer van die funksies self te beheer.
Hier is vier van die bestes.

FUJIFILM FINEPIX S1000FD
Cheap, maar lekker!

Dié Fujifilm is moontlik die kleinste superzoemkamera wat ’n mens kan koop. Dis soos ’n middelslag-lemoen in jou hand, maar hy’s so swaar soos drie lemoene. Die prys is boonop in dieselfde klas as kleiner mik-en-drukboksies, al het die kragtige lens veel meer woema by die watergat. En hy’s so maklik om te gebruik soos ’n kramkettie.
Hiervan hou ons: Jy kan die Drakensberg doer in die verte in seksies afneem, en dit baie maklik met die kamera se panoramiese funksie aanmekaar “plak” vir ’n wye saamgestelde skoot. Dis vet pret!
Dit pla: Selfs van die kleinste kameras het deesdae sogenaamde beeldstabiliseerders wat jou bewerasies teenwerk sodat jy steeds skerp foto’s neem as jou hand effens beweeg. Dié kamera het dit nie[italics] en daarom raak die beeld vinnig greinerig as daar min lig beskikbaar is.
Die rede daarvoor is nogal tegnies: Omdat daar nie ’n beeldstabilkiseerder is nie, kies die kamera outomaties ’n vinnige sluiterspoed en ’n hoë ISO (sensorsensitiwiteit).
Prys: R2 700
Weg sê: ’n Beginner se droomkamera, maar moenie in skemerlig tot die uiterste inzoem nie.
Sensor: 10 megaspikkels
Lens: Fujinon-12x-zoem met digitale beeldstabiliseerder; 33-396 mm-zoemlens.
Batterye: 4 AA-batterye

PANASONIC LUMIX DMC-FZ8
Die werkerby

Dié kamera is effens groter as die Fujifilm, effens ligter (310 g) en hy voel stewig. Dit het ’n uitstekende Leica-lens en 20 voorafingestelde mik-en-drukopsies, soos “portret”, “partytjie”, “strand” en “kos” en ook lawwighede soos “sagte vel”.
Die beeldstabiliseerder werk goed – ’n mens neem deurgaans skerp foto’s met die Panasonic, selfs wanneer jy die maksimum zoemfunksie gebruik.
Hiervan hou ons: Die kamera laat jou toe om foto’s in die sogenaamde RAW-formaat te bêre en nie net die algemene JPEG nie. RAW is die hoogste formaat wat jou toelaat om agterna met die foto te woeker. (Beroepsfotograwe verkies RAW omdat dit hulle toelaat om beligtings- en kleurfoute in die redigeringsproses reg te stel en om meer detail uit donker dele van die foto’s te “lig”.)
Die sagteware om die RAW-foto’s om te skakel is deel van die pakket wat jy koop.
Dit pla: Die beeldgehalte is nie té waffers in swak lig nie, maar hy vaar darem nou ook nie vrot nie.
Prys: R3 800
Weg sê: Die Panasonic word baie hoog aangeskryf deur die gesaghebbende webwerf dpreview.com. Hulle meen dis ’n uitstekende veeldoelige kamera teen ’n billike prys en met tegnologie wat jy in veel duurder kameras sou verwag.
Sensor: 7,4 megaspikkels
Lens: Leica-12x-zoem met optiese beeldstabiliseerder, 36-432 mm-zoem
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

CANON POWERSHOT S5 IS
Amper ’n groot kanon…
As daar nou een ding is wat dié Canon van ander kameras onderskei, is dit hoe lekker en logies die kamera is om te gebruik. Dis duidelik Canon bou nie van gister af kameras nie. Elke knoppie of wielietjie of hefboompie het ’n duidelike funksie en dit sit op ’n logiese plek.
En dis asof die kamera jou aanpor om self beheer te neem oor dinge soos die sluiterspoed en lensopening. Die “manual”-funksie is nie iewers in ’n kieslys weggesteek nie – dit soebat jou om daarmee te eksperimenteer.
Hiervan hou ons: Niemand hoef oortuig te word van die beeldgehalte van Canon-kameras se foto’s nie, maar hierdie meneertjie kan nog ’n uitstekende video ook maak wanneer die buffels besluit om die leeus ’n les te leer.
Dit pla: Die zoemlens se wye kant kon ’n bietjie wyer gewees het. Die lywige niggie op die punte sal ’n bietjie moet inskuif as jy ’n groepsfoto neem.
Prys: R4 100
Weg sê: Jy gaan nie binne ses maande hierdie kamera se volle potensiaal benut nie. Hy kan ’n paar jaar saam met jou loop.
Sensor: 8 megaspikkels
Lens: Canon-12x-zoem met optiese beeldstabiliseerder; 36-432 mm
Batterye: 4 AA-batterye

OLYMPUS SP-570UZ
Die grootmeneer

Wat?! ’n 20x-zoemlens? Dit laat ’n mens dink aan daai oom wat gesê het sy nuwe verkyker bring die bok soveel nader, hy sny sommer sy keel met sy knipmes af!
As dié meneer’n los lens was, sou dit een van daai kanonne gewees het wat jy net by duur Duitse veldwaens se getinte vensters sien uitsteek by die watergate. Op sy langste zoem is dit ’n 520 mm-lens – die sterkste zoemlens van enige beskikbare kompakte kamera. Veral voëlfotograwe sal dié vermoë waardeer.
Maar wees gewaarsku: Hoewel Olympys se beeldstabiliseerder goed genoeg werk, is dit die beste om ’n boontjiesak of driepoot te gebruik as jy inzoem – selfs nie eens Vernon Koekemoer kan ’n kamera heeltemal stil hou nie.
Hiervan hou ons: Omdat jy ook lekker wyd kan uitzoem met dié lens, kan jy ook puik landskapsfoto’s neem met die Olympus.
Dit pla: Geen herlaaibare battery, wat belaglik is vir ’n kamera in dié prysklas.
Prys: R5 700
Weg sê: As jy die gelykstaande los Olympus-telefotolens vir ’n beroepskamera koop, sal dit jou R87 600 uit die sak jaag…
Sensor: 10 megaspikkels
Lens: Olympus-20x-zoem met optiese beeldstabiliseerder, 26-520 mm
Batterye: 4 AA-batterye

Die gonswoord: Beeldstabilisering
As jy ’n superzoem gaan koop, moet jy doodseker maak dit het een of ander beeldstabiliseringstelsel sodat jou foto’s nie bederf word weens kamerabeweging nie.
Opties of digitaal? Jy kry twee soorte beeldstabiliseringstelsels: digitale en optiese stabilisering.
Wat’s die verskil? Digitale stabilisering is ’n foefie. Dit jaag die sensor se ligsensitiwiteit op (verhoog die ISO) sodat jy ’n vinniger sluiterspoed kan gebruik. Hoe vinniger die sluiterspoed, hoe skraler is die kans dat jou foto’s sal blur.
Daarteenoor is optiese stabilisering ’n slim meganiese stelsel in jou lens wat jou handbeweging teenwerk wanneer jy fokus.
Maar? Digitale stabilisering het meestal ’n negatiewe uitwerking op die foto se gehalte omdat die hoër ISO meer greinerige foto’s veroorsaak. Optiese stabilisering werk altyd beterm en dis hoekom jy dit in die duurder kameras kry.
As jy twyfel? Gebruik ’n boontjiesak of driepoot. Behoorlike kamera-ondersteuning is die enigste manier om beweging heeltemal uit te skakel.

Maak toe


Vir beroepsfotograwe in wording

Jy droom in foto’s. Die winkelassistent by die Foto First skarrel badkamer toe as jy aankom – om jou kruisondervraging vry te spring. Jy besoek elke dag heel eerste ’n kamera-resensie op die internet. Vakansietye verdwyn jy hier teen sononder vir ure – jou vrou moet vuurmaak… die braaivleis is laat… die kinders skreeuend en honger…
Maar jy word meestal vergewe wanneer jy vir haar die koedoe-silhoeëtfoto op die kamera se skermpie wys. Jy hou van ’n digitiale SLR (’n kamera waarvan jy die lense kan ruil), want dit voel nes ’n filmkamera van ouds, soos een van daai ou Nikons wat ka-tjienk gemaak het wanneer jy die sluiter druk. Jy kan ook ’n doelgemaakte lens vir elke soort foto opsit. (Jou vrou weet dit nog nie, maar die Venter is reeds in die Junkmail geadverteer met die oog op daai nuwe makrolens op die mark…)
Digitale SLR-kameras is nie meer net vir beroepsfotograwe en ryk entoesiaste nie. Die pryse het die afgelope paar jaar getuimel en ’n behoorlike intreekamera met ’n standaardlens is net ’n knertsie duurder as ’n superzoem- of kompakte kamera. Hier is die beste opsies vir beginners.

PENTAX K100D
Prys én gehalte

Onthou jy dalk jou pa se bekostigbare ou staatmaker filmkamera, die Pentax K1000… die kamera wat jy tussen skote vir selfverdediging kon gebruik? Wel, Pentax-kameras is steeds die Wikus van Heerden van die kamerawêreld: stewig, eerlik en goed.
Die K100D is die goedkoopste digitale SLR op die mark, maar dit beteken nie hy’s van blik nie. Dit het alles wat jy nodig het: tegnologie wat kamerabeweging teenwerk, ’n sensor wat helder foto’s selfs in lae lig kan vaslê, en ’n lens van goeie gehalte. Dié kamera is in sy prysklas sonder weerga.
Hiervan hou ons: Met die geld wat jy spaar, kan jy nog ’n lens koop.
Dit pla: Die soeklys het blykbaar sy klinkers verloor om plek te spaar. Hoe klink “Cntnuos expsr” vir jou? (Vir my klink dit soos ’n SAUK-stemverslag. – Red.)
Prys: R5 000
Weg sê: Mense dink dikwels Pentax-kameras is nie so goed soos ’n Canon of ’n Nikon nie. Dis ’n jammerte. As jy ’n kans wil vat met ’n “kleiner handelsmerk,” is Pentax jou vriend.
Sensor: 6,1 megaspikkels
Lens: Pentax-18-55 mm-zoem
Batterye: 4 x AA-batterye

NIKON D40
Die gawe kêrel

Nikon se intree-SLR, die D40, is so vriendelik hy skud amper jou hand – dié kamera se knoppies en hefboompies sit net waar jou vingers hulle instinktief gaan soek.
Boonop is Nikon bekend vir bougehalte en dié een is geen uitsondering nie. Dink Hilux-bakkie. In die hand voel hy selfs stewiger as sy voorgangers.
En as jy gewonder het, 6,1-megaspikkels is genoeg, behalwe as jy National Geographic-gehalte plakkate vir die koekverkoping wil druk…
Hiervan hou ons: Die LCD-skerm agterop die kamera is groot en helder en jy kan dit uit ’n skerp hoek sien, selfs in helder sonlig.
Dit pla: Nikon het die tradisionele inligtingskerpie bo-op die kamera weggedoen – al die skietinligting word nou op die agterste skerm vertoon.
Prys: R6 000
Weg sê: Die Nikon is net die regte kamera as jy nog nie ’n SLR besit het nie. As jy moeg is vir eksperimenteer, stel hom op outomaties, en jy’t ’n baie goeie mik-en-druk.
Sensor: 6,1 megaspikkels
Lens: Nikkor-18-55 mm-zoem
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

CANON EOS 400D
Die topverkoper

Canon is die onbetwiste koning in hierdie mark. Dis ook die eerste vervaardiger wat die SLR na die massamark gebring het met die EOS 300D – in 2003. Dis vyf jaar later en nou het ons die 400D.
Die Pentax en Nikon in hierdie klas is gebou vir gebruikers wat opgradeer van outomatiese mik-en-druk kameras.
Die Canon is ietwat meer gesofistikeerd – al die handverstellings is van meet af aan beskikbaar.
Hiervan hou ons: Baie goeie foto’s. Die hoëresolusiesensor sorg vir korrelvrye foto’s van gehalte – selfs in swak lig.
Dit pla: Die lens wat jy in die standaardpakket kry, is teleurstellend. Koop eerder net die kamera (R6 000) plus ’n beter lens soos die Sigma 18-125 mm (R3 000).
Prys: R6 400
Weg sê: Jy kan nou die 400D oral goedkoop kry omdat die nuwe model, die 450D, pas bekend gestel is.
Sensor: 10,1 megaspikkels
Lens: Canon-18-55-mm zoem
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

OLYMPUS E-410D
Die Ricky Januarie van kameras

Dit lyk of Olympus hom daarop toespits om sy kameras kleiner en ligter te maak. Die elektroniese sensor in die kamera wat die beeld vasvang, is kleiner as die mededingers s’n, en die zoemlens is besonder klein.
Hy’s lekker lig (375g), draagbaar en maklik om te gebruik.
Hiervan hou ons: Met digitale SLR’e is dit moeilik om die sensor binne-in die kamera skoon te maak en skoon te hou. Die Olympus se sensor kan vibreer en sommer self die stof afskud! Koebaai swart kolletjies oral oor die helderblou baai.
Dit pla: Die battery-leeftyd is nie so lank soos sy mededingers s’n nie.
Prys: R6 900
Weg sê: Die kleiner sensor klink verdag, maar die beeldgehalte is net so goed soos die mededingers s’n.
Sensor: 6,1 megaspikkels
Lens: Olympus-14-42-mm-zoem
Batterye: Herlaaibare litium-ioonbattery

Wat is die voordele van ’n SLR?
Wat jy deur die beeldsoeker van ’n SLR-kamera sien, is ’n akkurate beeld van wat jy gaan afneem – daar’s geen elektroniese inmenging nie. Daar is ook geen vertraging tussen die oomblik wat jy die knoppie druk en wanneer die vasgelê word, soos met goedkoper mik-en-druk kameras nie.
Omdat ’n SLR ’n verskeidenheid lense kan vat – van telefoto- tot nabymakro- en wyehoekvisooglense – werk dit vir amper enige soort fotografie.
Enigiets negatiefs? ’n SLR-kamera is groot. Jy kan hom nie in jou baadjiesak inglip en Dros toe neem nie. Jy moet ook fisiek deur die beeldsoeker kyk, wat jou raamopsies beperk.
’n Mik-en-druk met ’n kantelskerm is veeldoeliger – jy kan foto’s uit interessante hoeke neem, soos ’n armlengte bo jou kop by die Robbie Williams-konsert.
Wat van ‘Live View’? Dié nuwe tegnologie word deesdae die norm op die duurder digitale SLR’e (net die Olympus E-410 van die modelle hierbo het “Live View”): Dit gee jou die opsie om ’n foto óf met behulp van die LCD-skerm te neem óf op die konvensionele manier deur die beeldsoeker.

Maak toe

Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Equipmentarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek