Canyon CNS Sporthorlosie
Getoets deur Mark Johnston
Eerste indrukke?
Dis ’n slim horlosie dié. Behalwe die gewone goed – tyd, datum en stophorlosie – kry jy ook ’n hoogtemeter, termometer, kompas, barometer en weervoorspeller. Canyon noem dit ’n sporthorlosie, maar ek reken dis vir stappers en kampeerders wat heeltyd wil weet wat om hulle aangaan.
Hoe goed werk dit?
Sover ek kon vasstel, is die sensors akkuraat. Op ’n staptog het dit die hoogteverskille getrou aangedui namate ons geklim of gedaal het. Ek kon nie die lugdruklesing bevestig nie, maar die
“weervoorspeller”, wat die lugdruk gebruik om voorspellings oor sonskyn, wolke en reën te maak, was meestal in die kol.
Enigiets wat pla?
Die termometer word deur jou liggaamstemperatuur beïnvloed en is net akkuraat wanneer jy die horlosie afhaal. Ek kon ongelukkig nie die kompas toets nie omdat ek nie kon uitpluis hoe om dit te kalibreer nie. En dit is my grootste beswaar: Dié ding het so baie funksies, spyskaarte en subspyskaarte dat dinge op die ou end te ingewikkeld is. Die handleiding het my gehelp, maar partykeer het dit my net meer verwar.
Prys: R600
Kontak: ASBIS Africa 011 848 7061; lee-anne.hutchins@asbis.co.za.



















Kommentaar